Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Allan Gray vra orkes-hoof om bewerings te staak
Chris Lodewyk Foto: Facebook

Die beleggingsfirma Allan Gray se regspan het die voorsitter van die Moederstad-orkes (MCO) versoek om “vals bewerings” oor sy beweerde beleggings by dié firma te staak.

Chris Lodewyk, die orkes se voorsitter en medestigter, het in ’n brief aan die orkes beweer dat hy via die Lodewyk-familietrust in besit is van R4,2 miljoen (sic) wat by Allan Gray belê is – R2 miljoen in ’n Orbis Global-aandelefonds en R2 318 000 in ’n Orbis Optimal SA-fonds, soos op 27 Mei 2018. Lodewyk het ’n sertifikaat wat dié bedrae glo bevestig by die brief aangeheg.

’n Woordvoerder van Allan Gray het egter per e-pos aan Netwerk24 gesê dié beleggings bestaan nie.

“Allan Gray kan bevestig dat nóg mnr. Chris Lodewyk, nóg die Lodewyk-familietrust beleggings by Allan Gray het.

“Ons is bewus daarvan dat mnr. Lodewyk vals bewerings oor beweerde beleggings by Allan Gray gemaak het, en ons regspan was in kontak met hom oor die kwessie.

“Ons het mnr. Lodewyk versoek om enige verdere vals bewerings oor die beweerde beleggings by Allan Gray te staak. Ons regspan monitor die situasie.”

Lodewyk het Vrydag aan Netwerk24 gesê hy kan bevestig dat hy ’n skrywe in dié verband van Allan Gray ontvang het, maar hy kan hangende “komende hofgedinge” nie in hierdie stadium verder kommentaar lewer nie.

Hy het bygelas hy sal wel later inligting beskikbaar stel wanneer hy uit ’n regsoogpunt in ’n posisie is om dit te doen.

“Die volle waarheid moet inderdaad een of ander tyd bekend word.”

Netwerk24 het in Mei berig dat die MCO weens finansiële probleme geskeur het – dít net sowat ’n maand nadat die orkes sy debuut op 3 April met ’n kitsskare-vertoning in die Tygervallei-winkelsentrum in Kaapstad gemaak het.

Xavier Cloete, die orkes se medestigter en dirigent, en 31 van die orkes se 42 lede het glo die pad gevat nadat Lodewyk die orkes op 30 April per brief ingelig het dat hy nie voor betaaldag sy hande op genoeg geld kan kry om hul eerste salaris te betaal nie. Hy het aan Netwerk24 gesê dié bedrag beloop R350 000 per maand.

Lodewyk skryf in dié brief, wat in Netwerk24 se besit is, dat hy beplan het om hul salaris met die betwiste belegging te betaal, maar dat hy “volgens hulle (Allan Gray)” 120 dae moet wag om toegang tot die fondse te kry omdat die geld glo in die buiteland belê is. Hy sou ook glo ’n boete van 10% moes betaal om die fondse vroegtydig te onttrek.

Die brief lui verder dat Lodewyk sy regsverteenwoordiger opdrag gegee het om Allan Gray op 3 Mei in die hof aan te hits om die geld vinniger uit te betaal – maar sy skrywe was glo nie genoeg om onrus en, in sy eie woorde, “faksies” in die orkes te keer nie.

Lodewyk het in Mei aan Netwerk24 gesê dat Cloete sy bedanking op 17 Mei ingedien het nadat hy (Cloete) en die 31 orkeslede glo op 3 Mei deur die musiekskool CP Music (Pty) Ltd. in Kaapstad aangestel is om ’n nuwe orkes te begin.

Charl Paulse, eienaar van die musiekskool én ’n voormalige altvioolspeler in die MCO, skryf in ’n brief, wat Lodewyk aan Netwerk24 verskaf het, dat Cloete en die 31 orkeslede die MCO verlaat het om ’n groepsgeding teen Lodewyk van stapel te stuur. Hulle het Lodewyk in die brief ook van bedrog, laster en kontrakbreuk beskuldig.

Lodewyk het bedrog en laster ontken, maar weens die niebetaling van die orkes se salaris gesê hy begryp die klagte van kontrakbreuk.

Reaksie op van Lodewyk se bewerings

Netwerk24 het Cloete, Paulse en adv. Clynton Poole, hul regsverteenwoordiger, op 19 Mei om kommentaar genader, maar hulle wou nie in daardie stadium kommentaar lewer nie.

Cloete, Paulse en Poole is Vrydag weer om kommentaar genader en hulle het dié keer gesê hulle sal op ván die bewerings reageer – maar nie ál die bewerings nie.

Xavier Cloete Foto: Johannes Kaarakainen

Poole skryf in ’n e-pos hy verteenwoordig Cloete, Paulse en “meeste van die MCO se lede”, en dat hulle die beriggewing oor die debakel in die media dopgehou het.

Hy het bevestig dat Lodewyk wel ’n brief aan die (voormalige) MCO-lede verskaf het waarin beweer word hy het beleggings van meer as R4 miljoen by ’n beleggingsfirma, asook dat hy (Lodewyk) glo sy regsverteenwoordiger opdrag gegee het om Allan Gray in die hof aan te hits – die saak sou glo op 3 Mei in die hooggeregshof in Kaapstad aangehoor word.

Poole beweer hy het intussen self ’n geskrewe bevestiging van Allan Gray ontvang dat die beleggings nie bestaan nie, ook dat daar glo nooit so ’n saak in die hooggeregshof voorgekom het nie.

“Dit is daarom duidelik dat mnr. Lodewyk geen voorneme gehad het om die orkeslede te betaal nie, dat hy ’n dokument van ’n beleggingsfirma vervals het, en dat hy gelieg het oor ’n hofaansoek in die hooggeregshof. ’n Saak van bedrog word tans deur die polisie ondersoek.”

Talle van die orkes se lede het hul tuisdorpe verlaat en heeltydse werk prysgegee om in die orkes te wees. Nou is hulle uitgelewer, sonder geld om hul huurkontrakte te betaal, kos en elektrisiteit te koop, of selfs huis toe te kan reis.

Poole sê verder in sy kommentaar aan Netwerk24 dat Lodewyk se weergawe van verwikkelinge “verkeerd” is. Hy wei nie daaroor uit nie, maar sê wel wat Lodewyk ook oor die betaling van salarisse erken het: Niemand is nog betaal nie.

“Talle van die orkes se lede het hul tuisdorpe verlaat en heeltydse werk prysgegee om in die orkes te wees,” sê Poole.

“Nou is hulle uitgelewer, sonder geld om hul huurkontrakte te betaal, kos en elektrisiteit te koop, of selfs huis toe te kan reis.

“Die orkeslede gaan hulle binnekort tot skarefinansiering wend in ’n desperate poging om te oorleef.”

Poole beweer ook dat Lodewyk aangehou het om ná 30 April kaartjies vir MCO-konserte te verkoop, terwyl hy daarvan bewus was dat die orkes weens die skeuring nie meer enige konserte sal kan aanbied nie.

Lodewyk het voorheen aan Netwerk24 gesê hy het óf konserte afgestel óf konserte na later in die jaar aangeskuif omdat hy nooit amptelik van enige van die orkeslede se bedanking ingelig is nie, die MCO na sy mening daarom nooit amptelik ontbind het nie, en hulle daarom wel nog in staat is om later in die jaar konserte aan te bied.

“Daar is sedert 30 April géén verdere kaartjies verkoop nie,” sê hy.

Meer oor:  Musiek  |  Allan Gray  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.