Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Amanda bring bekroonde ‘Boksemdaais’ PE toe
Amanda Strydom (60) keer eersdaags na die Baai terug met ’n Fiësta-bekroonde produksie, Die hele boksemdaais. Coenraad Rall sal haar begelei.

Wanneer sy “Slippers van satyn” op ’n Nederlandse verhoog sing, sing die gehoor harder terug – maar selfs met dié verwelkoming sal Port Elizabeth altyd vir Amanda Strydom ’n huis wees.

Só het Strydom (60) vanuit Potchefstroom oor haar tuisdorp gesê waar sy later vandeesmaand haar Fiësta-bekroonde produksie Die hele boksemdaais opvoer.

“Die Oos-Kaap is in my bloed, want dit het die beste strande en die beste herinneringe,” vertel sy, en selfs oor die telefoon straal sy wanneer sy van die Baai praat. “Ek onthou toe die huise wat langs Kaapweg in ondernemings omskep is nog huise was. As ons daar gery het, het ek as kind uit die agtersitplek van my pa se motor na die huise gestaar. Dan het ek gedroom dat ek eendag in een van dié grênd huise sou woon.”

Sy was verlede November in Port Elizabeth vir die heropening van die Baaise operahuis, en in Junie moes sy terugkeer vir die begrafnis van haar beste vriendin. “Dit was hartseer, maar ook baie mooi, want al die vriende van my kinderdae kon weer saamkom. Dit bring baie herinneringe terug, veral met Tony’s-kafee, wat steeds reg oorkant die PE-Wes-gemeente staan. Daar het ons as stoute kinders gereeld ons kollektegeld bestee.”

Sedert sy dekades gelede uit Port Elizabeth weg is, het Strydom ’n sonderlinge loopbaan uitgekerf en ’n skatkis herinneringe opgebou. “Elke produksie waarby ek betrokke is, is eintlik kosbaar, maar sommiges staan natuurlik uit: die televisiereeks 1922, waarin ek ’n Poolse vrou vertolk het, die toneelstuk Voor ek vergeet, wat ek saam met Hannes van Wyk na die Baaise verhoog gebring het, en al my optredes in Nederland was fantasties.

“Nog ’n hoogtepunt was toe ek plattelandse Spaans moes leer om klassieke Spaanse liedjies by ’n optrede te voeg. Vir drie maande het ek myself toegesluit in ’n ateljee om dit onder die knie te kry, met die hulp van Dawid Minnaar, wat in dié stadium ook Spaans moes leer. Dít was ’n hoogtepunt, omdat ek aanvanklik vas oortuig was dat ek dit nie sou kon doen nie.”

Ook haar optrede by die Koninklijk Theater Carré in Nederland tel onder haar gunstelingmylpale. “Dit was die verhoog waaroor ek vir jare gedroom het. Carnegie Hall was nie vir my beskore nie, want ek sing in my eie taal. Wie sou daar vir my kom luister? By dié teater het van die grootste internasionale sterre al ’n draai gemaak, en toe kon dié Boertjie ook op die verhoog klim.”

Ná 37 jaar het ek begin dink die werk sal een of ander tyd opdroog, maar die gehore bly kom en dit is wonderlik.

Hopelik kan sy nog vir baie jare die Afrikaanse taal uitleef, voeg sy by. “Ek leef reeds my droom, want op 60-jarige ouderdom doen ek wat ek wil doen, en ek sal liedjies en teaterstukke skep vir solank dit my nog beskore is.

“Ná 37 jaar het ek begin dink die werk sal een of ander tyd opdroog, maar die gehore bly kom en dit is wonderlik. Ek kan in elk geval nie lank stilsit nie, dan raak ek vreemd. Ek het ook jare gelede besef ek het ’n talent ontvang, maar dit is my plig om dit te gebruik om die mense te dien wat die kaartjies koop en die vertonings bywoon.”

Sy skryf ook haar musiek vir dié mark. “Dit is verblydend om te sien hoe ons land sy eie kunstenaars koester, maar daar is ook gemors op die mark. Die gebrek aan goeie lirieke en goeie Afrikaans is skokkend. My liedjies is eerder stories wat vertel word as dansmusiek. Jy sal nie ’n ‘rokkie’, ‘bokkie’, ‘sokkie’ of ‘klokkie’ in my liedjies vind nie.”

Vir haar bly dit, selfs 30 jaar sedert sy die titel van “Amandla” Strydom verdien het, belangrik om oor die land se probleme te praat. “Elke kunstenaar kan self kies of hy iets wil sê deur sy musiek, en of hy op die kantlyn wil bly. Dit is egter deel van my bewussyn om te sien wat om ons gebeur, en ek sal altyd skryf daaroor, sonder om te affronteer of te preek, maar op ’n manier wat ander mense sal laat sê ek het presies geskryf hoe hulle voel oor die saak.”

Oor die nalatenskap wat sy aan die einde van haar loopbaan wil laat, aarsel sy nie. “Mense moet van my kan sê: ‘Sy het nooit haar siel verkoop nie.’ Ek weier al my hele lewe lank om dit te doen, en tot dusver het ek nie te sleg gevaar nie.”

* Die hele boksemdaais is op 18 Oktober te sien by die Little Theatre in Sentraal. Die vertoning begin om 19:00 vir 19:30. Kaartjies kos R140 elk en is beskikbaar by Westway-kafee. Kontak Hellen by 041 365 0217 vir besprekings.

Meer oor:  Amanda Strydom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.