Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Amandala wil nou eers voete vind in SA
Amanda Lamprecht. Sy woon reeds 15 jaar in Seattle en het daar al naam gemaak met optredes.

Op ’n reënerige verlangdag in Seattle het Amanda Lamprecht (verhoognaam Amandala) haar eerste Afrikaanse liedjie geskryf – “Knoop my hart aan jou baadjie”.

Nou is sy vir ’n rukkie terug in Suid-Afrika waar sy haar eerste Afrikaanse album, Alles Wat Jy Lief Het, kom bekend stel het en waar sy op ’n meer vrolike noot ’n musiekvideo in Jeffreysbaai geskiet het.

Sy woon reeds 15 jaar in Seattle en het daar al naam gemaak met optredes. Sy het ook pas haar Engelse album, Far & Wide, oorsee uitgereik.

“Hierdie jaar het ek twee albums gemaak op twee kontinente in drie verskillende ateljees. Nou gaan ek eers fokus om my voete te vind in Suid-Afrika en daarna sal ek weer in Seattle aangaan waar ek dinge gelos het. My Engelse album het op 30 Maart uitgekom en is bekend gestel met ’n uitverkoopte optrede in Seattle se pragtige Triple Door. Ons was agt musikante. Ek het vleuelklavier, Indiese harmonium, klawerbord en akoestiese kitaar gespeel. Trey Gunn, wat vir King Crimson gespeel het, het die aand geopen. Letterlik die dag daarna was ek op die vliegtuig op pad Stellenbosch toe om my Afrikaanse album klaar te maak.”

Sy het haar Afrikaanse album by Earwig Studios in Seattle én by Sunset Recording Studio in Stellenbosch opgeneem en musikante van Seattle en Stellenbosh speel daarop. Sy beskryf dit as ’n Seattle-klank vermeng met Afrikaans en met Suid-Afrikaanse musiekinvloede.

Amandala se liefde vir die Oos-Kaap lê diep. Sy het juis die musiekvideo in Jeffreysbaai kom skiet omdat hier soveel kleintydherinneringe vir haar is. Sy het regte aan die Nelson Mandela-Universiteit studeer.

Toe sy in Amerika kom, is sy nie toegelaat om te werk nie, maar van stilsit was daar nie sprake nie. Uit vrywillige werk in ’n gesondheidsentrum het ’n liefde vir joga ontwikkel. Sy het toe joga in Seattle en later in Indië bestudeer en beskik tans oor die hoogste kwalifikasie in joga wat ’n instrukteur by die Yoga Alliance van Amerika kan hê.

Toe kanaliseer sy ook haar energie na acutonics. Dis baie soos akupunktuur, maar in plaas van naalde word stemvurke teenaan die vel gehou, verduidelik sy. Groot Tibettaanse komme en gongs word ook gebruik.

Sy het altyd musiek gemaak en in Seattle vir punk goth-, indie- en rock-groepe gespeel. Sy het drie jaar gelede besluit om haar eie musiek te maak.

Tipies met haar ondernemingsgees en energie het sy informele musiekvideo’s van haar optredes gemaak en dit na London Bridge Studio gestuur. Hier het dit die aandag van Jonathan Plum vasgevang en hy wou ’n album saam met haar opneem. Dit eindproduk is Far & Wide.

“Ek het Afrikaanse liedjies tussendeur geskryf. Dit was vir my soos terapie tussen elke week se opnames. Hoe meer ek komponeer het, hoe meer kreatief het ek geraak. Toe ek ‘Knoop my hart aan jou baadjie’ geskryf het, kon ek nie ophou huil nie, maar ek het toe ook geweet hier begin my Afrikaanse album.”

Mense vergelyk haar musiek soms met dié van die Cranberrys en self met Björk.

“Ek weet nie. Lirieke is vir my baie belangrik. Ek hou van goeie en sterk lirieke. My sangstyl is eerlik en sonder aansit en pas by die musiek van die album.

“Ek kan my Broadway-stem of selfs operastem uithaal, maar miskien wag dit vir my volgende albums. Vir nou het die liedjies vir hierdie stem gevra.”

  • Amandala se album Alles Wat Jy Lief Het is beskikbaar op iTunes.
Meer oor:  Onderhoud  |  Sangeres
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.