Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Amira hou haar eerste stroom-konsert

Die Nederlandse sangeres Amira Willighagen se eerste solokonsert, “met ’n bietjie uplifting songs vir hierdie tyd”, word in September deur Optog! gestroom.

Dream With Me is onlangs in die Atterburyteater in Pretoria verfilm. Sy sing alleen, maar deel die verhoog met die pianis Charl du Plessis en die violis Lizelle le Roux.

Amira Willighagen Foto: Optog!

Optog! het haar besprekingsagent, Rosa Kleyn, oor die moontlikheid van so ’n konsert gekontak.

“En dit was eintlik vir my baie lekker, want gedurende die inperking kon ek nie optree nie,” sê Willighagen (16), wat op nege die talentsoekprogram Holland’s Got Talent gewen het.

Sedertien het sy met haar operastem al in verskeie lande opgetree en is sy verlede jaar as die International Mediterranean se beste vroulike operaster aangewys.

“Ek het nie eens geweet of ek ’n stromingskonsert sal kan doen nie,” sê Willighagen, wat deesdae in Potchefstroom (waar haar ouma aan moederskant gewoon het) woon en ’n gr. 10-leerling aan die Hoër Volkskool is.

Sy sing 11 liedjies, waarvan sy tien nog nooit voorheen gesing het nie.

“Ek sing ’n klassieke Afrikaanse liedjie, waarvan Afrikaanse luisteraars dalk sal hou. Daar is crossover-liedjies en ’n operaliedjie. En liedjies uit musiekspele. Ek hou van al daardie soort liedjies en om hulle ’n bietjie my eie te maak.

“Dit is uplifting songs vir dié tyd. Dat mense weer kan hoop kry. So ek dink as mense klaar daarna geluister het, gaan dit ’n mengsel wees van trane en blydskap.”

Sy het vooraf die liedjies in die konsert saam met haar Nederlandse sangjuffrou, Marijke Hocksbergen, ingestudeer.

Willighagen het die opname van die konsert baie geniet.

“Dit het net weer bewys hoe goed die gehalte in Suid-Afrika is. Die mense is so professioneel. Charl en Lizelle het letterlik … ek het so twee of drie dae voor die tyd vir hulle backtracks gestuur. Charl het die bladmusiek geskryf en dit dieselfde dag vir Lizelle gegee en hulle kon dit dadelik speel. Daar is nie ’n enkele violis of pianis in Nederland wat dit kan doen nie.

“Ek sal nie sê ek het geskrik nie, maar daar was seker tien kameras op my.”

Willighagen het ook in Potchefstroom die Stichting Gelukskinders-liefdadigheidsprojek begin waarmee speelparke vir behoeftige skoolkinders gebou word.

Tot dusver is 13 parke in die Ikageng-gemeenskap in Potchefstroom gebou.

Amira Willighagen se eerste solokonsert word in September deur Optog! uitgereik. Foto: Optog!

“Ons het met my 16de verjaardag baie skenkings wêreldwyd gekry, waarmee ons nog drie parkies sal kan bou. So ek het 16 geword en ons sal 16 parkies hê.”

Haar 16de verjaardag op 27 Maart was op die eerste dag van die staat van inperking.

“Dit was vir my baie erg . . . Nee, maar dit was nog steeds ’n baie nice verjaardag. Ek het lekker ge-videocall met my vriende,” sê Willighagen.

Soms voel haar lewe vir haar onwerklik.

Sy het aan Holland’s Got Talent deelgeneem omdat sy op televisie wou verskyn.

“Ek was so opgewonde oor die kameras. Ek het nie gedink ek gaan dit ooit wen nie, en ek het ook nie gedink ek gaan soveel jare aanhou optree nie. Maar dit was wel ’n wilde reis.

“Soms voel dit asof ek ’n dubbele lewe lei – soos iemand wat ’n double spy is. Dis so rustig by die huis en saam met my maats. ’n Normale skoolmeisie in ’n gewone Afrikaanse skool. Ek speel met my katte en honde en gaan na die atletiekoefening.

“En die volgende oomblik ry ek na Pretoria om ’n konsert op te neem. Jy staan in groot prinsesrokke, met make-up en mooi hare. Dit voel bietjie soos ’n dubbele lewe. Maar dit maak die lewe ook baie interessant.”

Dream With Me kan van 11 September om 09:00 tot 13 September om 21:00 gekyk word. Dit is 72 uur beskikbaar nadat jy dit die eerste keer gekyk het. Kaartjies kos R120.

Besoek optog.co.za om te bespreek. Dit sal ook deel van Optog! se e-biblioteek wees.

Meer oor:  Charl Du Plessis  |  Atterburyteater  |  Optog!  |  Musiek  |  Teater
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.