Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
André en Coenie steek grense oor in konsert
Coenie de Villiers

Die sanger André Schwartz se senuwees knaag omdat hy in ’n nuwe konsert saam met Coenie de Villiers gaan klavier speel.

“Want weet jy hoe goed speel Coenie?” vra Schwartz oor die nuwe musiekproduksie Grensloos, waarin hy en De Villiers op 28 April met twee klawerborde die gehoor in die Atterbury-teater in Pretoria gaan vermaak.

“Ons het besluit ons gaan alles aandurf wat ons bang maak,” sê De Villiers oor hul eerste projek saam.

Hulle praat egter al jare lank van ’n projek van hierdie aard.

“Ons het besluit om dit te doen terwyl ons kan,” sê De Villiers. Dit is nie omdat André met motorneuronsiekte gediagnoseer is of omdat ek soms met my hande sukkel (artritis) nie. Ons wou dit al jare doen en nou is die tyd. André is ’n baie beter klavierspeler as wat mense dink. Maar omdat hy ’n wêreldklassanger is, ken mense hom nie agter die klavier nie.”

’n Semikabaretkonsert is wat hulle beplan.

André Schwartz

“Aanvanklik het André gesê hy kan nie voor my speel nie en ek het gesê ek kan nie voor hom speel nie. Toe besluit ons, nee, let’s get over ourselves. Ons sál dit doen.

“Mense wil die kapstokke hê, so daar sal ’n ‘Karoonag’ en ’n ‘Daar’s ’n plek’ wees,” verwys De Villiers na van sy bekende liedjies.

Hulle sing ’n paar nuwe werke en begelei mekaar.

Die musiek sluit in komposisies uit Frankryk en Nederland. Daar is musiek wat De Villiers nog nooit vantevore gesing het nie.

Schwartz se treffers soos “Lief vir alles hier” en “Ek wil jou nooit weer sien” word op ’n nuwe manier uitgevoer.

“Ek ken dit só goed en só lank, ek sien uit om die nuwe weergawes te sing,” sê Schwartz.

“Ons het besluit op ’n vars kykie na van hierdie liedjies. Ek en Coenie deel ’n leeftyd van belangstellings. Ons doen ook goed uit musiekspele.”

Schwartz het in musiekspele soos The Sound of Music, The Pirates of Penzance en The Phantom of the Opera opgetree.

“Trouens,” sê De Villiers, “André is baie beskeie daaroor, maar Andrew Lloyd Webber (komponis van dié musiekspel) het gesê hy is die beste Phantom in die wêreld.”

Tot dusver het hulle net een optrede, maar uiteraard kan dit verander.

“Ons werk hard aan hierdie konsert,” sê Schwartz.

“Ek glo die gehoor sal dit geniet; ek hoop hulle sal.”

* Die konsert op 28 April begin om 14:30. Kaartjies kos R160 tot R180. Bespreek by iTickets.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.