Die sanger André Schwartz is Woensdag uit die hospitaal ontslaan nadat hy ’n tweede keer weens komplikasies met Covid-19 opgeneem is.
“Ek doen al my fisio met klank by en my asemhaling word elke dag sterker,” sê hy in sy huis in die Wieg van die Mensdom buite Krugersdorp.
“Ek moet net nie ongeduldig raak nie, maar ek sal spoedig reg wees.”

André Schwartz Foto: CO Productions
Schwartz, wat aan motorneuronsiekte ly, het in Desember op ’n besoek aan Kaapstad begin siek voel, het Rapport Sondag berig.
Hy was vir drie weke in die hospitaal, waarvan nege dae in die hoësorgeenheid.
Hy het teruggevlieg na Gauteng, maar het Vrydag weer in die hospitaal beland.
Sy ma, Ina (87), wat aan die Wes-Rand woon, het ook die koronavirus opgedoen. Sy het Kersfees in isolasie deurgebring.
Schwartz se konsert Songs of Hope: Acoustic from Groote Kerk is in Desember op kykNET uitgesaai. Dit is in Augustus opgeneem.
“Hy moet steeds medisyne en suurstof gebruik, so hy neem dit rustig, maar hy en sy dokters is baie positief,” sê Corné Oosthuizen, eienaar en stigter van CO Productions, wat Schwartz bemark.
“Hy sterk nou by die huis aan. Ek dink hy is baie bly om vir ’n slag weer in sy eie bed te slaap,” sê Oosthuizen.