Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Andries Bezuidenhout vind rigting ‘spoorlangs’

Andries Bezuidenhout wil baie graag ’n treffer hê.

Andries Bezuidenhout Foto: Verskaf

Maar hoe gemaak as jy bekend is as ondergrondse en alternatiewe kunstenaar en daar nie ’n kans bestaan dat kommersieel jou kenwysie gaan word nie?

Dis eenvoudig – jy bou ’n brug met ’n album waarby meer mense as voorheen aanklank gaan vind.

“Ek is realisties oor my musiek. Ek gaan nooit massas luisteraars trek nie.”

Met ’n lekker lag uit die maag sê hy: “Ek wil vreeslik graag baie gewild wees, maar dit moet op my voorwaardes wees.”

Spoorlangs is sy vierde solo-album nadat hy voorheen deel van die Brixton Moord en Roof Orkes was. Die album is in Alice in die Oos-Kaap gebore nadat hy en sy vrou, Irma du Plessis, in 2018 daarheen getrek het. Voorheen was sy inspirasie grootliks Gauteng en die stad. Hierdie keer is dit ’n streek wat hy moes leer ken, al het familie voorheen daar gewoon. In die proses het hy liedjies geskryf oor die dramatiese geskiedenis en die omgewing waar groot leiers hul eerste tree gegee het.

Hy omhels die verandering.

“Dit voel amper soos vakansie. Ons sien die Amatolaberge, ry deur dorpies en beland in ’n inheemse woud. Ek werk in die ateljee in my huis en het die voorreg om ’n salaris te verdien en kuns te kan skep.” (Hy en sy vrou is verbonde aan die Universiteit van Fort Hare.)

Die omslag van ‘Spoorlangs’.

Hy sê musiek, digkuns en skilder laat hom sin maak van waar hy homself bevind, en dis waarskynlik die rede waarom dit so ’n sterk tema is.

Al is Spoorlangs Oos-Kaaps in wese, glo hy mense van enige plek in die land sal daarmee kan identifiseer.

Die album se titel kom van die eerste snit, “Spoorlangs”, af. In die persverklaring word dit verduidelik: “Dit werk met die idee van ’n trein wat op vaste spore ry, maar voete en wiele wat kan verdwaal. Dis ’n tipe ondersoek na rigting en rigtingloosheid, dat om te verdwaal ook ’n manier is om jou rigting te vind.”

Die gemis aan reis en optredes is daar. Hy hoop om gou weer op die verhoog te kan wees. Gauteng en die Wes-Kaap kan hom dalk in die nabye toekoms persoonlik te sien kry.

“Reis is tog maar die voedingsaar vir my lirieke. Lewendige optredes is baie persoonlik. ’n Mens moet kan sien hoe mense jou musiek beleef. Dis hoekom ek nie eintlik die punt sien in konserte aanlyn nie. Ek dink musiekvideo’s is meer effektief.”

Die eerste video van die album is “Familieruïne” en is vandeesweek op YouTube gelaai.

Goeie nuus vir Bezuidenhout en Brixton Moord en Roof Orkes se aanhangers is dat van hul gewilde uitreikings nou ook aanlyn beskikbaar is. Hierdie titels sluit in Slaaptyd in die suburbs, Terug in skubbe en Spergebied, met bonussnitte (lewendige opnames uit 1999) en Bezuidenhout se Insomniak se droomalmanak.

Spoorlangs is op 1 Junie deur DistroKID uitgereik op digitale platforms: Spotify, Apple Music en YouTube. Stroom dit hier.

Meer oor:  Musiek  |  Andries Bezuidenhout
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.