Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Anneli van Rooyen streef steeds hoër op 60

Die sangeres Anneli van Rooyen, wat Donderdag 60 jaar oud word, kan nie sonder dankbaarheid oor die weg kom nie.

“Ek dink dit staan sentraal en dit is in ’n groot mate my behoud. Die ou lewe frommel ’n mens maar op. Maar as ’n mens te midde daarvan aan die seëninge kan vashou, is dit ’n absolute reddingslyn.”

Anneli van Rooyen
Anneli van Rooyen Foto: Annemarie Wichmann/LiG Tydskrif

Haar ma is in Januarie oorlede en sy ervaar heeltyd pyn in haar gesig weens trigeminale neuralgie wat in 2004 by haar gediagnoseer is.

“Ek kan opreg dankbaar wees – van klein goetertjies tot groot dinge, van die heel begin af. Dit is ’n blessing, want daarsonder was ek werklik uitgelewer.”

Van Rooyen, bekend om liedjies soos “Ek Lewe”, “Ek wil jou ken”, “Seemeeu” en “Neem my op vlerke”, het in 2019 haar 40 jaar in die musiekbedryf gevier.

Sy het in 1979 die ATKV se Crescendo-kompetisie gewen en die volgende jaar is haar debuutalbum, Neem my saam, uitgereik.

Maar sy het reeds op skool begin om liedjies te skryf.

“Ek het vroeër jare klavier geneem, maar die musiekjuffrou het vir my ma gesê ek vaar heel goed, maar ek gaan nie noodwendig waarheen die geskrewe note gaan nie. So ek het ’n bietjie afgedwaal.

“Later het ek ’n kitaar present gekry. Toe ek dit in my hand hou en verstaan waarheen my vingers moet gaan, was dit net ’n natuurlike uitvloeisel. Ek het dit in Oktober daardie jaar gekry en in Desember my eerste liedjie geskryf. Dis lank terug. Maar ek voel nog nie antiek nie, hoor. Glad nie. Is dit nie wonderlik nie dat ’n mens nog jeugdig kan voel?”

Anneli van Rooyen het in 2019 40 jaar in die musiekbedryf gevier.

Sy het in matriek in die Hoërskool Menlopark in Pretoria ’n erepenning van die FAK gekry. Sy het aan die Universiteit van Pretoria BA met Afrikaans, sielkunde en dramakunde studeer.

Sy het die liedjieskrywer Koos du Plessis sien optree en later ’n verhoog met hom gedeel.

“Dit is van my kosbaarste herinneringe. Ek het so geluister na wat mense oor Koos sê – dat hy eintlik praat en nie reg sing nie. Dan het ek gedink: probeer júlle om so te ‘praat’. Dis nie eens ’n kwessie nie, dis absolute juwele en die manier waarop hy dit gedoen het, sal ek nooit kan vergeet nie.”

Hulle het in die Oude Libertas-teater in Stellenbosch opgetree. “Saam met Koos, saam met Coenie (de Villiers), saam met Clarabelle (van Niekerk). Dit was ’n ervaring. Kyk, ek was ’n japsnoet, maar om dit te beleef . . . Dis ’n saamdra-belewenis. Dit gaan nooit weg nie.”

Sy skryf steeds.

“Ek is baie vasgeroes, maar ek het oral gedagtes, flentertjies wat ek merendeels neerpen. Ek glo en hoop en vertrou die blote feit dat daai gedagtes wel by my opkom, beteken die krane is tog nie gesteel of gesaboteer nie.”

Baie van haar liedjies is geestelik, hoewel dit nie noodwendig die bedoeling was toe sy dit geskryf het nie.

“Dit was doodgewoon (’n geval van) hier is dit, hier is my hart. En weet jy, terugskouend is dit vir my heerlik om dit te besef, want dit is tog immers ’n verklaring, ’n handtekening van my binneste en dis vir my ’n bron van groot versterking en vreugde. Dit is wat dit is.”

Anneli van Rooyen
Anneli van Rooyen is Donderdag 60 jaar oud.

Musiek is nie al manier waarop sy haarself uitdruk nie.

Sy vind egter dat sy sedert 2007, toe ’n operasie weens haar siekte skeefgeloop het, baie minder musiek luister.

Tog is dit onlosmaaklik deel van haar. Die woord, taal en die vermoë om jouself uit te druk is vir haar ’n vreugde.

“Ek kan tog skryf, ek kan uitdrukking gee aan my gevoelens op papier, wat nie noodwendig met musiek gepaardgaan nie.”

Die “wegbreek” van sang was vir haar ’n verlies.

Dit is steeds nie opgelos nie.

“Ek moet ook maar my huiswerk doen om klank terug te bring in my lewe. So as ek klank kan terugbring in my lewe, sal dit help met heel word – nie noodwendig om op te tree nie. As ek sing, al kraak dit, wat maak dit tog saak? Dit gaan oor die oomblik, nè? Dit gaan oor iets in jouself in vryheid weergee.”

Sy probeer haar bes om ondanks haar fisieke pyn haar lewe te geniet.

“Ek moet wel vir jou sê ek kan beter. Dis ’n geweldige uitdaging hier op 60, maar ek gaan hom vat na die beste van my vermoë. My psige en gees wil vorentoe. So ook my denke en geloof. Alles van my wil leef. My naastes besef my wil en strewe, en dit maak ’n groot verskil.”

Meer oor:  Anneli Van Rooyen  |  Pretoria  |  Musiek  |  Sangeres
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.