Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Ashton Nyte ‘SA se David Bowie’

Hoewel die Baaise boorling Ashton­ Nyte wêreldbekend as sanger is, het hy al van kleins af daaroor gedroom om ook ’n boek te skryf.

Nou het hy eindelik dié droom verwesenlik deur ’n boek én ’n album gelyktydig onder die gesamentlike titel Waiting for a Voice uit te reik.

“Ek dink ek het eintlik as ’n skrywer begin wat ook daarvan gedroom het om te sing,” sê Nyte via e-pos uit St. Louis in Missouri, Amerika, waar hy deesdae woon.

“My gunstelingvakke op skool was Engels en Afrikaans met kreatiewe skryfwerk wat die hoogtepunt van my skoolopvoeding was.”

Ashton Nyte is wêreldbekend as sanger, maar het van kleins af daar­oor gedroom om ook ’n boek te skryf.

Daarom is dit vir die man wat in 1997 saam met die groep The Awakening bekendheid met hul weergawe van Simon and Garfunkel se “The Sound of Silence­” verwerf het, so bevredigend om eindelik sy eie “boekie” te kon skryf.

“My bydrae tot die towerwêreld van woorde was ’n droom wat weens die hoeveelheid musiek wat ek al opgeneem het en my toere, baie moeilik was om na te jaag.

“Ek is eerlikwaar verheug om eindelik my eie boekie in die wêreld te kan hê en dit is ’n pasmaat vir ’n album wat basies digkuns is wat met akoestiese musiek gepaardgaan,” sê Nyte­.

“Ek is in my vormingsjare as kind in die Oos- en die Wes-Kaap deur baie Suid-Afrikaanse skrywers beïnvloed.

“Later het ek ook dieper begin delf in enigiets van Blake enEliot tot Ginsberg en Kerouac.”

Nyte beskryf sy boek as “gedigte, lirieke, kort stories, gedagtes en ander vreemdhede”.

Een ding wat hom baie hartseer maak, is dat sy pa, Ockie, vroeër vanjaar ná ’n hartoperasie oorlede is en nie die nuwe album sal hoor of die boek sal lees nie.

“Sy dood was baie onverwags en hy het ’n groot invloed op my lewe gehad.

“Ons het David Bowie se meesterstuk ‘Heroes’ by sy begrafnis gespeel,” sê Nyte.

Bowie was nog altyd een van die groot invloede op Nyte se eie kreatiewe loopbaan.

Hy het daarom ook besluit om sy eie weergawe van “Heroes” op sy nuwe album in te sluit.

“Dit was nie iets wat ek ligtelik gedoen het nie. Dit was ook nie my voorneme om daarop te probeer verbeter nie,” sê Nyte, wat op ’n tyd self deur ’n kritikus as Johannesburg se eie Bowie beskryf is.

“Ek dink ek het alles (albums) wat hy (Bowie) ooit gemaak het en het al by my eie konserte van sy liedjies, soos ‘China Girl’ en ‘The Jean Genie’, gesing.”

Daar is ook ’n ander interessante raakpunt tussen Nyte en Bowie.

Bowie was getroud met die Somaliese model Iman en Nyte se vrou, Rose Mortem, is bekend as ’n modeontwerper.

“Sy (Rose) het al verskeie van my uitrustings – waaronder ’n paar waarlik dekadente jasse – geskep,” sê Nyte.

  • Kyk op YouTube na die amp­telike video van Waiting for a Voice.
Meer oor:  Sanger  |  Boek  |  Album
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.