Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Avanti wag nie vir dinge om te gebeur

Die duo Avanti – Sally Minter (fluit) en Coila-Leah Enderstein (klavier) sit nie agteroor en wag vir werk om na hulle te kom nie.

“Dis opwindend om jou eie werk te skep,” sê Minter. “Ons is jonk, maar binne ’n relatief kort tydjie het ons dit reggekry om naam te maak.”

Coila-Leah Enderstein (pianis) en Sally Minter (fluit) is die duo Avanti.

Sedert hulle in 2014 begin saam optree het, het hulle ondersteuners in so ’n mate gegroei dat hulle nou hul eerste album kon uitreik.

Hulle het deur middel van ’n skarebefondsingsprojek R45 000 ingesamel om die produksiekoste te dek. Die speellys bestaan uit persoonlike gunstelings en werke waarby gehore aanklank vind.

Werke van onder andere J.S. Bach, Olivier Messiaen, Francis Poulenc en Gabriel Fauré is op die album. Die opname is gemaak tydens Avanti se uitvoering as deel van die Endler-konsertreeks by Universiteit Stellenbosch om die energie van ’n regstreekse optrede vas te vang.

Om ’n nuwe klank in te bring, het hulle Amy Luyendijk, die bekende jong Suid-Afrikaanse komponis, pianis en Fransehoringspeler, gevra om ’n spesiale werk vir die album te komponeer.

Luyendijk se werk is ook al deur die SA Nasionale jeugorkes en die Epoch-strykkwartet uitgevoer. Toe sy in 2014 die Suid-Afrikaanse musiekkollege se komposisiekompetisie gewen het, het sy en die Kaapstadse filharmoniese orkes haar Dance in the Owl House uitgevoer. Die Londen-stadsorkes het nog een van haar werke Paper Bird uitgevoer.

Avanti het vir twee opeenvolgende jare (2015 en 2016) die kategorieprys vir ’n duo by die Stellenbosch nasionale ensemblekompetisie gewen.

Die Avanti duo Sally Minter en Coila-Leah Enderstein by een van hul uitvoerings.

Die album Avanti: Live in Concert word op 6 Junie in die Sentrum vir die boek in Kaapstad bekend gestel. Hulle hou ook ’n konsert met onder meer musiek van Martinu, Faure, Bach en Luyendijk. Hulle sal ook meer van elke musiekstuk vertel en hoekom dit vir hulle spesiaal is.

“Die album was van die begin af vir ons ’n droom,” sê Minter. “Ons wil baie graag verder vorder en meer musici betrek om saam met ons op te tree.”

Nog ’n groot avontuur lê vir hulle voor wanneer hulle eersdaags vir die eerste keer oorsee gaan optree. Hulle bied ’n intieme konsert in Devon aan en Minter gaan ook ’n somerskool in Italië bywoon. Dis deel van haar prys as naaswenner van die internasionale Samro-beurs wat sy in 2016 ontvang het.

Toegang na Woensdag se konsert (19:00) is gratis en die album sal teen R150 verkoop word. Bespreek by www.quicket.co.za.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.