Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Baardman Black die groot wenner met 7 Ghoemas
'n Onderhoud word met Jo Black gevoer terwyl sy sewe Ghoemas op 'n tafeltjie voor hom staan. Foto: Simon Sonnekus

Jo Black het Sondagaand soveel Ghoema-pryse gewen dat elke lid van sy band een kon huis toe vat.

Jo Black met twee van die sewe Ghoemas wat hy gewen het. Foto: Simon Sonnekus

Black was die groot wenner by vanjaar se Ghoemas met ’n allemintige sewe pryse.

“Dit was definitief die baard,” lag hy. “Die baard het my goed laat lyk, anders sou almal kon sien ek het eintlik ’n dubbele ken.”

Black is as die manlike kunstenaar van die jaar en nuweling van die jaar aangewys. Sy album Skepe het die prys vir beste album van die jaar en digitale album van die jaar gewen, terwyl die liedjie “Skepe” ook as digitale liedjie van die jaar en gewildste liedjie van die jaar aangewys is. Black het ook die ereprys vir beste verkoper ontvang.

“Met die eerste album het ek die kans gehad om 34 jaar se ervaring op papier neer te pen en in ’n jaar het so baie gebeur dat ek nou weer ’n album moet skryf. Dit was net ’n massiewe jaar. Môreoggend (Maandagoggend) negeuur is ek weer in die studio.

“Ek dink ek gaan nog smile vir die volgende paar ure. Ek wil graag huis toe gaan en by my kinders wees. Ek is seker daai twee het vasgenael voor die televisie gesit en ek kan nie wag om dit met hulle te gaan deel nie.”

Die baard het my goed laat lyk, anders sou almal kon sien ek het eintlik ’n dubbele ken.
Jo Black
Juanita du Plessis en haar man, Doepie. Foto: Simon Sonnekus

Juanita du Plessis is as vroulike kunstenaar van die jaar aangewys en sê ná 20 jaar in die bedryf is elke prys steeds spesiaal.

“Ná jou heel eerste prys is jy natuurlik over the moon, maar daai gevoel het nog nie regtig verdwyn nie. Dit bly ’n groot voorreg.”

Steve Hofmeyr en Karlien van Jaarsveld is onderskeidelik as die publiek se gunsteling- manlike en vroulike kunstenaars aangewys.

Hofmeyr het die Ghoemas as ’n monument vir Afrikaans beskryf.

Lydia Winchester, wat vir haar lewenslange bydra in die Afrikaanse musiekbedryf vereer is. Foto: Simon Sonnekus

“Die belangrikste rede hoekom die Ghoemas gehou moet word, is omdat Afrikaans eintlik maar op alle ander vlakke ingeperk word, alle instellings, alle plekke, alle hoër funksies. Hier is nou een plek waar die kunstenaars vryheid van uitdrukking het. Dit is wat ons kunstenaars doen, dit definieer ons.”

Steve Hofmeyr. Foto: Simon Sonnekus

Hofmeyr se album Skree het ook die prys vir beste kontemporêre album deur ’n manlike kunstenaar gewen, terwyl Van Jaarsveld se Sing vir liefde as die beste album deur ’n vroulike popkunstenaar aangewys is.

Een van die groot oomblikke van die aand was toe die musiekpromotor Lydia Winchester ’n prys vir haar lewensbydrae tot die Afrikaanse musiekbedryf ontvang het.

“Jong kunstenaars moet hul voete op die aarde hou. Ek dink ek moet binnekort ’n skool begin dat ek hulle kan leer, want jy kry te veel van die jong kunstenaars wat dink hulle is supersterre sodra hulle uit hul ma’s se baarmoeders is. Dit is verkeerd.”

Jong kunstenaars moet hul voete op die aarde hou. Ek dink ek moet binnekort ’n skool begin dat ek hulle kan leer, want jy kry te veel van die jong kunstenaars wat dink hulle is supersterre sodra hulle uit hul ma’s se baarmoeders is.
Lydia Winchester

Rina Hugo, ’n groot vriendin van Winchester, het die prys aan haar oorhandig.

Hugo het Winchester se energie en harde werk deur die jare as die redes vir haar sukses uitgelig.

“As ek dink waar sy begin het, as sekretaresse, en hoe vinnig sy die musiekbedryf, en hoe dit werk, leer ken het. Dit verstom my nog al die jare dat sy niemand vergeet nie, sy ken almal, sy onthou almal se verjaarsdae. Sy het ’n ongelooflike geheue en energie en vibe, dis aansteeklik.

“Sy verdien dit, sy is soveel jare al hier en sy het soveel in die bedryf bereik. Ek is baie trots op haar.”

Lees ook: Só het die Ghoema-aand verloop

Meer oor:  Steve Hofmeyr  |  Jo Black  |  Karlien Van Jaarsveld  |  Ghoemas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.