Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Barokfees blom in Kaapstad
Erik Dippenaar. Foto: Argief

Die klanke van luite, blokfluite, viola da gamba, klavesimbels en selfs ’n klokkespel gaan weer vanjaar in Kaapstad opklink by die jaarlikse Kaapstad Barokfees (CTBF).

Die fees – vermoedelik die enigste van sy soort in Afrika wat klassieke musiek uit veral die 18de eeu in die kollig plaas – word vir die derde keer deur die ensemble Camerata Tinta Barocca (CTB) aangebied.

Danksy die groot belangstelling in die eerste en die daaropvolgende fees is vanjaar se fees van drie tot sewe dae verleng.

“Die eerste fees in 2017 was klein – ek dink daar was net iets soos vier konserte – maar dit het goed afgeloop,” sê Erik Dippenaar, die CTBF se feesdirekteur en sedert 2015 ook die CTB se artistieke direkteur.

“Die tweede fees het net ontplof. Ek was heeltemal verbaas oor die belangstelling daarin. Met ons openingskonsert moes ons mense by die deur wegwys.

“ ’n Mens het eintlik hierdie verwagting dat daar nie vreeslik belangstelling in Barokmusiek is nie, maar met Camerata het ek gesien daar is eintlik.

“Dit is vir my die wonderlikste ding as iemand na my toe kom en sê: Ek het gedink Barokmusiek is vervelig – en dit is glad nie.

“En dít is wat ons eintlik met hierdie fees wil doen: Mense lief maak vir Barokmusiek.”

Dit is vir my die wonderlikste ding as iemand na my toe kom en sê: Ek het gedink Barokmusiek is vervelig – en dit is glad nie. En dít is wat ons eintlik met hierdie fees wil doen: Mense lief maak vir Barokmusiek.
Erik Dippenaar

Die fees, wat ’n paar jaar gelede net ’n “droom” tussen vriende was, bult nou sy spiere met ’n program wat internasionale en plaaslike Barok-spesialiste byeenbring. Die tema van vanjaar se fees is “diversiteit in vroeë musiek”, wat verskeie style en genres in musiek uit die Baroktydperk (1600-1750) ten toon wil stel.

Bonolo Kgaile. Foto: Verskaf
Lynelle Kenned. Foto: Verskaf
Raphael Pouget. Foto: Verskaf

Die eerste konsert in die Zeitz MOCAA sluit verwerkings van twee van die bekendste stukke uit die Baroktydperk in – die Brit Max Richter se verwerking van Antonio Vivaldi se “Vier seisoene” en die Suid-Afrikaanse komponis Hans Roosenschoon se verwerking van Johann Sebastian Bach se “Brandenburg-concerto no. 3”. Die violiste Annien Shaw en Bonolo Kgaile is van die aand se sterre.

Gehore wat ietwat geïntimideer is deur Barokmusiek, sal aanklank vind by dié en nog ’n konsert met volksmusiek uit die 15de en 16de eeu, sê Dippenaar.

“Dit is eintlik nie die musiek wat mense intimideer nie, maar die ‘stywe’ konsertomgewing en -etiket. Met dié fees probeer ons eintlik hard daaraan werk om van die superformele konsertkultuur te laat gaan. As mense, byvoorbeeld, in die middel van ’n stuk wil hande klap – dis fine.

“Maar ek weet Barokmusiek intimideer sommige mense tog. Hulle moet net onthou Barokmusiek is eintlik net menslike musiek wat met mense praat. So ek dink mense moet net kom kyk – en ek kan amper waarborg hulle sal verras wees.”

Nog hoogtepunte op vanjaar se program sluit in Big Bach Bonanza!, waarin die Nederlander Erik Bosgraaf in die Lutherse kerk in Strandstraat die solis in twee van Bach se blokfluitkonserte sal wees. Lynelle Kenned, sopraan, en die Barokviolis Refiloe Olifant is nog van die aand se soliste.

Alexios Vicatos. Foto: Verskaf
Die Lutesong Duo: Lente Louw en Uwe Grosser. Foto: Verskaf

Die Oostenryker Raphael Pouget gaan sy vaardigheid op ’n Barok-trompet wys in die konsert Chamber Baroque in die Baxter-teater, en by die konsert Musica Rustica in 6 Spin Street Restaurant, gaan Napolitaanse kanapees bedien word terwyl onder meer die Lutesong Duo – die mezzosopraan Lente Louw en die luitspeler Uwe Grosser – ’n uitvoering gee.

Die klokkespeler Alexios Vicatos se demonstrasie op die Kaapstadse stadsaal se kariljon (’n stel klokke waarop musiek gespeel kan word), kan gratis bygewoon word. Kaartjies moet nogtans bespreek word.

Heelwat meesterklasse en slypskole rond die fees af.

Hoewel die fees reeds stewig op sy twee bene staan, sê Dippenaar hy het nog groter drome vir die fees, wat danksy Suid-Afrikaanse musici én plaaslike gehore se ondersteuning binne bereik is.

“Dit klink bisar: ’n Barokfees hier op die suidpunt van Afrika. Hoekom? Ons het plaaslik uitstaande talent met gespesialiseerde vaardighede wat dié fees ’n werklikheid maak en internasionaal kan meeding, so die vraag is eerder: Hoekom nie?

“Ek voel ook daar is veral met Barokmusiek ’n beskouing dat dit die eksklusiewe terrein van die ou establishment in Europa is – maar nie meer nie. Daar is nou fantastiese ensembles uit Kanada, die VSA, Australië, en ons kan hier met dié fees en met die CTB bewys Barok is nie net die Noordelike Halfrond se speelveld nie.

“Die vlak van ondersteuning wat ons kry, regverdig wat ons doen, so ons hoef vir niemand terug te staan nie.”

  • Die derde Kaapstad Barokfees vind van 18 tot 24 September in verskeie venues plaas. Kaartjies kos tussen R50 en R220 en kan op www.webtickets.co.za of by die deur (slegs kontant) gekoop word. ’n Feeskaart kos R580. Vir meer inligting en die fees se volledige program, besoek www.ctbaroque.co.za/festival of stuur ’n e-pos na info@ctbaroque.co.za.
Meer oor:  Musiek  |  Klassieke Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.