Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
'Toe Patricia Lewis en Jurie Els topverkopers was'
Beeskraal
Beeskraal vier vanjaar 21 jaar in die musiekbedryf.

Die boerepunk-groep Beeskraal, wat vanjaar 21 jaar in die musiekbedryf vier, het “in ’n snaakse tyd toe Patricia Lewis en Jurie Els die topverkopers was” die musiektoneel getref.

Nou is hul 13de album in hul visier.

“Ná die Voëlvry-toer was daar nie eintlik iets so alternatief nie,” sê die hoofsanger, Charlie Smidt, wat deesdae saam met Regardt de Bruin, Robert Mitchley en Theuns Botha musiek maak.

Beeskraal, bekend om liedjies soos “Roots en Boots”, “Strate van Pretoria”, “Sonskyn Elvis” en “Huis toe” tree ook Sondag op tydens die Band for Bricks-konsert in die Sun Arena in Pretoria saam met kunstenaars soos Klopjag en Gian Groen.

“Ek dink ons was die skakel tussen daardie tydperk en die Karen Zoid- en Fokofpolisiekar-generasie,” sê Smidt.

“Ons is in 1998 in Rapport beskryf as ’n mengsel van The Clash en AC/DC met ’n konsertina en ’n banjo. Ons is in baie media as revolusionêr bestempel, die boere-Beatle-mania.”

Tog is hulle nie ’n boereorkes nie. Trouens, nie een van hulle kom van ’n plaas nie. Hulle was destyds ’n paar jazzstudente aan die Technikon Pretoria (vandag die Tshwane Universiteit vir Tegnologie).

“Ons wou ook daardie alternatiewe inslag met die vreemde name soos Koos Kombuis en Johannes Kerkorrel gebruik het. Ja, en mense het ons gespot en gesê ons is ’n trop beeste in ’n kraal.”

Hulle het destyds met hul musiek op southern rock en punk-musiek gefokus.

“Maar met banjo en konsertina daarby ingesluit. Ons wou dit heeltemal iets anders maak, iets wat ’n bietjie tong-in-die-kies was. Ons het ook kakieklere gedra, allerhande sulke goeters, byna uit ’n anargistiese oogpunt.”

Hul heel eerste optrede was saam met Piet Botha by Cool Runnings in Pretoria. Die tweede optrede was saam met Koos Kombuis en die derde saam met Valiant Swart.

Danksy hierdie optredes het hulle dadelik groot gehore gehad.

“Die aanhangers was dadelik gaande,” sê Smidt. “Dit was iets heeltemal nuut vir Suid-Afrikaners, ook vir onsself – jazzstudente wat ’n Afrikaanse band maak.”

Baie mense het aanvanklik gedink dat hulle ’n boereorkes is.

“Die Tradisionele Boeremusiekklub van Suid-Afrika en die Boeremusiekgilde het ons bedank dat ons weer aandag op boeremusiek gevestig het, dit byna onder die jeug begin koel maak het. In dieselfde tyd het ons vir Anton Goosen ontmoet, wat naderhand ons mentor geword het. Ons het baie saam met hom getoer en goed saam met hom opgeneem.”

Beeskraal het ook ’n Anton Goosen-keurspel op hul album Beeskraal: 20 jaar in die kraal ingesluit, wat in 2018 uitgereik is.

Hulle voer oorspronklike musiek uit. Hulle gaan ook nie elektronies te werk wanneer hulle ’n album opneem nie.

Ons is in 1998 in Rapport beskryf as ’n mengsel van The Clash en AC/DC met ’n konsertina en ’n banjo. Ons is in baie media as revolusionêr bestempel, die boere-Beatle-mania.
Charlie Smidt, Beeskraal-hoofsanger

“Ons gebruik net lewendige instrumente, niks back tracks of covers nie. Dit wat jy op die album hoor, gaan jy op die show hoor. Daar is al vir ons gesê dat ons op die verhoog beter as op ’n CD klink en eintlik is dit ’n pluimpie vir ons. Ons shows is heavy energiek. As ons iets cover is dit ou outlaw-country, iets soos Johnny Cash.”

Die eerste man wat iets van hulle op radio gespeel het, was Barney Simon, wat in daardie stadium ’n platejoggie by 5fm was.

“En toe begin dit loop op al die kampusradiostasies.”

Hulle het reeds materiaal vir hul volgende album.

“Gewoonlik moet ek eerste ’n hook line hê,” sê Smidt oor die skep van musiek.

“Die refrein is vir my baie belangrik. Ek skryf dit gewoonlik eerste en die verse volg daarop. Dan help die res van die band met die rangskikking van die instrumente en die struktuur. Ons vervaardig ons eie albums. Ons is heeltyd hands on met presies wat ons wil hê.”

Van die 12 albums wat hulle oor die afgelope 21 jaar uitgereik het, is in verskillende style gedoen.

“Met een het ons byvoorbeeld net akoesties gegaan. Ons het dit sommer Magaliesbergmusiek genoem, want mense weet nie wat is Appalachian mountain music nie. Ons rock-ballades is baie Collective Soul-gedrewe. Ons klank bevat ook southern rock, maar die boere-punk en die banjo en konsertina is steeds daar.”

Meer oor:  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.