Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Beethoven-transkripsie ‘soos biegsessie’, sê pianis
Die pianis Luis Magalhães.

Hy raak nie regtig senuweeagtig as hy optree nie. Hy is net geweldig bewus van die respek wat hy aan die musiek moet betoon omdat dit ander se skeppings is wat hy uitvoer, nie sy eie nie.

Die pianis Luis Magalhães, wat op 16 Januarie ’n transkripsie van Beethoven se Vioolconcerto saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) uitvoer, sê dit is wel sy eie gedagtes en emosies wat weerspieël word.

“So ’n uitvoering verg ’n fyn balans tussen die emosionele en rasionele. Klavierspeel is immers ook ’n fisieke funksie – die hande moet beweeg en die vingers moet werk.”

Vra ’n mens waarom hy dié werk gekies het waarvan weinig mense weet, sê hy: “Hoekom nie?”

“En glo my, dit is glad nie maklik nie. Musikaal gesproke kan dit ’n ramp van Eskom-proporsies wees as jy die draad verloor.”

Magalhães sê hy is mal oor die “ruimte en liriese in die klavierweergawe van die concerto”.

“Dit is beslis nie jou gewone concerto met ’n vertoon van bravura, bultende spiere en ’n frenetiese dryf nie. Al jou aandag is op die narratiewe element van die musiek gefokus.”

Die première van die vioolconcerto was desjare nie ’n groot sukses nie en is daarna selde uitgevoer totdat die bekende violis Joseph Joachim dit 20 jaar ná Beethoven se dood in 1827 met Mendelssohn as dirigent gespeel het.

Beethoven het self die werk vir klavier getranskribeer, “dalk weens die swak ontvangs van die viooluitvoering, maar beslis ook op versoek van die pianis en komponis Muzio Clementi”.

Hy (Beethoven) het die klavierweergawe ook van cadenzas voorsien wat nie in die vioolconcerto bestaan nie.

Magalhães sê hy weet nie waarom die klavierweergawe selde uitgevoer word nie.

“Dalk omdat programopstellers ter wille van kaartjieverkope musiek met vuurwerke verkies. Dit is ook om dié rede dat pianiste nie die werk in hul repertorium het nie en, wie weet, dalk omdat ’n pianis heelwat van sy persoonlikheid en emosies hierin blootlê, amper soos in ’n biegsessie.”

Die dirigent Bernhard Gueller.

Magalhães het in Portugal grootgeword, daar musiek studeer, dit nagraads in die VSA voortgesit en toe ’n aanstelling aan die Universiteit Stellenbosch gekry. Dié medeprofessor kombineer sy “dagtaak” as klavierdosent met ’n internasionale uitvoerende loopbaan.

Hy is ook saam met Nina Schumann die stigter van die Stellenbosch Internasionale Kamermusiekfees, die Stellenbosse Klaviersimposium en die bekroonde TwoPianists-etiket. Schumann is sy klavierduovennoot.

’n Besige tyd lê vir Magalhães voor. Ná die uitvoering vandeesweek gee hy op die Internasionale Mozartfees in Johannesburg die eerste maratonuitvoering van ál Beethoven se vioolsonates saam met die Duitse violis Alissa Margulis.

Die maraton word onmiddellik daarna in Kaapstad en Knysna herhaal en later ook in Portugal en Duitsland, maar die buitelandse besoek kom eers ná ’n uitvoering in die Portugese ambassade en optredes op die US Woordfees.

In die tydjies tussenin dra Magalhães sy kennis en ervaring van musiek en optree aan die studente oor.

Bernhard Gueller, die KFO se hoofgasdirigent, dirigeer die konsert wat open met die ouverture van Mozart se opera Don Giovanni en afsluit met Prokofiëf se Simfonie nr. 5.

  • 16 Januarie om 20:00 in die Kaapstad-stadsaal. Bespreek by Artscape Dial-A-Seat by 021 421 7695 of Computicket.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.