Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Begaafde Ramm vertolk met musikale gesag

Alexander Ramm (tjello) en Pieter Jacobs (klavier)

Odeion

’n Kunstenaar verander die programorde gewoonlik omdat dit in ’n vorige konsert nie die beoogde uitwerking gehad het nie. In die geval het die Russiese Alexander Ramm verkies om met ’n Russiese werk, Prokofiëf se Sonate in C majeur, op. 119, tebegin en die Grieg-sonate vir ná pouse gehou.

Prokofiëf open sy sonate met ’n somber koraal in meestal die lae register en die aanwysing andante grave, wat die tjellis en pianis Pieter Jacobs afsonderlik gehoorsaam het, hul rapport en vertolking nog nie heeltemal oortuigend nie. Maar teen die einde van die eerste beweging het hulle as ’n eenheid gebind en tot die einde van die konsert gesamentlik definisie aan die musiek gegee.

Ramm het vir ’n 27-jarige ’n merkwaardige musikale gesag en begaafdheid in alle aspekte van tjellospel.

In die Prokofiëf het hy met die grootste gemaak van sterk ritmiese staccato-passasies (tweede beweging) en drif (finale) na liriese dele oorgeskakel.

Die Amerikaanse komponis Samuel Barber se Tjellosonate in C mineur, op. 6 was ’n verrassing. Waarom dit selde uitgevoer word, weet ’n mens nie, want dit is ’n lieflike werk, ryp romanties met ’n hoogs dramatiese begin en elemente wat aan Brahms herinner.

Hierin het Ramm weer sy kenmerkende gawe uitgestal om dinamiese en melodiese spanning op te bou en dit met ’n soort verligte sug te ontlont.

Hierna het die hoogtepunt-werke gevolg. Die twee musici het Grieg se welbekende Tjellosonate in A mineur, op. 36 met storm en drang gepak, en heelwat vinniger as wat ’n mens gewoond is. In ’n effens rustiger tempo sou die folkloristiese­ elemente se eenvoud dalk beter opgeklink het.

In die andante molto tranquillo het Ramm Grieg se Noorweegse siel ten diepste ontgin – soepelheid en lirisme was aan die orde. Daarna het hy en Jacobs die krane oopgedraai vir ’n buitengewoon dramatiese en luide laaste beweging – ’n oortuigende vertolking wat net aan kunstenaars met dié mate van virtuositeit toegeskryf kan word.

Vir die slotwerk, Piazzolla se Le Grand Tango, is ’n gevoel vir die tango-ritme en Argentynse passie noodsaaklik waaraan die duo nie te kort geskiet het nie.

Die opwinding wat die laaste twee werke by die gehoor gewek het, het Ramm teruggebring vir nog ’n passievolle werk, die Intermezzo uit die Spaanse komponis Cassadó se Suite vir solotjello.

Daarmee het hy die uitvoering treffend afgesluit met nog ’n intens uitdrukkingsvolle vertolking.

Ramm het op 21 potensiaal getoon om een van die beste tjelliste op die internasionale kringloop te word. In die afgelope ses jaar het hy die kritici en publiek reg bewys.

Die volgende konsert in die OSM-reeks is die sopraan Laetitia Grimaldi-Spitzer en Ammiel Bushakevitz (klavier) op 6 Mei.

Meer oor:  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.