Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Beleef die musieklewe van die 17de eeu
Die I Bassifondi-musici van Italië is van links Gabriele Miracle, die stigter Simone Vallerotonda en Stefano Todarello.

Hoe moderner die wêreld word, hoe meer reik musici terug na die oorsprong van klassieke musiek, waarvan die Italiaanse ensemble I Bassifondi ’n sprekende voorbeeld is.

Dié trio besoek Suid-Afrika vandeesmaand met ’n Barokkitaar, ’n luit, ’n teorbe (’n luit met ’n lang nek en 14 snare), ’n aartsluit (’n luit met ekstra bassnare), ’n colascione (ook ’n langnek-luit, maar met net drie snare) en sordellina (’n eenvoudige 17de eeuse doedelsak).

Die instrumentname alleen verklap iets van vergange tye en wanneer musiek daaruit opklink, word die luisteraar inderdaad na die musieklewe van die 17de eeu verplaas.

I Bassifondi se uitvoering sluit alle soorte musiek in, van dit wat op straat gehoor is tot oratoria wat mense bymekaargebring het om na gewyde Latynse tekste te luister en verfynde uitvoerings in die Barberini-paleis waar musici hul dienste aangebied het.

Die komponiste van daardie tyd, mense soos Kapsberger, Corbetta, Piccinini en Granata, is nie algemeen bekend nie, maar Simone Vallerotonda, die stigter van I Bassifondi, sal hulle en hul musiek aan die gehoor bekend stel.

Die 26-jarige Vallerotonda, ’n boorling van Rome, het so ’n intense belangstelling in vroeë musiek ontwikkel dat hy ’n doktorsgraad daarin verwerf het.

Sy eerste instrument was klassieke kitaar wat hy as kind leer speel het. Toe hy op 18 jaar op vroeë musiek verlief raak, het hy ’n luit gekoop, al het hy nie ’n benul gehad hoe om dit te speel nie.

In die Santa Cecilia-konservatorium in Rome kon hy darem by Andrea Damiani die kuns van luitspel leer en ’n BMus-graad daarin behaal. Vir sy meestersgraad aan die Staatliche Hochschule für Musik in Trossingen, Duitsland, het hy teorbe en Barokkitaar aangebied.

Vallerotonda balanseer sy pos as dosent in vroeë musiek aan die konservatoriums in Trapani en Bologna met konsertoptredes wat hom neem na die VSA, Australië, Suid-Amerika, die Verre Ooste en kruis en dwars oor Europa.

In 2014 het hy I Bassifondi gestig en reeds met hul debuutalbum, Alfabeto falso, beïndruk. Dit is as beste instrumentale Barok-CD vir die Internasionale Klassiekemusiek-prys benoem.Toerprogram

* Pretoria, Brooklyn-teater: 15 November om 19:00.

* Johannesburg, Northwards House: 16 November om 19:00.

* Sasolburg, Etienne Rousseau-teater: 17 November om 15:00.

* Kaapstad, Saint Andrew-kerk: 20 November om 20:00.

* Universiteit van Kaapstad, Musiekkollege: 22 November om 10:00 – meesterklas.

Meer oor:  Musiek  |  Landwyd  |  I Bassifondi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.