Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Berninger van The National se solo-ekskursie ’n openbaring

Op die album Serpentine Prison word Matt Berninger se digterlike weemoed geweek in warm folk-rock, gedempte koperblasers en laatnagsoul, skryf Danie Marais. Hy ken vier sterre aan die album toe.

Die omslag van Matt Berninger se album ‘Serpentine Prison’. Foto: Michael Carson

Willie Nelson se Stardust is een van die plate wat die meeste in sy ouerhuis op die draaitafel was, sê Matt Berninger, die hoofsanger-liriekskrywer van The National. Elke snit daarop gee hom ’n gevoel van geborgenheid en herinner aan die verwondering oor ’n lewe wat nog voorlê.

In ’n jaar waarin sy groep vanweë die pandemie nie met hul 2019-konsepalbum, I Am Easy to Find, kon toer nie, het die 49-jarige Berninger besluit om ’n plaat te maak in die gees van Nelson se eiesinnige interpretasies van klassieke jazznommers soos “Stardust” en “Someone to Watch Over Me”.

Hy het Booker T. Jones genader – die legendariese argitek van die Stax-platemaatskappy in Memphis met sy kenmerkende soulklank en die destydse musiekregisseur van Stardust (1978).

Jones, wat Berninger in 2011 genooi het om saam met Sharon Jones ’n duet tot sy The Road from Memphis-album by te dra, het dadelik ingestem. Hy was egter meer geïnteresseerd in die geraamtes van oorspronklike liedjies wat Berninger vir hom gestuur het, as in sy weergawes van gunstelinge deur ander kunstenaars soos The Cure en The Velvet Underground.

Die eindresultaat was nuwe werk wat onder Jones se musikale leiding ander skaduwees van Berninger se baritonstem en sardoniese lirieke verken. Sy liedjies wentel steeds om die onoorbrugbare afstande tussen mense en hul naastes, maar op Serpentine Prison word sy digterlike weemoed geweek in warm folk-rock, gedempte koperblasers en laatnagsoul.

Berninger se eerste solo-ekskursie gaan niemand oortuig wat nog nooit aan The National se mengsel van Joy Division en Leonard Cohen vat kon kry nie, maar vir aanhangers is dit ’n openbaring.

Wat dadelik opval, is watter sleutel-element die sekure slagwerk van Bryan Devendorf in dié groep se klank is. Dit is in kontras met sy meedoënlose, angsbelaaide ritmes wat Berninger se hart-op-die-mou-stem skyn soos dié laaste brandende lig op die dertiende verdieping van ’n donker gebou.

Jones se gesofistikeerde orkestrasie beklemtoon daarenteen die weerloosheid in Berninger se stem en woorde. Die plaat skop af met die bekentenisse van “My Eyes Are T-shirts”:

My eyes are T-shirts, they’re so easy to read

I wear ‘em for you but they’re all about me

They always say “I want you to take me home”

They always say “I want you to leave me alone”

Met Jones se aanslag kry melodrama in liedjies soos “Take Me Out of Town” en “All for Nothing” die oorhand, maar wanneer dit werk, is die instrumentasie en gaskunstenaars ou vriende wat whisky skink, en kom Berninger nuwe plekke by. Jones se Hammond-orrel vul liedjies soos “Love So Little”, “One More Second” en “Collar of Your Shirt” met innige begrip. Gail-Anne Dorsey, wyle David Bowie se gerekende baskitaarspeler, verhef met haar stem die duet van “Silver Springs” tot ’n ingewikkelde romanse, en Andrew Bird se viool vryf Voltaren in jou gemoed. Micky Raphael, wat ook op Stardust gespeel het, se bekfluitjie huil saggies in die gebeentes van die uitstaande titelsnit.

“Serpentine Prison” is die naam wat Berninger ’n dik kronkelende pyp gegee het wat uitloop in die see naby Los Angeles se LAX-lughawe. Jy kan dit sien aan die einde van die musiekvideo vir dié liedjie. Dis hierdie sentrale metafoor wat die beklemming van magtelose middeljarigheid vasvang.

Maar wanneer Berninger in “Serpentine Prison” sing “I walk into walls and I lay awake / I don’t want to give it to my daughter” is dit vergifnis wat jy ervaar. Dan eggo die troos van Nelson se sugtende “Stardust”: “And now my consolation is in the stardust of a song.”

En dan wil jy net “amen” en “dankie” sê.

Top-snitte:

  • “Distant Axis”
  • “One More Second”
  • “Silver Spring”
  • “Collar of Your Shirt”
  • “Serpentine Prison”
Meer oor:  Rock  |  Musiek  |  Danie Marais
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.