Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Bfn-pianis solis in gedenkkonsert
Grethe Nöthling

Bloemfontein. – Vyftien jaar gelede toe Grethe Nöthling die nasionale Lionel Bowman Beethoven-kompetisie gewen het, het sy geen spesiale band met dié komponis gehad nie. Met verloop van tyd het Beethoven se musiek egter ’n al hoe groter plek in haar hart en repertorium ingeneem, daarom dat sy twee van sy werke ingesluit het in die program wat sy vandeesweek in die Nettie Immelman-gedenkkonsert uitvoer.

Dié Bloemfonteinse pianis, wat begin vanjaar as klavierdosent aan die Odeion Skool vir Musiek (OSM) aangestel is, sê sy voel sy verstaan Beethoven se musiek besonder goed.

“Ek het nie in Beethoven gespesialiseer nie, maar ek het al baie van sy sonates en concerto’s uitgevoer.”

Uit Beethoven se 32 klaviersonates het Nöthling een van haar groot gunstelinge, Sonate nr. 17 in D mineur, op. 31 nr. 2, vir haar debuutoptrede in die Vrystaat gekies.

Ook op die program is Liszt se transkripsie van Beethoven se liedsiklus An die ferne Geliebte. Dié werk met sy aaneengeskakelde liedere bevat volgens Nöthling nie veel van Liszt se meestal virtuose verwerkings nie. “Dit bly baie getrou aan Beethoven se oorspronklike komposisie vir klavier en tenoor.”

Dié werk het ’n verband met Schumann se Fantasie in C majeur, op. 17 waarmee Nöthling haar uitvoering afsluit.

“ ’n Tema uit An die ferne Geliebte kom in die Fantasie voor, in die beweging wat Schumann vir sy aanstaande, Clara, geskryf en volgens hom sy passievolste musiek nóg was.

Die Fantasie in sy geheel het Schumann aangepak om geld in te samel vir ’n standbeeld van Beethoven wat toe vir Bonn beoog is.”

Dié standbeeld kan vandag nog in dié Duitse stad gesien word.

Nöthling het ’n B.Mus.-graad aan die Universiteit van Pretoria behaal en het daarna met onder meer die Unisa-beurs vir oorsese studie haar loopbaan in Amerika voortgesit. Sy het ’n meestersgraad aan die Cleveland Institute of Music in 2008 en ’n D.Mus. in 2014 van die University of Iowa verwerf.

Die Nettie Immelman-konsert is sedert 2012 ’n jaarlikse instelling ter herdenking van dié legendariese klavierdosent wat in 2011 op 93 jaar oorlede is.

  • Die konsert is op 12 Mei om 19:30 in die Odeion-teater op die UV-kampus. Toegang is gratis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.