Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Bfn-sanger op pad na Nashville

Om ’n suksesvolle musiekloopbaan in Bloemfontein te hê, kom beslis nie sonder uitdagings nie en as jy boonop jou eie musiek skryf en sing, is die pad nóg moeiliker. Daniel Wesley Africa het egter bewys  met deursettings vermoeë is alles moontlik.

Daniel Wesley Africa
Daniel Wesley Africa

Daniel Wesley Africa, of Danie Wessels soos die meeste dié Bloemfonteinse boorling ken, het egter bewys met die nodige deursettingsvermoë en talent kan jy die grootste uitdagings oorkom. 

Wesley, wat veral bekend is vir sy moderne country-klanke, is pas benoem vir ’n internasionale prys in die Texas Sounds International Country Music Awards, wat elke jaar in Jefferson in Texas gehou word.

Toe hy aanvanklik ’n e-pos van die organiseerders kry, het hy gedink dit is gemorspos. Nadat sy Britse agent ook die e-pos ontvang en ondersoek ingestel het, het die benoeming werklikheid geword.

Wesley werk die afgelope jaar onder die Britse musiekmaatskappy Unie Moller Music (UMM), wat help om sy musiek in die buiteland te bemark.

“Ek dink dit is my pa wat van bo af plan gemaak het dat ek in die suide van Amerika, die geboorteplek van countrymusiek, kom,” sê hy.

Hy vertel hoewel hy nie met countrymusiek grootgeword het nie, was sy pa en naamgenoot ’n musiekgeesdriftige wat hom reeds van vroeg af geleer het van The Beatles, The Rolling Stones en ander rockgroepe uit die sestiger- en sewentigerjare.

“Ek het sowat tien jaar gelede eendag deur ’n musiekwinkel gestap. Op ’n rak het ’n CD-omslag my aandag getrek. Dit was ’n album van Tim McGraw en soos hulle sê die res is geskiedenis.”

Daniel Wesley Africa
Daniel Wesley Africa

Wesley vertel sy passie vir die genre het só gegroei dat dit later ’n droom van hom geword het om eendag na Nashville in Amerika te reis. Hy vertel sy pa, wat in 2016 oorlede is, was altyd sy grootste aanhanger en het geweet dat hy graag eendag na die hartjie van countrymusiek wou reis.

Hy vertel dat hy destyds as negejarige kitaar leer speel het, maar in daardie stadium sy oog net op rugby en atletiek gehad het. “My broer Frans was altyd ’n groot kitaarspeler en het sedert sy laerskooldae reeds in orkeste saam met sy vriende gespeel. Ná skool het ek altyd maar saamgegaan na hul oefensessie en optrede; eendag het ek net besluit ek het nou genoeg gesit en kyk. So het ek in 2003 begin saamspeel,” vertel hy.

Wesley het sy professionele musiekloopbaan as hoofkitaarspeler vir die Suid-Afrikaanse poprockgroep K2 begin. As K2 het hy saam met Frans verskeie ateljee-albums opgeneem en landwyd opgetree. Hy het ook vir verskeie kunstenaars as sessiekitaarspeler gespeel.

In 2016 het Wesley besluit om ’n solorigting in te slaan en ’n moderne countryalbum uit te reik. Sy enkelsnit “Rainmaker” word reeds in Duitsland, Nieu-Seeland en dele van Brittanje op die radio gespeel. Sewe Suid-Afrikaanse radiostasies het ook reeds in sy nuutste enkelsnit, “Only You”, belangstelling getoon.

Wesley skryf sy eie musiek, en sê hoewel hy oorwegend in Engels skryf, wil hy graag eendag nog Afrikaans waag. Hy wil egter nou eers sy stempel in die buiteland afdruk.

Hy sê sy grootste invloede sluit in ’n verskeidenheid van kunstenaars soos McGraw, Keith Urban, Luke Bryan, Brett Young en Florida Georgia Line.

Daniel Wesley Africa
Daniel Wesley Africa

Hy beplan om tien dae lank deur die suide van Amerika te reis. Hy sal vier dae daarvan deelneem aan die Texas Sounds International Country Music Awards, waar hy gehore aan sy eie musiek sal bekend stel. Ná die toekenningsgeleentheid het Wesley se agent reeds ’n paar vergaderings met belanghebbendes in die country-musiekbedryf gereël. Hy verklap dat daar ook ’n moontlikheid bestaan dat hy vir nóg ’n country-musiekprys, ’n Josie-musiekprys, in aanmerking kan kom.

“Nou wag ons net om te hoor,” sê hy huiwerig. 

Die Texas Sounds International Country Music Awards is in 2014 van stapel gestuur en is ’n wêreldwye countrymusiekkompetisie wat aan die wêreld se voorste countrysangers ’n globale verhoog bied in die hartjie van countrymusiekwêreld. Die topmusici in die eerste kompetisie het van agt verskillende lande gekom.

Vandag bring die kompetisie countrysangers van meer as 15 lande bymekaar.

Texas word beskou as die hoofsentrum van countrymusiek en is die geboorteplek van verskeie countrymusiekgenres soos western swing, boogie woogie, rockabilly, red dirt en outlaw country.

Met dié kompetisie word die tradisie voortgesit deur tradisionele en innoverende country-kunstenaars terug na Texas te bring.

  • Wesley tree op 11 Mei op by BeHuman se Whiskey & Gin-fees op die plaas Middelwater in Bloemfontein. Hy deel die verhoog met onder andere Roan Ash en Ivan Roux. Vir meer inligting, besoek Be Human – Middelwater Farm (@BeHumanMiddelwater) op Facebook.
  • Vir diegene wat meer oor Wesley en sy musiek wil weet, besoek danielwesleyafrica.com of volg hom op Facebook.

Meer oor:  Nashville  |  Bloemfontein  |  Country  |  Musiek  |  Sanger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.