Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Blaas-ensemble vir volwassenes in Kaap begin
Die dirigent Faan Malan sal die nuwe Kaapstadse Filharmoniese Blaas-ensemble lei. Foto: Facebook

’n Blaasorkes vir volwasse amateurspelers word tans deur die Kaapstadse Filharmoniese Orkes gevestig en sal gelei word deur Faan Malan, een van Suid-Afrika se voorste blaasmusiekspesialiste en dirigent van die Kaapstadse Filharmoniese Jeugblaas-ensemble.

Malan sê daar is baie speelgeleenthede vir jeugdige blasers tot omtrent 23 jaar oud, maar tans geen ensemble of orkes vir volwassenes wat ’n hoë vlak van spel bereik het, maar ’n ander beroep gekies het nie. Dit sluit blasers in die Kaapstadse Jeugsimfonieorkes in wat nie ’n voltydse musiekloopbaan volg nie, maar steeds aktief wil bly.

“Dokters, sakelui, argitekte en selfs musiekonderwysers wat in blaasinstrumente spesialiseer, het geen optreekans nie. Die behoefte is so groot dat ons in minder as 12 uur ná die aankondiging oor die nuwe blaas-ensemble honderde e-posse van belangstellendes ontvang het,” sê Malan.

Shirley Gueller, die KFO se bemarkingstrateeg, sê die behoefte alleen is nie genoeg om die onderneming te laat slaag nie. “Dit verg ’n toegewyde en daadkragtige musikus om ’n amateurgroep te organiseer, te inspireer en op ’n konsertstandaard te bring en daar te hou. Malan het die regte ingesteldheid en laat dinge gebeur, daarom dat die KFO hom deurentyd sal bystaan.”

Die eerste stap vir die nuwe Kaapstadse Filharmoniese Blaas-ensemble (KFBE) is die hou van oudisies en sodra die ensemble saamgestel is, sal weeklikse repetisies in die Kunstekaap se repetisielokaal begin.

Vier konserte per jaar word beplan waarvan die eerste uitvoering reeds vir 21 Maart in die Kunstekaap geskeduleer is. Malan het selfs al ’n program vir die geleentheid opgestel, naamlik Mozart se Gran Partita, die Cape Town Overture van die Kaapstadse komponis Allan Stephenson en die Australiese komponis Percy Grainger se Lincolnshire Posy.

Malan sê hy sal van tyd tot tyd gaskunstenaars nooi en van die orkesspelers as soliste laat optree. Daarby beoog hy om in die toekoms die Sondagmiddag-konserttyd van ouds in die Kaapstadse stadsaal vir die ensemble te benut.

“Suid-Afrika het agtergeraak by die res van die wêreld waar blaas-ensembles uit ’n groot repertorium van meesterstukke deur komponiste soos Handel, Holst, Strawinski, Donizetti en Vaughn-Williams put.

Kontemporêre werke wat deesdae by buitelandse blaas-ensembles gewild is, is dié van Eric Whitacre, David Maslanka, Adam Gorb en Gary Carpenter.

Dit is dié musiek waaraan hy gehore wil bekend stel, werke uit die repertorium vir die simfoniese blaas-ensemble, asook kamermusiek vir kleiner blaas-ensembles.

“Die oorwoë doel is om musiek van hoogstaande gehalte deur ’n ensemble van ’n hoë standaard uit te voer.”

Belangstellendes kan Malan kontak by faanmalan@gmail.com.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.