Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Bloedrivier-gelofte nou getoonset, album kom binnekort

Die Gelofte is getoonset en sal eersdaags in Afrikaans gesing kan word. Dit word binnekort as deel van ’n album uitgereik.

Johan Vorster en Christoph Kotzé van Inhoud Huis Musiek het saamgewerk met die toonsetting en dit word gesing deur Chris Chameleon, Adam Tas, Appel, Ghapi en Juan Boucher.

Johan Vorster

Die Gelofte is die eed wat die Voortrekkers op 16 Desember 1838 onder Sarel Cilliers afgelê voor die Slag van Bloedrivier.

“Die Gelofte is ’n gebed wat in 1838 geskryf is,” sê Vorster. “Ons het dit getoonset, want die gebed is ’n verklaring van mense se afhanklikheid teenoor God. Daar is ’n wanhopigheid onder mense en die Here is die antwoord.”

Vorster is ook die komponis van die lied “De la Rey” wat sowat tien jaar gelede deur Bok van Blerk gewild gemaak is.

Die nuus van die toonsetting het verskillende reaksies by kommentators uitgelok.

Dit is nie ’n proteslied nie, maar ’n aangrypende lied wat wye aanklank onder Afrikaners gaan vind, meen dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK wat Vorster later vanjaar vereer vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek. Die FAK steun dié toonsetting; Vorster het vroeër die lied vir Langner gespeel.

“Dit is ’n verwerking van die oorspronklike woorde van die 1838-Gelofte. In die gees van die Gelofte sou dit selfs as ’n gewyde, of geestelike lied beskryf kan word.”

Langner meen daar is deesdae min dinge in Suid-Afrika wat nie omstrede is nie en wat nie “’n koor van anti-Afrikanerprotes tot gevolg het nie”.

Langner meen Suid-Afrikaners moet oor sake soos die Gelofte begin ontspan en dat daar “met ’n gesindheid van wedersydse respek vir mekaar die ruimte gebied moet word om kultuur en diversiteit singend te vier”.

Dit is die opwarming van ’n primêre Afrikaner-nasionalistiese mite en is meer as net ’n deursigtige poging om geld uit nostalgie oor “vergange wit oppergesag te maak”, meen prof. Christi van der Westhuizen, skrywer van Sitting Pretty – White Afrikaans Women in Postapartheid South Africa.

“Dit is ’n kulturele vergestalting van die huidige stryd oor die inhoud van Afrikaneridentiteit. Om dié woorde in 21ste eeuse, demokratiese Suid-Afrika as ’n lied te probeer herpopulariseer, is ’n poging om ’n slag te slaan vir ’n spesifieke segment van Afrikaners wat ’n patriargale witheid, gerugsteun deur ’n eng lees van die Bybel, probeer herstel in hul eie gemeenskappe, huishoudings en in daardie instellings (kerke, skole en universiteite) waar Afrikaners in beduidende getalle voorkom. Gelukkig verteenwoordig hierdie tendens slegs een van talle Afrikanerposisies vandag.”

Ons moet juis die nuanses van die geskiedenis in ons hedendaagse kommentaar probeer uitwys.
Dr. Leslie van Rooi

Die akademikus Andries Bezuidenhout, wat hier in sy hoedanigheid as Afrikaanse digter en sanger kommentaar lewer, sê niemand behoort die reg te hê om ander kunstenaars te sensureer nie.

“Aan die ander kant moet ’n mens seker dink aan die uitwerking wat dit op ’n baie sensitiewe saak – grondbesit – in ons land kan hê. Gaan die lied bydra tot ’n oplossing, of petrol op die vuur gooi?”

Daar is min liedere in Suid-Afrika wat neutraal is, meen dr. Leslie van Rooi, senior direkteur: sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch.

“Daar is ook geen lied wat ons sing wat sonder konteks is nie. Gegewe ons geskiedenis beteken dit dat die liedere wat ons sing bepaald anders (kan) land by mede-Suid-Afrikaners wat nie ons geskiedenis en dalk ook nie ons kultuuragtergrond deel nie.

“Moet ons hierdie liedere sing? Niks verhoed ons seker nie. Maar ons moet ook weet dat dit ’n effek kan hê anders as ons bedoeling en dalk anders as wat ons vermoed het.”

Van Rooi meen ook ’n mens moet nie kultuurgeskiedenis oorromantiseer nie.

“Ons moet juis die nuanses van die geskiedenis in ons hedendaagse kommentaar probeer uitwys. Dit geld veral liedere met ’n sterk Christelik-nasionale aard en liedere wat direk teenoor mede-Suid-Afrikaners gesing word. En in ons land is daar vele voorbeelde vanuit verskillende groepe.”

Meer oor:  Inhoud Huis Musiek  |  Juan Boucher  |  Christoph Kotzé  |  Adam Tas  |  Ghapi  |  Johan Vorster  |  Chris Chameleon  |  Appel  |  Die Gelofte  |  Getoonset  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.