Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Bloemfonteinse jeugvriende gee uitvoering in VSA

Twee Bloemfonteinse jeugvriende wat as volwassenes hul musiek op verskillende vastelande beoefen, gee volgende week saam ’n uitvoering in Amerika.

Hanrich Claassen

Hanrich Claassen, die artistieke direkteur en dirigent van die Florida-jeugsimfonieorkes (FSYO) in Orlando, Amerika, het die Pretoriase pianis Charl du Plessis genooi om as solis in hul jaarlikse galakonsert op te tree.

Die klavierconcerto Rhapsody in Blue van George Gershwin was vir albei ’n vanselfsprekende keuse, hoewel om verskillende redes.

Claassen sê: “Amerikaanse werke kry voorrang in die galakonsert en met die orkes se Amerikaanse toer en optrede in Carnegie Hall op 24 Junie om die draai is dié concerto die ideale voorbereiding.”

Du Plessis sê “toe ons op universiteit was, het Hanricheenkeer vir my die rapsodie se partituur as geskenk van oorsee gebring en gesê hy dink dit is ’n werk wat ek behoort te leer speel. Ek speel vandag nog uit daardie kopie. Toe ons iets ‘populêr’ vir die galakonsert moes kies, was die Gershwin-werk ’n uitgemaakte saak.”

Die twee vriende het voorheen in Sjanghai en Wene saam opgetree, maar hierdie konsert is op ’n heelwat hoër vlak.

Claassen sê Florida het ses jeugsimfonieorkeste en die een wat hy lei, word vergelyk met die bestes in Europa en Asië. Dit is bevestig toe die FSYO verlede jaar die naaswenner in ’n internasionale kompetisie vir jeugorkeste in Wene was.

Charl du Plessis

Du Plessis, ’n Steinway-kunstenaar, sal op die besoek aan Amerika ook opnames in New York se Steinway Hall vir die nuwe reeks Spirio-vleuelklaviere maak. Op dié klavier kan die eienaar in die gemak van sy huis na die Steinway-pianis van sy keuse luister deur sy naam op ’n tablet te kies. Met die druk van ’n knoppie speel die Spirio dan vanself, soos die “player piano” van ouds.

* Die galakonsert is op 14 April in die Plaza Live Theatre in Orlando.

Hanrich Claassen in ’n neutedop
Dié tjellis en dirigent het ’n BMus-graad met klavier en tjello as hoofinstrumente aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) behaal. Hy het dit opgevolg met ’n MMus aan die Universiteit Stellenbosch en ’n onderwysdiploma van Unisa.

In sy studentejare het hy talle pryse gewen en was in 2002 ’n semifinalis in die Unisa Nasionale Strykerkompetisie en die naaswenner in Unisa se oorsese beurskompetisie.

Hy was die bronsmedaljewenner in die Len van Zyl-dirigeerkompetisie en onlangs ’n semifinalis in die prestigeryke Blou Donau Internasionale Opera-dirigeerkompetisie.

In 2003 het hy sy tjellospel aan die Escola Superior de Artes Aplicadas in Portugal verfyn.

Dié oudleerling van die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein het as tjello- en klaviersolis saam met die Johannesburgse Simfonieorkes, die Vrystaatse Simfonieorkes (FSSO) en die KwaZulu-Natalse Filharmoniese Orkes opgetree.

Hy was ook ’n tjellis in verskeie simfonieorkeste in Suid-Afrika, Portugal, Bahrein, China en Amerika.

In Sjanghai en Wene het Claassen musiekonderrig aan internasionale skole gegee en hy was die assistent-musiekdirekteur, tjellis en dirigent van die Sjanghai Barok-kamerorkes.

Claassen is die afgelope vier jaar verbonde aan die Montverde Academy Music Conservatory in Orlando.

Charl du Plessis in ’n neutedop

Dié veelsydige musiekkunstenaar het aan die Universiteit van Pretoria (UP) studeer waar hy die eerste was om ’n doktorsgraad in die voordrag van klassieke en jazzmusiek te verwerf. Hy het ook talle pryse in Unisa en die Suid-Afrikaanse Musiekregteorganisasie (Samro) se kompetisies gewen.

In 1999 het hy sy internasionale debuut gemaak en in 2010 was hy die jongste pianis in Afrika wat die status van Steinway-kunstenaar verwerf het.

Op internasionale konserttoere het hy opgetree in Londen se Royal Albert Hall tot Sjanghai se Oriental Arts Centre en hy word elke jaar saam met sy triolede teruggenooi as die enigste jazz-geörienteerde ensemble op die musiekkamp in Ernen, Switserland.

In Suid-Afrika het hy, soos Claassen, as solis saam met al die belangrike simfonieorkeste opgetree.

Sedert hy die Charl du Plessis-trio met die basspeler Werner Spies en die perkussiespeler Hugo Radyn in 2006 gestig het, het hy hom ook as verwerker en komponis gevestig. Du Plessis kombineer klassieke musiek en jazz in verwerkings wat plaaslike en internasionale gehore beïndruk. Die Baroque Swing-CD’s getuig hiervan.

Hy het reeds agt CD’s en twee DVD’s opgeneem en is onder meer met ’n Sama vir beste klassieke album en ’n kykNET-Fiësta-prys vir sy Boogie Woogie Big Band-optrede in 2017 op die KKNK bekroon.

Du Plessis is ook ’n klavierdosent in jazz aan die UP en die afgelope 18 jaar Nataniël se eksklusiewe begeleier.

Meer oor:  Charl Du Plessis  |  Orlando
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.