Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Bloemfonteinse tjellis en pianis te sien in Johannesburg
Die tjellis Anmari van der Westhuizen. Foto’s: Verskaf

Die Bloemfonteinse tjellis Anmari van der Westhuizen en pianis Anneke Lamont het nie ’n oomblik gehuiwer toe hulle ’n uitnodiging van die Johannesburgse musiekvereniging ontvang om die naweek daar op te tree nie.

As duo het hulle ’n program vir verlede jaar gereed gehad waarvan die uitvoering ongelukkig weens die koronaviruspandemie in die slag gebly het.

“Dit was dus maklik en vinnig om die stukke weer onder die knie te kry. En dis drie fantastiese werke,” vertel Lamont, wat soos Van der Westhuizen in ekstase is oor ’n geleentheid om ná meer as ’n jaar voor ’n gehoor te speel.

Die ankerwerk is Brahms se Sonate vir tjello en klavier in D majeur. Daarby voeg hulle Beethoven se bekoorlike Sewe variasies op die tema van Bei Männern, welche Liebe fühlen uit Mozart se opera Die Zauberflöte en Fantasie über kleinrussische Lieder deur David Popper.

Brahms het die sonate oorspronklik vir viool en klavier geskryf en dit later self vir tjello en klavier getransponeer. Van der Westhuizen sê as ’n pianis die werk eers saam met ’n violis gespeel het, is hulle nie gretig om dit in ’n ander toonaard in te studeer nie, maar Lamont het nie ’n probleem daarmee nie.

Anneke Lamont, pianis.

Die sonate is in tipiese Brahms-styl. Dit is grootse musiek, orkestraal met uitgebreide motiewe en ’n kragtige ritme.

Die stadige tweede deel bevat elemente uit Chopin se Dodemars waarin die klavier die leiding neem, terwyl die derde deel onverwags op ’n gedempte nabetragtende noot eindig.

In Beethoven se Sewe variasies sal luisteraars onmiddellik Pamina en Papageno se duet uit die eerste bedryf van die Zauberflöte herken. Dié melodie word as ’n dialoog in gelyke maat tussen die klavier en tjello in ses variasies uitgebrei waarvan die voorlaaste variasie (adagio) die mees liriese is. Die werk sluit af met ’n vrolike, lang en vinnige finale.

Popper, gebore in Boheme (nou Tsjeggië), was ’n uitvoerende tjellis van formaat en sy komposisies is gevolglik sterk tjellisties geskryf, sodanig dat van sy werke vir byna alle tjellokompetisies voorgeskryf word.

Die klem val dus in die Fantasie op. 43 op die virtuoos-uitdagende tjellopart, terwyl die pianis die musiek met mooi klankkleure ondersteun.

Popper (1843-1913) was getroud met die pianis Sophie Menter, een van Liszt se studente, wat saam met hom die wêreld platgereis het vir konserte. Hulle was ’n ware glanspaartjie van hul tyd en is in die pers beskryf as “die wêreldbekende David Popper en sy pragtige vrou”.

Die rede wat navorsers aanvoer vir Popper se betreklike onbekendheid as komponis is dat hy nie “ingestel was op selfbemarking soos Liszt nie” – hy het al sy aandag aan sy uitvoerings en komposisies geskenk.

Van der Westhuizen en Lamont voer die program ook op 6 Mei in die Odeion in Bloemfontein uit. Datums vir hul optredes in Knysna en Kaapstad moet nog bevestig word.

18 April om 16:00, Linder-ouditorium, Johannesburg. Die kaartjies kos R100 by info@jms.org.za of 011 728 5492. Net 100 mense word toegelaat.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.