Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Boewe buit ‘Voice SA’-sanger se toerusting

’n Musikant van Durbanville sit in sak en as nadat sy kitaar, klawerbord en musiektoerusting van sowat R44 000 oornag uit sy motor gesteel is.

Aston Wylie (28), ’n deelnemer aan die tweede reeks van The Voice SA, het aan Netwerk24 gesê hy het boonop die grootste fout van sy lewe gemaak omdat niks daarvan verseker is nie.

Volgens Wylie het hy Sondag omstreeks 05:00 weens “vreemde geluide” wakker geskrik. Nadat hy deur die huis gestap het, het hy gedink dit is maar net die wind en weer gaan slaap – ’n paar uur later het hy egter besef dat dit baie meer as dit was.

“My vrou het omstreeks 10:30 winkel toe gegaan en agtergekom dat iemand in haar motor was. Die deur was oop, dit was deurmekaar binne en die babastoeltjie was omgedop.

“Ons is toe na my motor en het dadelik besef dat my klawerbord en kitaar weg is. Ons het die polisie ontbied en, terwyl ons besig was om ’n verklaring af te lê, besef dat nog goed weg is: My ukelele en my gig-sak met my toerusting – omtrent alles wat ek nodig het om op te tree.”

Hoewel hulle in ’n kompleks met vier huise woon, wat hy beskryf as “die veiligste plek waar ek nóg gewoon het”, het die diewe in die nag toegang gekry tot die kompleks deur die voorhek van sy spoor af te tel en oop te stoot.

Aston Wylie met die kitaar wat diewe Sondag gesteel het. Foto: Verskaf

Volgens Wylie was hy weens die pandemie die afgelope ses maande werkloos. Hy het egter onlangs weer ’n vertoning losgeslaan, waarvoor hy verlede week begin repeteer het. Daarom was al sy toerusting in sy motor.

Dié toerusting sluit in ’n Yamaha FG800-kitaar en koffer (van R8 000), ’n Casio CPD 2010-klawerbord (R12 000), ’n TC Helicon Voice Live 3 Xtreme loop pedal (R15 000), ’n Roland RC-20 loop station (R3 000), ’n Tanglewood-ukelele (R1 500), twee Honner-mondfluitjies (R2 000), ’n Shure-mikrofoon (R1 000) en ’n sak vol kabels en toebehore (R1 500).

“Dit suck,” sê hy oor dié toerusting wat nie verseker is nie. “Die TC Helicon was my waardevolste stuk toerusting – ek het dit net ’n paar maande voor die inperking gekry. Ek wou dit nog alles verseker, maar toe die inperking begin en ek al die toerusting maande lank nie gebruik nie, het ek nie voortgegaan met my plan om dit te verseker nie. Dis duidelik die grootste fout in my lewe.”

Hy het gesê hy het sy kitaar en klawerbord reeds op skool gekry.

Wylie het reeds ’n gedetailleerde lys met foto’s van al sy toerusting gemaak en dit aan talle winkels wat tweedehandse goedere verkoop, ook Cash Converters en Cash Crusaders, gestuur. Hy “smeek” enigiemand wat enige van dié toerusting êrens (ook op aanlyn markte) sien om hom dadelik by 072 711 1373, per e-pos by info@astonwylie.co.za, of op die Facebook-blad https://www.facebook.com/astonmusician te kontak.

Sers. Samuel Ludolph van die plaaslike polisiekantoor se speurtak het aan Netwerk24 bevestig dat ’n saak van diefstal uit ’n motor ondersoek word. Enigiemand met inligting oor die saak kan hom by 021 970 5600 bel.

Meer oor:  The Voice  |  Musiek  |  The Voice Sa  |  Aston Wylie  |  Diefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.