Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Briewe tussen Van Wyk en Hartman ‘om verskeie redes uniek’
Arnold Van Wyk (links) en Anton Hartman op die omslag van die splinternuwe publikasie ‘Sulke vriende is skaars’. Foto’s: Verskaf

Ná sy opspraakwekkende boek Nagmusiek oor Arnold van Wyk het die musikoloog Stephanus Muller weer ’n werk oor die komponis gepubliseer, dié keer saam met die musikoloog Stephanie Vos. Sulke vriende is skaars handel oor die jare lange briefwisseling tussen Van Wyk en die dirigent Anton Hartman. Elretha Britz het die vrae gevra en Muller en Vos het geantwoord.

Die uitgebreide Arnold van Wyk-projek bied ’n legio onderwerpe vir publikasies. Waarom het julle as redakteurs op die briefwisseling tussen die komponis Arnold van Wyk en die toonaangewende rolspeler in musiek Anton Hartman besluit?

Muller: Die korrespondensie tussen Hartman en Van Wyk is om verskeie redes uniek. Omdat die twee mans nooit naby mekaar gewoon het nie, was briewe hul vernaamste manier van kommunikasie. Die briefwisseling was gevolglik meer omvangryk as, byvoorbeeld, dié tussen Van Wyk en sy mede-Stellenbosse komponis Hubert du Plessis.

Daarby was Hartman ’n belangrike figuur in die tyd toe Afrikaners die politieke mag in Suid-Afrika gehad het. Die briewe bied dus ’n blik op die gesprek tussen geïnstitusionaliseerde Afrikanerbelange tydens apartheid en denke oor musieksake.

Stephanus Muller, mederedakteur van ‘Sulke vriende is skaars’.

In die opsig lewer die briewe ’n bydrae tot die breër Suid-Afrikaanse historiografie deurdat dit wys hoe musiek (soos die letterkunde, visuele kuns en argitektuur) in ’n politieke en maatskaplike konteks verweef was.

Het Nagmusiek enigsins aanleiding gegee tot Sulke vriende?

Muller: Nagmusiek beskryf Van Wyk se lewe en nalatenskap so dat dit nie ’n manifes word van ‘só was dit in die goeie ou dae’ nie. Die kern is die begrip dat Van Wyk ’n belangrike komponis was, maar dat nóg sy werk, nóg sy lewe ’n rasionalisering daarvan as apolitiese estetiese kunstenaarskarikatuur is.

Die korrespondensie tussen Hartman en Van Wyk sit op ’n manier die werk voort deurdat dit in Van Wyk en Hartman se eie woorde die kunstenaars- en ontwikkelingsprojek oor musiek tydens apartheid uitstippel.

Vertel meer oor die samestelling van Sulke vriende

Vos: Sulke vriende is skaars bestaan uit 133 briewe wat Van Wyk en Hartman tussen 1949, toe albei se loopbane nog in ’n opbloeifase was, en 1981, die jaar voor Hartman se dood vir mekaar geskryf het.

Hartman se loopbaantrajek was een van ’n fatsoenlike, institusionele en strukturele ontwikkeling van kunsmusiek in Suid-Afrika. Hy het as jare lange musiekhoof by die SAUK een van die magtigste posisies in Suid-Afrika se kunsmusiek beklee en as voorsitter van die FAK se musiekkommissie ’n toonaangewende rol in die ontwikkeling van die Afrikaanse musiekkultuur gespeel.

Van Wyk se loopbaan as skeppende kunstenaar – as dosent aan die Suid-Afrikaanse Musiekkollege van die Universiteit van Kaapstad (UK) en later aan die Universiteit van Stellenbosch – was minder klinkklaar en ’n eksentrieke uitdaging. Hoewel hy institusioneel verbonde was, het hy kreatiewe vertwyfeling, politieke ambivalensie en onuitgesproke beroepstruikelblokke ondervind.

Die briewe bied ’n blik op die kunsmusieklewe in Suid-Afrika in ’n tyd toe dit as ’n nasionale “eie” kunsvorm gevestig is. Dit ook ’n noukeurige rekonstruksie van ’n vergane musiekwêreld, van sy rolspelers en persoonlikhede, konsertpraktyke en -landskappe.

Die leser maak ook kennis met Van Wyk en Hartman as individue met humor, lief en leed en hul blik op die musiekwerke, -aktiwiteite en -figure van hul tyd.

Hul verhouding is kompleks. Hartman bewerkstellig vele opdragwerke en uitvoeringsgeleenthede vir Van Wyk se komposisies terwyl hul vriendskap gerig is op ’n gedeelde belang in kunsmusiek, maar nooit noemenswaardig verby dié van goeie kollegas verdiep het nie.

Die vriendskap tussen ’n gay man (Van Wyk) en ’n konserwatiewe gesinsman kom ook ter sprake, hoewel dit in hul briewe deurgaans onaangeraak gebly het.

Stephanie Vos, die jonger mederedakteur van ‘Sulke vriende is skaars’.

Hartman was deur lang tye van kreatiewe vertwyfeling ’n lankmoedige en standvastige ondersteuner vir Van Wyk, terwyl Van Wyk waarskynlik die artistieke meerdere in die kunsvorm was.

Watter rol het hul kommunikasie in die klassiekemusieklandskap in Suid-Afrika gespeel? Het dit dalk tot komposisies, uitvoerings, navorsing gelei?

Vos: Die kunsmusiekgemeenskap was in daardie tyd ’n relatief klein en hegte een en baie van die opdragwerke en uitvoerings het uit gereelde kontak tussen vriende en kennisse gespruit.

Van Wyk sal byvoorbeeld noem dat hy aan ’n komposisie werk, en Hartman sal die geleentheid sien om dit by een van sy programme in te sluit.

Is die feit dat die briewe in Afrikaans geskryf is van bepaalde belang?

Muller: Omdat ons (Vos en Muller) aan verskillende generasies behoort, is die betekenis van so ’n boek in Afrikaans vir ons verskillend.

Die briefwisseling toon dat groot dele van die kultuurhistoriese stukke in die 20ste eeuse Suid-Afrika in Afrikaans geskryf is. Dit is ’n erfenis wat gekoester moet word.

Talle orkeste, musici se loopbane, nuwe kunsmusiekkomposisies het in die maalkolk van Afrikaner-nasionalisme ontstaan. Afrikaans was die agtergrond waarteen die kunsmusieklewe ontwikkel is.

In die huidige demokratiese Suid-Afrika word van die dinge as ’n nie-eksklusiewe Suid-Afrikaanse musiekerfenis bejeën.

Vos: Die Afrikaans in die briewe is integraal tot die tekstuur en patina van die soort diskoers wat dit uiter. Die politieke ruimte rondom die taal het egter verskuif: Waar dit met ’n soort gemak ’n gravitas en standaard aanneem as voertaal vir die kunsteprojek in die dekades 1950-1980, lees dit nou as ’n baie bepaalde register wat herkenbaar aan ’n bepaalde era en geskiedenis behoort.

Nagmusiek het destyds nogal opslae in party kringe gemaak. Is Sulke vriende van ’n ander aard?

Muller: Dit is ’n konvensionele boek sonder opspraakwekkende openbarings. Dit wys op die prosaïese tred van die geskiedenis waarin gewone mense gewone en buitengewone dinge doen.

Julle het meer as tien jaar aan die boek gewerk. Hoe moeilik en tydrowend is so ’n uitgerekte proses?

Muller: Sulke vriende is gedoen terwyl ons loopbaanskuiwe gemaak en talle ander projekte verrig het. Ek het Nagmusiek voltooi en gepubliseer en die Africa Open Instituut gestig.

Vos: Ek het my PhD in Engeland verwerf en ’n projek oor populêre musiek by Africa Open Instituut van stapel gestuur.

Die manuskrip moes wag totdat ons weer in dieselfde land was en tyd kon vind om die drade op te tel. Dit was beslis ’n gesukkel om ná ’n lang ruk ons notas, argiewe en prosesse te ontsyfer.

Maar ons het ook in die tyd materiaal teëgekom wat ons voorheen nie kon opspoor nie. So het ’n hele paar ekstra legkaartstukke die verlede ingevul.

Beoog julle nog ’n boek saam, hetsy oor Van Wyk of ’n ander onderwerp?

Vos: Sedert ons die boek begin het, het my navorsing en skryfwerk na Suid-Afrikaanse jazz en populêre musiek geskuif. My volgende skrywe sal waarskynlik daaroor handel.

Muller: Ek is maar altyd aan die skrop rondom iets. Dit is egter selde seker of dit tot ’n boek, ’n artikel of ’n mieliepit sal lei.

Sulke vriende is skaars: Die briewe van Arnold van Wyk en Anton Hartman, 1949-1981 beslaan 509 bladsye in kleur en bevat verskeie argieffoto’s van Van Wyk en Hartman, asook argiefmateriaal.

Dit is uitgegee deur Protea Boekhuis en kos R395 by Protea-boekwinkels en aanlyn op die webwerf: https://proteabooks.com.

• Vos is ’n dosent in musikologie by die Universiteit Stellenbosch. Muller is professor in musikologie en direkteur van die Africa Open Instituut vir Musiek, Navorsing en Innovasie by die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.