Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Buskaid-strykers in 5 konserte te hoor
Die internasionale pianis Melvyn Tan tree saam met die Buskaid-strykensemble in aanlyn konserte op. Foto: Buskaid

Hoewel die Buskaid-opleidingsprojek vir jong strykers in Soweto weens die inperkings die afgelope jaar stil geraak het, sal hulle nou in ’n reeks van vyf konserte gehoor kan word wat aanlyn uit Amerika uitgesaai word.

Dié konserte is oor sowat vyf jaar opgeneem en sal oor ’n tydperk van vyf maande op die Princeton-simfonieorkes se webtuiste gestroom word.

Die Princeton-simfonieorkes is ’n geruime tyd al betrokke by die Buskaid-progam, wat te danke is aan die bemiddeling van Marc Uys, ’n Suid-Afrikaanse violis en die uitvoerende hoof van die Princeton-orkes.

Die program vir die eerste twee konserte is bekend gemaak en begin met Brilliant Baroque to Cool Kwela wat van 29 tot 31 Januarie aangebied word.

Melvyn Tan, ’n internasionale pianis is die gaskunstenaar en die Buskaid-altviolis Tiisetso Mashishi die solis. Hy kan in Bruch se Romanze vir solo-altviool en orkes gehoor word.

Werke met strykorkes sluit in Rameau se ouverture tot Naïs, sy rigaudons uit Dardanus en die laaste deel uit Mozart se Klavierconcerto nr. 13 in C majeur. Die Buskaid-strykensemble voer ook Sancho’s Dance Mix uit wat die Amerikaanse komponis Julian Grant spesiaal vir Buskaid geskryf het.

Van die liedere op die program is “Too Darn Hot”, “2 Bob” en “Never Change My Mind” met Cecelia Manyama, Tumi Mapholo, Tshegofatso Matabane en Mathapelo Matabane as sangsoliste.

Die tweede van die vyf konserte, Soulful and Scintillating Solos, kan van 26 tot 28 Februarie gestroom word.

Marc Uys, ’n Suid-Afrikaanse violis en uitvoerende hoof van die Princeton-simfonieorkes in Amerika, behou bande met die Buskaid-projek in Soweto. Foto: Verskaf

Tan is weer die gaskunstenaar en hierdie keer is die Buskaid-violiste Mzwandile Twala, Simiso Radebe en Kabelo Monnathebe die soliste.

Hulle voer ook Bloch se Nigun en Navarra van Sarasate uit.

Dieselfde sangers as in die eerste konsert sal ’n verskeidenheid gewilde liedere sing wat “Sinnerman” en “What’ll I do” uit My Funny Valentine van Irving Berlin insluit.

Die Buskaid-strykorkes tree op met Mozart se bekende Eine kleine Nachtmusik en ligte nommers soos “Midnight Ska”, “Kwela Kwela” en “Mbayi Mbayi”.

Rosemary Nalden van Princeton is die musiekregisseur vir al die konserte.

Die oorblywende drie konserte sal later bekend gemaak word.

Uys sê hy het van Buskaid bewus geraak toe hy nog in Suid-Afrika gewoon het en sedert trustees van die Princeton-orkes die projek in Soweto besoek het, het dié buitelandse betrokkenheid verder ontwikkel.

Buskaid bied ’n veilige opleidingshawe vir 120 kinders en het in sy 23 bestaansjare 26 oorsese toere onderneem.

Musiekonderwysers word ook hier opgelei.

Besoek die webtuiste https://princetonsymphony.org/calendar/buskaid-musical-miracle en klik op “Discover more” by die onderskeie konserte vir ’n skakel na die koop van kaartjies vir die aanlyn uitvoerings.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.