Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Calahan se ‘Gold Record’ is luistergoud in hinkepinkjaar

Bill Callahan se nuwe album, Gold Record, is nie heeltemal in dieselfde epiese klas as sy monumentale voorganger nie, maar in ’n hinkepinkjaar soos 2020 is luistergoud soos dié so kosbaar soos vriendskap, skryf Danie Marais.

****

“Hello, I’m Johnny Cash”. Só begin Bill Callahan sy hipnotiese Gold Record – die sewende betowerende album wat die kunstenaar, voorheen bekend as Smog, onder sy eie naam gemaak het. Met daardie woorde – gesê in dié 54-jarige troebadoer van Austin in Texas se skynbaar al dieper wordende bariton – steek hy ’n kers in jou donker hart op vir die ontslape “Man in Black” en vervul hy jou met die vreemde gevoel dat Cash sy seën oor hierdie musikale verrigtinge en die luisteraar uitspreek.

“Gold Record” deur Bill Callahan

Wat volg, is egter geen huldeblyk aan Cash nie, maar ’n rustig kabbelende country-folk-ballade oor ’n limousinebestuurder wat ’n pasgetroude paartjie na ’n hotel neem en op pad sy lewenswysheid deel:

I said when you are dating, you only see each other

And the rest of us can go to hell

But when you are married, you’re married to the whole wide world

Callahan eindig die geïnspireerde openingsnit, “Pigeons”, met die ikoniese slotwoorde van Leon Cohen se “Famous Blue Raincoat” – “Sincerely L. Cohen”. Vir ’n man wat al as die “lo-fi Leonard Cohen” bestempel is, is daardie aanhaling sowel eerbetoon as ’n sjarmante skalkse verklaring van stille selfvertroue in die onmiskenbaarheid van sy eie sagte stem wat al hoe helderder in die geselskap van waarlik groot sanger-liedjieskrywers opklink.

Op Callahan se vorige uitreiking, Sheperd in a Sheepskin Vest (vir my een van die topvyfplate van 2019), moes sy aanhangers ses jaar lank wag, maar die feit dat Gold Record slegs ’n jaar later verskyn het, dui daarop dat dié man nou behoorlik deur die muse geteister word.

Callahan gee in ’n onderhoud te kenne dat hy nie ’n kreatiewe krisis voor Shepherd beleef het nie. Hy het net ander verantwoordelikhede gehad: “Hoeveel liedjies gaan jy skryf as jou huis aan die brand is?”

Die vlamme waarna hy verwys, was vaderskap en die dood van sy ma wat uiteindelik ook ’n dringende skeppingsdrang ontlont het. Sy laaste twee albums draai om die verwondering van ’n man wat in sy vroeë 50’s verstom word deur die nuwe ervaringswêrelde waartoe ’n huwelik en ouerskap toegang verleen. Op sy jongste verken hy die avontuur van ’n doodgewone lewe met ’n vrou en kind verder.

Gold Record is nie heeltemal in dieselfde epiese klas as sy monumentale voorganger nie, maar dis veel meer as net ’n gul toegif. Liedjies soos “Another Song”, wat hy oorspronklik vir Emmylou Harris geskryf het, en “35”, wat vir Bonnie Raitt bedoel was, is die soort folk- en country-rock waarmee jy warm en getroos kan ry en ry deur Valiant Swart se donker vallei.

Bill Callahan Foto: Frank Hoensch

“Cause when I looked out back / The road was pulling out so soft, fast and black / You know it takes what it gives back”, sing hy in “35”.

Callahan praat met elke hunkerende siel wat weet jy kan ook in jou eie voorstedelike agterplaas soos “a poor lonesome cowboy and a long way from home” voel.

Met Derek Phelps se Flügelhorn-trompet op ’n liedjie soos “Cowboy” steek jy op jou rusbank se rug riviere in vloed oor terwyl die sonsondergang die wye prêrie van jou binneste Grand Canyon-rooi kleur.

Callahan se musiek skep ’n streek in die gemoed waar ’n plaat soos Gold Record goue status het. Ek sou graag daar ’n lap grond wou koop en ’n eenvoudige huis wou bou. Want wanneer hy in die laaste snit, “As I Wander”, mymerend sing-sug “The life of a magician’s dove I’ve led”, is daar ook ’n hoopvolle fladdering wat uit jou bors ontsnap.

Genade is nooit ontydig nie, maar in ’n hinkepinkjaar soos 2020 is luistergoud soos dié so kosbaar soos vriendskap.

Top-snitte:

“Pigeons”

“Another Song”

“35”

“The Mackenzies”

“As I Wander”

Meer oor:  Danie Marais  |  Album  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.