Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Callahan, die ‘lo-fi Leonard Cohen’, begogel
Die omslag van Bill Callahan se jongste album, Sheperd in a Sheepskin Vest.

Bill Callahan – Shepherd in a Sheepskin Vest (* * * *)

“Hierdie lewe – met sy komplikasies en telefoonoproepe – is onbetaamlik, en ’n mors van tyd. Ek wil my hande in helder water steek.” Só skryf Raymond Carver aan die einde van sy gedig “The Trestle” in verlangende herinnering aan die manier waarop sy pa met bak hande en oorgawe bergwater gedrink het op visvangekspedisies in sy kinderdae.

Om jou te verdiep in Callahan se musiek is om diep van koel, helder water te drink, ver weg van die onwaardige war van hierdie lewe. Callahan is al die “lo-fi Leonard Cohen” genoem na aanleiding van sy merkwaardige lirieke en vroeë opnames onder die kunstenaarsnaam Smog, waarin jy die bandopnemer nog kan hoor sis. Maar vanuit Smog het Callahan oor die loop van 16 plate uit die rookmis van sy eie koorsige soeke te voorskyn gekom as ’n troebadoer wat begoël met raaiselagtige, liriese eenvoud gehul in dromerige, jazz-erige, country- en folk-rock uit die binneste van binnekamers.

In die ses jaar sedert sy vorige album, die uitstekende Dream River, het Callahan getrou, pa geword en sy ma aan die dood afgestaan. Dit was vir hom kenteringsjare. In die uitstaande “Song of the Sea” sing hy:

I got married to my wife, she’s lovely

And I had a son

Giving birth nearly killed me

Some say I died

And all that survived was my lullabies

The panic room is now a nursery

Oor 20 kronkelende, kabbelende wiegeliedjies verken die 53-jarige Callahan hierdie nuwe lewensfase met digterlike verwondering op Shepherd in a Sheepskin Vest. Dankbaarheid, verlies, humor, selftwyfel en selfbedrog vloei en kolk onvoorspelbaar deur onthutsende beelde onder begeleiding van ingedagte kitare, klavier, orrel, kontrabas, gedempte perkussie en bekfluitjie, hier en daar.

Oor 20 kronkelende, kabbelende wiegeliedjies verken die 53-jarige Callahan hierdie nuwe lewensfase met digterlike verwondering op Shepherd in a Sheepskin Vest. Dankbaarheid, verlies, humor, selftwyfel en selfbedrog vloei en kolk onvoorspelbaar deur onthutsende beelde onder begeleiding van ingedagte kitare, klavier, orrel, kontrabas, gedempte perkussie en bekfluitjie, hier en daar.

Hy boei met ballades wat jou soos drome ontwyk, maar op nuwe gedagtespore lei. Sy woorde bly steek soos poësie.

“Like motel curtains, we never really met,” mymer hy in “Angela”.

Die uitstaande “747” open met: “I woke up on a 747 / Flying through some stock footage of heaven.” En dan wonder hy oor sy seun se geboorte:

There was blood when you were born

And the blood was wiped from your eyes

This must be the light you saw

That just left you screaming

And this must be the light you saw

Before our eyes could disguise true meaning

In die verbysterende “The Ballad of the Hulk” vertel hy met aweregse humor die verhaal van ’n hele lewe se stryd tussen aanvaarding en woede, berusting en strewe, vasklou en laat los.

You know I used to share a tailor

With David Bruce Banner

That’s the Hulk

[…]

If I just got angry

But I never got angry

Maybe I should have

[…]

The master of reiki he

Waved his hands over me

And said I eat too much steak

And hold on too long to ancient aches

And both are so hard

On my heart

Oh, I try to be a good person

I wonder if it’s annoying

Or worth pursuing

Callahan sou ’n paar liedjies op hierdie te lang plaat kon sny en hy maak beslis geen agtergrondmusiek wat wyd byval sal vind nie. “I sing for answers / I sing for good listeners and tired dancers,” verklaar hy speels in “Call Me Anything”. En vir fyn luisteraars en moeë dansers is hy en sy vertroostende bariton ’n kosbare reisgenoot. Wanneer sy stil, sterk bewussynstroom jou vat, verskaf hy groter selfverlossing as enige mindfulness-app of joga-klas.

Top-snitte:

“Black Dog on the Beach”

“Angela”

“The Ballad of the Hulk”

“747”

“What Comes After Certainty”

“Son of the Sea”

“Circles”

Meer oor:  Album
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.