Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
‘Cantate Domino’ ’n unieke belewenis

CANTATE DOMINO

Alumni Voices
o.l.v. Leona Geldenhuys
Odeion Vocal Consort
o.l.v. Lance Phillip
OSM Camerata
o.l.v. Xavier Cloete
Odeion

Die Alumni Voices het die program in vrolike stemming geopen met werke van Monteverdi en Scarlatti. Maria se smart is in die Stabat Mater hierna aangrypend verklank met ’n breë uitdrukkingsryke koorklank.

Hierdie koor was uitmuntend. Koorlede begryp die inhoud van die musiek, die vrouestemme heg homogeen en die mans sing met ’n meer oop timbre, dalk in ’n mate ten koste van ’n uniforme koorklank.

Geldenhuys het die koor gelei om die dieperliggende inhoud van die teks doeltreffend oor te dra met klem op die harmonies-musikale vloei. Sy interpreteer inherente musikale konsepte met artistieke gemak.

Hierna het ’n groep van vyf soliste uit die Odeion Vocal Consort ’n Buxtehude-kantate met begeleiding op ses strykers en orrel voorgedra. Die openingskoraal is eenstemmig gesing met meerstemmige kontrapunt in die strykers.

Soms was die instrumente hierin effens te prominent. Hierna was Buxtehude se orkestrasie van stemme, strykers en orrel in afwisselende kombinasies heel genotvol. Sierlike kontrapuntale kontoere is geskep. Die ensemble tussen die vyf sangers was bewonderenswaardig. Hulle artikuleer met volkome beheer en professionele gemak en Phillip vertolk met grondige outentieke stylbegrip. Hy verkry sodoende ’n navolgenswaardige polifoniese deursigtigheid.

Ná pouse het die OSM Camerata ’n klankskilderende werk van Whitacre vir strykorkes netjies en stemmingskeppend voorgedra.

Hierna het albei kore kragte saamgesnoer in Beatus Vir (Psalm 112) vir twee kore, orkes en orrel. Dit was ’n sonderlinge musikale belewenis, veral die afsluitende breë, grootse “amen”. Cloete het dit voorbeeldig netjies gedirigeer, veral by die metrumwisselinge.

Ten slotte was Vivaldi se Lauda Jerusalem met ’n indrukwekkende besetting aan die beurt: twee orkeste, twee kore, klavesimbel en orrel.

Dit is jubelend en met ’n grootse gesamentlike koorklank uitgevoer.

Die orkesspel was deursigtig ondanks onnoukeurige strykerspel.

Ek het gehou van die twee kontrasterende soprane: die een met ’n donker, suiwer, stabiele timbre en die ander stem met ligte, klokheldere artikulasie. Hierdie Vivaldi-aanbieding kan beskryf word as monumentaal.

Die samevoeging van die twee kore se sterkpunte, naamlik Alumni Voices met sy homogene vrouestemme en harmonies-musikale vloei, tesame met die Odeion Vocal Consort met sy outentieke stylbegrip en polifoniese deursigtigheid veroorsaak ’n merkwaardige sinergie, wat hierdie konsert voorwaar uniek gemaak het.

Petrus Krige

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.