Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Caroline Grace en Kovsie-maat sing weer saam
Caroline Grace en Corneil Muller sal die eerste keer in sowat vier jaar weer saam sing.

Caroline Grace en Corneil Muller sal die eerste keer in sowat vier jaar weer as ’n duet optree.

Hulle het sedert hul studentejare aan die Universiteit van die Vrystaat (Kovsies) gereeld saam gesing totdat Caroline Grace aan die tweede reeks van The Voice South Africa deelgeneem het en Muller terselfdertyd in Spanje gaan sing het.

Albei het hul stempel op The Voice SA afgedruk. Caroline Grace was een van die finaliste in 2017 en Muller het in 2018 deurgedring tot die groep van 32.

Nog tyd het verloop voordat hulle weer saam sou kom. Caroline Grace en haar man, die oudrugbyspeler Heinrich Brüssow, se seun is gebore en Muller het ’n aanstelling in die wêreld van die kunstefeeste aanvaar.

Maar nou is hulle slaggereed vir ’n aanlyn optrede met liedjies wat hul stemme die beste pas – soos Gian Groen se “Vier seisoene kind” wat deur Laurika Rauch bekend gemaak is, “Love of My Life” van Freddy Mercury en “The Joke” van Brandi Carlile. Liedjies van hul albums, Eindelose liefde van Caroline Grace en Hart se punt van Muller, is ook ingesluit.

Debbie Brink (klavier) en Petrus van Wyk (kitaar) begelei hul sang en die opname is gemaak in die Arco Musica-ateljee in Bloemfontein.

Caroline Grace en Muller is bekende Bloemfonteiners, wat reeds in hul skooldae aandag getrek het. Caroline Grace, toe nog Haasbroek, het in musiekspele, dansproduksies en dramas opgetree en Muller was ’n tjellis wat as solis, in ensembles en orkeste sy kant gebring het. Hy was ook ’n lid van Grey-kollege se uitgelese sang-ensemble Indomitus. Ná sy universiteitstudie was hy verskeie jare die bedryfsdirekteur van die Urban-hotelgroep waarna hy sy vlerke oorsee gesprei het.

Caroline Grace het regte studeer, maar ná die graadkursus haar hart gevolg en elke geleentheid aangegryp om as sangeres op te tree.

Hul studies aan Kovsies was darem nie vergeefs nie – dit is waar hulle toevallig die eerste keer saam gesing het en besef het hul stemme klink besonder goed saam. Hulle het daarna male sonder tal saam opgetree en ook goeie vriende geword. ’n Hoogtepunt in hul loopbane was die musiekspel Beauty and the Beast waarin hulle die hoofrolle teenoor mekaar in die Sand du Plessis-teater vertolk het.

Die skakel vir die aanlyn konsert, Tuisbly-sessies met Caroline Grace en Corneil Muller, is https://itickets.co.za/events/447714. Die kaartjies kos R50 en geld nog tot 11 Julie om 19:00.

Meer oor:  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.