Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Cass McCombs se jongste album is ’n omtoorvuur

Cass McCombs se jongste album Tip of the Sphere is ’n getoorde luisterervaring, meen Danie Marais wat dit vier uit vyf sterre gee.

Cass McCombs

Die bopunt van ’n sfeer gaan jy tevergeefs soek en dis deel van die punt van die titel van Cass McCombs se getoorde negende plaat – ’n psigedeliese droomkolk, ’n Alice in Wonderland-konyngat wat jou deursuig na ’n ander dimensie waar jy verskeie van rock en folk se groot geeste in nuwe gedaantes hoor verskyn en verdwyn.

Jy kry die elektriese Bob Dylan – daai “thin, wild mercury sound” soos Dylan die klank van Blonde on Blonde beskryf het – in “I Followed the River South to What” en die ballade “The Great Pixley Train Robbery”. In “Estrella”, “Absentee”, “Real Life” en “Sleeping Volcanoes” spook Elliot Smith vertroostend saam met eggo’s van solo-Lennon, vroeë Elton John en The Velvet Underground se gelyknamige, droomverlore derde plaat. In die ragfyn country-folk-blues van “Prayer for Another Day” kom groet Lambchop skaam, maar net daarna word jy verras deur die onheilspellende “American Canyon Sutra” waar Tricky, Portishead en Lou Reed ontmoet in ’n stuk trip hoppy spoken word blues met McCombs se woorde soos elektrisiteit in ’n gebreekte neon-advertensiebord: “In American Canyon / Where Walmart employees and customers are one and the same / They’ve even built apartments here to add a residential coffin to the bargain / Guess I’ll stay forever and work for the company store / Where are you?”

Want Tip of the Sphere is nie net ’n musikale paaseiersoektog gereël deur ’n Mad Hatter nie. Dis op allerhande maniere begaan met die tydsgees en ’n verdwaalde Amerika. Dit loop net geen reguit paaie nie. In ’n onderhoud gee McCombs te kenne dat hy protesmusiek met beelde uit die onbewuste wou verweef deur middel van Jung se werk en musikale meditasies oor simboliek. ’n Ander boek wat glo ’n groot tematiese invloed op sy jongste was, is The 25th Man deur Edward Morrell – ’n berugte misdadiger teen die einde van die 19de eeu. In dié boek beweer Morrell dat hy deur middel van astrale projeksie in Noord-Kalifornië rondbeweeg het terwyl hy in enkelaanhouding in die San Quentin-tronk toegesluit was.

G’n wonder McCombs beskryf homself as “annoyingly mystic” nie. Hoe dit nou alles inmekaar steek is egter irrelevant. Valiant Swart se woorde aan die einde van “Die Mystic Boer” is hier van toepassing: “So as jy hom sien, en jy wil hom soek, doen dit gerus, want dis ’n groot avontuur, alhoewel jy eindig waar jy begin het.”

Musiekwaardering is ook nie ’n eksakte wetenskap nie, maar dit troos nie die obsessief kompulsiewe musiekslaaf/kritikus wanneer hy moet toegee ’n wonderlike plaat het onder sy radar deurgeglip nie. En Cass McCombs se vorige album, Mangy Love, het in 2016 in sy afwesigheid op my toptienlysie aan die einde van die jaar geskitter. Na “Bum Bum Bum” en “Opposite House” op daardie plaat keer ek gereeld terug, want dit les ’n dieper dors altyd amper. Maar vanjaar maak ek nie weer dieselfde luisterfout nie.

Omtoorvuur was die titel van ’n keur uit Sheila Cussons se gedigte, en ’n omtoorvuur waarin jy gesigte sien, is presies wat Tip of the Sphere is. Dis jou tyd werd.

Topsnitte:

“I Followed the River South to What”

“Estrella”

“Absentee”

“Sleeping Volcanoes”

“Sidewalk Bop after Suicide”

Meer oor:  Danie Marais
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.