Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Cave se intieme kajuitkoors-album gee knop in keel

Nick Cave Foto: Getty Images

Nick Cave en Warren Ellis het gedurende die inperkingstyd ’n album gemaak, ’n tyd van verlies en verlange. Danie Marais het daarna geluister.

Nick Cave & Warren Ellis – Carnage (* * * *)

“Ek het op my balkon gesit in Brighton met die wêreld op pad na die hel, en niks behalwe vrees, afgryse en onsekerheid in my kop nie.”

Dít, skryf Nick Cave op sy webwerf, theredhandfiles.com, was waar hy verlede jaar was toe hy begin werk het aan Carnage – die nuwe plaat wat hy gedurende die inperkingstyd saam met Warren Ellis gemaak en uit die bloute einde Februarie vanjaar uitgereik het.

As gevolg van hierdie verlammende gemoedstoestand het hy aanvanklik gesukkel om lirieke vir nuwe werk te skryf. Die vonk vir inspirasie het van die Britse beeldhouer en skilder Thomas Houseago gekom met wie Cave in Los Angeles bevriend geraak het rondom die uitreiking van sy vorige album – die magistrale Ghosteen, my plaat van die jaar vir 2019 en die laaste van ’n trilogie waarvan Push the Sky Away (2013) en Skeleton Tree (2016) die eerste twee dele was.

Houseago het kort voor die uitbreek van die pandemie ’n senuwee-ineenstorting gehad. Hy het vanuit Malibu vir Cave in Engeland laat weet hy is aan die herstel, maar vind dit onmoontlik om kuns te maak. Cave sluit toe telefonies met hom ’n ooreenkoms: Maak vir my ’n skildery en ek skryf vir jou ’n liedjie. Houseago se skildery sit glo nog iewers in doeane vas, maar Cave het dieselfde nag van hulle gesprek in een sitting die woorde van “White Elephant” vir hom geskryf.

‘Carnage’ van Nick Cave & Warren Ellis.

Die onkonvensionele snit, wat uiteindelik saam met die multi-instrumentalis en komponis Ellis rondom daardie woorde geskep is, is nie net die spil waarom Carnage draai nie, maar ’n seminale stuk Cave. Die 63-jarige kunstenaar skryf byna nooit regstreeks oor aktuele kwessies nie, maar “White Elephant” is ’n broeiende ses minuut lange, kru liriese meditasie oor wit meerderwaardigheid gelaai met surrealisties verwronge mitiese beelde en verwysings na die dood van George Floyd en protes in die toenmalige Donald Trump se Amerika.

Cave en Ellis laat lirieke soos hier onder kolk en maal binne ’n onweerswolk van elektroniese dreuning:

“The white hunter sits on his porch

With his elephant gun and his tears

He’ll shoot you for free if you come around here

A protester kneels on the neck of a statue

The statue says, ‘I can’t breathe’

The protester says, ‘Now you know how it feels’

And he kicks it into the sea”

Uiteindelik word Cave se duister gedagtes oor die aardskuddende politieke gebeure van 2020 onderbreek deur ’n gospelkoor wat meesleurend, deliries sing: “A time is coming / A time is nigh / For the kingdom / In the sky.”

Die verlange na ’n hemelkoninkryk klink hier na ’n soort onafwendbare eksistensiële dronkverdriet waaraan geen sterfling ontsnap nie.

“White Elephant” swaai dus tussen die kenmerkende uiterstes van Cave se werk. Dit beweeg binne een liedjie van Gotiese vuur, swael en dissonante donder tot desperate, melodiese versugting na redding.

Carnage het nie dieselfde monumentale afmetings en ambisie as Ghosteen nie. Dis Cave en Ellis wat sonder die volledige Bad Seeds-orkes ’n intieme kajuitkoorsalbum opgeneem het. Cave beskryf dit as ’n “brutale, maar beeldskone plaat genestel in ’n gemeenskaplike katastrofe”. En hy’s reg.

In sy geheel omvat die agt snitte op Carnage binne 40 intense minute alles van opruiende apokaliptiese elektro-rockers soos “Hand of God” en “Old Time” tot teer ballades soos die uitstaande titelsnit, “Balcony Man” en “Albuquerque”. Laasgenoemde eggo die klassieke minimalisme van Arvo Pärt se “Für Alina” in ’n elegie wat die beklemming van verlede jaar vasvang met: “We won’t get to anywhere, darling / Anytime this year.”

Carnage het nie dieselfde monumentale afmetings en ambisie as Ghosteen nie. Dis Cave en Ellis wat sonder die volledige Bad Seeds-orkes ’n intieme kajuitkoorsalbum opgeneem het. Cave beskryf dit as ’n “brutale, maar beeldskone plaat genestel in ’n gemeenskaplike katastrofe”. En hy’s reg.

Wanneer hy weerloos in die titelsnit bely “it’s only love / with a little bit of rain / and I hope to see you again”, onthou jy die verlies en verlange van 2020 en sê die knop in jou keel: Amen.

Topsnitte:

“Carnage”

“White Elephant”

“Albuquerque”

“Balcony Man”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.