Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Charl du Plessis en trio verstaan barok

Charl du Plessis

Dink aan die Swingle Sing­ers, die Jacques Loussier Trio en die Raymond Guiot-kwintet: Heerlike jazz-improvisasies, soms teen ’n virtuose sneltreintempo wat weliswaar Bach en sy maters hul pruike tydelik laat verloor het, maar uiteindelik ’n stewige brug tussen klassiek en jazz gelê het.

Ons eie Charl du Plessis – ook van nature iewers geneties deel van ’n uiters musikale Franse genepoel – is een van ’n minderheid plaaslike musici met ’n begrip vir barok en die omvattendheid wat so ’n feit impliseer.

Hy en sy trio se jongste CD, ge­titeld BaroqueSwing II, bewys hoe vryblywend hierdie beweging en sy prosedures, wat byna 50 jaar gelede begin het, uiters avontuurlik toegepas kan bly word.

Dit is verlede jaar in Julie opgeneem voor ’n gehoor in die St. George-kerk in Ernen, Switserland, en verteenwoordig die eerste uitreiking van ’n nuwe platekontrak wat Du Plessis met die bekende Switserse klassieke plate-etiket Claves onderteken het.

Met 19 baroksnitte en ’n 20ste een waar George Gershwin met sy I Got Rhythm om die hoek loer omdat dít die trio se toegif op dié konsert was, kan luisteraars hulle verwonder aan die vryheid wat juis die ou meesters soos Bach, Gluck, Handel en Vivaldi aan Du Plessis en sy twee medespelers, Werner Spies (basviool) en Hugo Radyn (tromme), verleen.

Reeds in die openingswerk, die bekende Tokkate en Fuga in d, BWV 565, oorspronklik vir orrel, word dit duidelik dat Du Plessis in sy verwerkings die kontraste tussen veerligtigheid en erns buitengewoon effektief kontrasteer.

Dit gebeur selfs nog sterker in die drie Invensies, onderskeidelik no’s. 8, 4 en 13, waarin die pianis nie noodwendig die notebeeld streng volg nie.

Die eerste een open nogal raaiselagtig, die tweede een taamlik impressionisties en die manier waarop hy hierdie aspekte op die klavier uitlig, is veel boeiender as by sy vroegste verwerkingspogings.

In Gluck se “Mélodie” en die “Ballets des ombres heureuse” uit Orphée et Eurydice is daar weer ryke teenstellings, met laasgenoemde een ’n lighartige swing-verwerking met dryfkrag.

Ewe ongewoon is die trio se weergawe van Vivaldi se “Lentekonsert” uit Die Vier Seisoene.

Frappant is Du Plessis se manier om die solo-viool se klank treffend op die klavier na te boots.

Selfs met meermalige luister word steeds iets nuuts by dié formidabele musici ontdek.

) BAROQU ESWING VOL. II – CHARL DU PLESSIS TRIO. Musiek van J.S. Bach, Gluck, Vivaldi, Handel en Gershwin. Met Charl du Plessis (klavier en verwerkings), Werner Spies (basviool) en Hugo Radyn (tromme). Claves CD 50-1609.

Meer oor:  Charl Du Plessis  |  Trio  |  Klassiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.