Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Charl pak monumentale uitdaging in aanlyn konsert

Dit was ’n groot geleentheid toe die Brooklyn-teater, in Pretoria, se Steinway-vleuelklavier tien jaar gelede ingewy is. Nou is dieselfde klavier vir ’n monumentale geleentheid gebruik. In albei gevalle is Charl du Plessis die pianis, maar dit is waar die ooreenkoms eindig.

Die pianis Charl du Plessis by die Voortrekkermonument.

Dié keer is die vleuelklavier in die buitelug voor die Voortrekkermonument staangemaak, waar Du Plessis ’n uitvoering van klassieke werke sonder ’n gehoor gegee het. Hy was wel omring van ’n tegniese span wat ’n “one take”-opname vir uitsending die naweek gemaak het.

Du Plessis sê die konsert is in meer as een opsig “monumentaal”. Benewens die feit dat die titel na die Voortrekkermonument verwys, het hy Bach se monumentale “Chaconne” in sy program ingesluit. Daarby was die hele aangeleentheid ’n monumentale uitdaging.

“Ek het net twee weke gehad om die program in te oefen en op die dag van die uitvoering moes alles so vinnig moontlik gebeur. Die son en skaduwee moes in ag geneem word, daarom kon niks herhaal word nie. Sodra die sonstrale teen ’n sekere hoek geskyn of die skaduwee net reg geval het, was dit ‘kamera, aksie’. Daar was geen tweede kans nie. En voordat die koue die klavier se binnegoed kon affekteer, moes hy terug wees in die teater,” sê Du Plessis.

Vir ’n kunstenaar wat die afgelope drie maande 21 optredes en twee buitelandse toere weens Covid-19 verloor het, is geen uitdaging nou te groot nie.

Hy sê hy en sy vennote in die trio, die baskitaarspeler Werner Spies en tromspeler Peter Auret, hou styf duim vas dat hulle einde Julie vir die jaarlikse musiekfees in Ernen na Switserland sal kan vlieg. Hul konserte is die afgelope klompie jare een van die hoogtepunte op dié internasionale fees. ’n Groot vraagteken hang egter oor die toekoms van konserte in Suid-Afrika.

Charl du Plessis op die Steinway-klavier voor die Voortrekkermonument in Pretoria.

Du Plessis se Monumentaal-program begin met ’n ligte losmaker, “Rustle of Spring” van Sinding. Daarna volg die ankerwerk, Bach se “Chaconne”, ’n intermezzo van Brahms en ’n prelude en etude van Rachmaninoff.

Du Plessis sê hy het gevoel hy moet darem ook iets Suid-Afrikaans speel, toe verweef hy “Al lê die berge nog so blou” met ’n Chopin-nokturne en voeg sommer “Plea for Africa” by. Die program sluit met Piazzolla se “Libertango” af, waarvan gehore blykbaar nooit genoeg kan kry nie, sê Du Plessis.

* Monumentaal word aanlyn uitgesaai op brooklyntheatre.tv. Kaartjies kos R100 (vir enige grote groep) en kan nou reeds gekoop word. Die uitsending begin 12 Junie om 19:30 en is drie dae daarna nog te sien.

’n Tweede opsie is om elke maand R400 te betaal wat toegang gee tot talle konserte wat in die Brooklyn-teater aangebied is, asook nuwes wat met verdrag op die webwerf geplaas word. Die aanbieder is Willem Vogel, die artistieke direkteur van die teater.

Meer oor:  Charl Du Plessis  |  Voortrekkermonument  |  Monument  |  Klavier  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.