Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Charl se Trio voer jou terug na klassieke tyd op Welgelegen
Charl du Plessis voor die Welgelegen Manor buite Balfour. Foto: Bernard Brand

Die Charl du Plessis Trio tree die naweek in ’n klassieke konsert in die geskiedkundige Welgelegen Manor buite Balfour, Mpumalanga, op.

Dié konsert is die eerste van drie klassieke konserte wat hier opgevoer sal word.

Die Welgelegen Manor is ’n geskiedkundige gebou wat in 1912 deur die beroemde argitek sir Herbert Baker ontwerp is in opdrag van die eienaar Andries Mostert wat sy fortuin in die destydse Transvaal kom soek het. Die huis lyk glo net soos die opstal op sy Rondebosch-familieplaas in die Kaap gelyk het. Die huis het ook dieselfde naam as hul ou huis.

Die Trio se konsert Saterdag sluit ook ’n ete en ’n toer van die gebou in.

Die Trio gaan die musiek van die Amerikaanse komponis Cole Porter uitvoer, sê Du Plessis.

Porter was ’n legendariese liedjieskrywer en talle sangers het hom aangehang. Porter was bekend vir sy treffers soos “Love for Sale”, “Let’s Fall in Love”, “Night and Day” en “I Get a Kick Out of You”.

Die spyskaart stem ooreen met dié van die onthaal van Porter se bruilof in die Waldorf Astoria-hotel in New York.

Die trio bestaan uit Du Plessis, Werner Spies (kontrabas) en Peter Auret (tromme).

Die volgende konsert word op 8 Desember aangebied.

Die koordirigent Michael Barrett en ’n kamerkoor voer tradisionele Kersliedjies uit met ’n jazzverwerking deur Du Plessis. Dit sluit in liedere soos “White Christmas”, “Adeste Fideles” en “Panis Angelicus”.

Op 16 Maart kom die derde konsert aan die beurt wanneer die pianis Christopher Duigan die musiek van die Frans-Poolse pianis en komponis Frédéric Chopin uitvoer. Duigan deel ook sy ervaring van sy toer na Pole in 2015 waar hy die Chopin-museum in Warschau besoek het.

* Die geleentheid Saterdag begin om 17:00. Om 17:40 begin die toer in die huis en die ete se eerste gang word om 18:00 bedien. Die eerste segment van die musiek begin om 18:30, en om 19:00 word die hoofgereg bedien. Nog musiek volg om 19:30.

* Die adres is Farm Rietbult, R51, Balfourweg, Balfour, Mpumalanga. Kaartjies kos R1 000. Bel 017 773 9000 of stuur ’n e-pos na connie@welgelegenmanor.co.za om te bespreek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.