Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Chopin-kompetisie in SA ook afgestel

Die eerste Internasionale Chopin-klavierkompetisie in Suid-Afrika, wat tussen 24 en 26 September in Gauteng aangebied sou word, is nou ook van die baan.

Die 1ste Internasionale Chopin-klavierkompetisie in Suid-Afrika is afgestel.

Mariaan du Plessis, wat reeds langer as ’n jaar werk om die kompetisie op die been te bring, het die verwikkeling aan Netwerk24 bevestig.

“Dit was ’n baie moeilike besluit,” sê sy.

“Ons het gewag om te hoor wanneer internasionale vlugte weer toegelaat gaan word. Baie internasionale pianiste is ook bang dat hulle nie sou kon terugkeer na hul lande as Covid-19-gevalle weer toeneem nie. Almal is maar in die duister oor die pandemie.”

Netwerk24 het vroeër berig dat Du Plessis, ’n apteker en uitvoerende hoof van die onderneming Medical Nutritional Institute in Lonehill, Johannesburg, deur haar liefde vir klassieke musiek aangespoor is om ’n plaaslike, nie-geaffilieerde weergawe van die roemryke Internasionale Chopin-klavierkompetisie in Pole op eie bodem aan te bied.

Du Plessis, die akteur Wynand van Vollenstee en die pianis Congyu Wang van Singapoer het koppe bymekaar gesit om die kompetisie hier gestalte te gee, maar die Covid-19-pandemie het die laaste sê gehad.

“Dit is regtig ’n baie groot persoonlike teleurstelling,” sê Du Plessis.

Mariaan du Plessis. Foto: Verskaf

“Dit was en is gelukkig steeds ’n droom van my (om die kompetisie aan te bied). Ek het soveel positiewe terugvoer en ondersteuning van oor die wêreld ontvang, wat amper onverwags was. Ek is positief oor volgende jaar en dit gee my ’n kans om die geleentheid nog groter te bou.”

Du Plessis sê hulle het ’n aanlyn weergawe van die kompetisie oorweeg, maar uiteindelik daarteen besluit.

“’n Deel van die kompetisie is die blootstelling en leer-geleentheid vir ander jong pianiste. Ek wil ook graag ’n geleentheid skep waar konsertgangers en musiekliefhebbers jong talent kan ervaar. Ek glo die ondervinding om voor ’n gehoor op te tree en saam met ’n orkes te speel, is deel van talentontwikkeling. Aanlyn is maar net nie dieselfde nie.”

Du Plessis sê die kompetisie sal nou tussen 22 en 26 September 2021 plaasvind. Die paneel by vanjaar se kompetisie – Wang, die Poolse pianis Piotr Paleczny, die Suid-Afrikaanse pianis Ben Schoeman en die Chinese pianis Gen Li – het ook reeds hul beskikbaarheid vir die 2021-kompetisie bevestig.

Al die aansoeke wat vanjaar ontvang is, sal outomaties na volgende jaar se kompetisie oorgedra word, maar enigiemand is welkom om hul aansoek te onttrek; hulle sal ook hul aansoekgeld terugkry.

Aansoeke vir die 2021-kompetisie sluit op 30 Junie 2021. Besoek www.sachopinpiano.com vir meer inligting.

Meer oor:  Wynand Van Vollenstee  |  Klavier  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.