Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Cito van Wonderboom 'selfbehepte rokjagter' in Broadway-treffer
Cito, hoofsanger van die groep Wonderboom.

Die rocker Cito se rol as die selfbehepte rokjagter Stacee Jaxx in die blêrkas-musiekspel Rock of Ages laat hom ook sy eie rockstatus in oënskou neem.

Cito, hoofsanger van die groep Wonderboom, vertolk dié rol tot 20 Oktober in die Teatro by Montecasino in Johannesburg.

“Dit is werklik ’n baie selfbeskouende rol,” sê Cito, wat in die VSA gebore is en sedert sy tienerjare in Johannesburg woon.

“Ek geniet die aspek daarvan dat ek byna ook myself konfronteer en na my persoonlikheid en my loopbaan kyk.”

Cito hou van ’n rol soos dié wat hom uitdaag.

“Stacee Jaxx is in die rolprentweergawe nogal cool, maar op die verhoog is hy nogal hartseer, falling from grace en iemand wat die gereg ontduik. Hy woon in hierdie wêreld wat totaal van die werklikheid verwyder is. Hy dink hy is God se geskenk aan vroue en elkeen anders. Hy neem homself baie ernstig op. Daar is allerhande clichés wat aan hom kleef, maar ek is gaande oor die komedie daarvan. Daar is ’n paar one liners wat eenvoudig net te snaaks is.”

Rock of Ages, met uitspattige haarstyle en uitrustings, was jare lank ’n Broadway-treffer met treffers soos “Don’t Stop Believin’” en “Here I go Again” wat ook ’n rits Tony-benoemings (pryse vir teater) ontvang het. Dit is in 2012 ook as ’n rolprent uitgereik met onder andere Catherine Zeta-Jones, Alec Baldwin en Tom Cruise in die rolverdeling. Dit was ook al in talle ander lande op die verhoog.

Dit is vantevore in Suid-Afrika opgevoer met onder andere Neels Clasen en Zak Hendrikz in die rolverdeling. Hulle tree ook in die huidige produksie op.

Rock of Ages duur tot 20 Oktober in die Teatro by Montecasino

Ander spelers sluit in Jessica Driver, Matt Counihan en Josh Ansley wat verlede jaar die tweede plek in die M-Net-musiekwerklikheidsreeks The Voice SA gewen het.

Cito, wat voorheen in musiekspele soos Chess en Jesus Christ Superstar opgetree het, glo met enige rol wat hy aanpak, moet hy in aspekte van homself delf.

“Ek dink die artistieke vryheid ontstaan in die repetisieproses wanneer jy jou karakter ontwikkel. Jy kan nie juis die teks verander nie en die produksieproses is ’n goed geoliede masjien. Jy vertel ’n storie. Om iets verder te doen, sal afbreuk aan die storie doen. Op die rockverhoog het jy meer vryheid om iets op te mors, maar as deel van ’n musiekspel dien jy ’n groter doel.”

“Ek geniet die aspek daarvan dat ek byna ook myself konfronteer en na my persoonlikheid en my loopbaan kyk.”

Cito se eerste rol in ’n professionele musiekspel was in Andrew Lloyd Webber se Jesus Christ Superstar.

Hy het in 2006 en weer in 2011 hierin opgetree.

“Ek hou van teater – die dissipline, die tegniek, die saamwerk met talentvolle mense. Ek het aanvanklik beangs geraak wanneer ons met ’n produksie begin het. ’n Groot ding was natuurlik om woorde te leer sodat jy nie die proses vertraag nie,” sê hy.

“Deesdae weet ek min of meer wat om te verwag wanneer ek ’n musiekspel aandurf. Dit gaan daaroor dat jy jouself en jou kapasiteit moet ken. Sodra die bal aan die rol is, is dit ’n wonderlike ding om te sien.”

* Rock of Ages duur tot 20 Oktober. Kaartjies kos R150 tot R350. Bespreek by Computicket.

Meer oor:  Teatro  |  Montecasino  |  Musiek  |  Teater  |  Musiekspel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.