Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
‘Classics’ is vanjaar groter as ooit

Die gewilde Classics is Groot is terug en vanjaar is daar twee konserte wat op 9 Junie (om 13:00 en 19:30) by die Sun Arena @ Time Square by Menlyn Maine in Pretoria gehou word.

Agter elke suksesvolle konsert is daar ’n hardwerkende mens: Barry Pre­to­rius is die meesterbrein agter Classics is Groot.

Konsertgangers kan sterre soos Joseph Clark, Amira, Corlea Botha, Tarryn Lamb, Monique Steyn, Jannie Moolman, Kevin Leo en Touch of Class op die verhoog verwag en van die grootste treffers uit The Greatest Showman en The Lion King kan gehoor word.

“Mense het aanvanklik die fout gemaak om te dink ons fokus net op klassieke musiek, maar by Classics is Groot word daar hulde gebring aan die grootste musikale treffers van alle tye.

Dit sluit alle treffers in, van Queen tot Abba. Vir die puriste is daar ’n paar Andrea Bocelli en Helmut Lotti-nommertjies ook,” sê Barry Pretorius, meesterbrein agter die Afrikaans is Groot- en Classics is Groot-konserte.

Pretorius is veral opgewonde oor die nuweling Stephan Bezuidenhoud, ’n jong seun wat vinnig besig is om naam te maak vir homself. Sy Roxette-liedjie wat hy op YouTube geplaas het, het binne dae duisende kykers gelok.

“Daar is min ander platforms waar die gehoor die kans kry om al die gewildste liedjies te hoor wat boonop teatraal verpak is. Ons het ’n hele ekstravaganza bymekaargesit met fantastiese dansers en fabelagtige kostuums.

“Daar is ballet, mimiek, digkuns en noem maar op. Elke item is ’n produksie op sy eie. Elke liedjie vertel sy eie storie,” sê Pretorius.

Marcella Solimeo wat vroeër saam met Connell Cruise aangewys is as die wenner van M-Net se Dancing with the Stars SA is die hoofdanseres in vanjaar se Classics is Groot.

“Ons het probeer om verskillende vorms van uitvoerende kuns te integreer en om die gehoor vir twee en ’n half uur heeltemal weg te voer na ’n teatrale wêreld van kuns en musiek.

“Ons karring nie aan die musiek nie. Mense gaan die musiek hoor soos hulle dit ken, gesing deur van die beste sangers in ons land. Boonop word hulle begelei deur ’n volledige simfonieorkes,” sê Pretorius.

Die man agter die skerms

Hoewel Pretorius veel eerder oor die kunstenaars as homself praat, spreek sy eie storie van berge se harde werk en deursettingsvermoë.

Hy het in Durban grootgeword en aan die Port Natal Gekombineerde Skool skoolgegaan.

As jong seun is hy baie aan die kunste blootgestel deur sy destydse skoolhoof Koos Kruger en ook die Kollig Kunstefees wat daardie jare in die omgewing aangebied is.

“Durban het nie ’n groot Afrikaanse gemeenskap gehad nie, en tog het ons genoeg blootstelling aan die kunste gekry.

“Ek was as kind al lief vir die kunste en het altyd geweet dat ek in die vermaaklikheidsbedryf gaan eindig,” sê hy.

“Daar is min ander platforms waar die gehoor die kans kry om al die gewildste liedjies te hoor wat boonop teatraal verpak is.

Ná skool het hy by die SAUK gaan werk en daar sy internskap gedoen. Hy het drama en vervaardiging as vakke gehad en sy kop het televisie toe begin staan.

Sy eerste werk was by die destydse Franz Marx Films en hy was ’n assistent in die publisiteitskantoor.

“Ek het toe begin besef dat ek eerder in die teater wil werk. Die verhoog het my gefassineer,” onthou Pretorius.

Daarna het hy ’n rolletjie in Villa Rosa gehad en tussendeur ook begin om skool-revues te vervaardig.

“Dit was in die dae van Skouspel en my grootste begeerte op aarde was om vir Skouspel te werk, maar dit maak nie saak hoe hard ek probeer het nie, ek kon eenvoudig nie by dié produksie inkom nie.

“Ek het soveel keer my CV na die vervaardigers gestuur, maar ek het nooit ’n antwoord of erkenning van ontvangs gekry nie,” sê hy.

Hy het die Hoërskool Goudrif in Germiston se revue gedoen en dis hoe Kobie Koen van Vonk Musiek van hom te hore gekom het.

Kobie het Pretorius gevra om die Vonk-toekenningsgeleentheid aanmekaar te sit en hy het dit vyf jaar lank gedoen.

“Ek het baie werk vir die KKNK en Innibos begin doen en die bedryf goed leer ken.”

Stelselmatig het hy naam vir homself begin maak en in 2012 het Pretorius vir Karen Meiring genader met die idee om ’n onafhanklike musiek-toekenningsgeleentheid te begin.

Dit was die ontstaan van die kykNET Ghoemas.

Presies ’n week later het Albert Colleske vir Pretorius gekontak met ’n splinternuwe konsep – en nie lank daarna nie het die eerste Afrikaans is Groot-konsert die lig gesien. En die res is, soos hulle sê, geskiedenis . . .

Meer oor:  Barry Pretorius  |  Musiek  |  Classics Is Groot  |  Konsert
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.