Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Clegg se inspirerende stem is stil, sê Cyril

’n Geliefde, inspirerende en heldhaftige stem het stil geword.

So het pres. Cyril Ramaphosa Woensdag aan Johnny Clegg (66) hulde gebring nadat die musikant Dinsdagmiddag aan pankreaskanker in sy huis in Johannesburg dood is.

Ramaphosa beskryf Clegg in ’n verklaring as ’n “uitsonderlike landgenoot en ’n ikoon van maatskaplike samehorigheid en nierassigheid”.

Johnny Clegg (links) saam met sy seun Jesse op die verhoog.Foto: Getty Images

Die president het sy medelye met Clegg se familie, vriende en volgelinge uitgespreek, asook die musikante en organisasies wat met hom saamgewerk het.

Clegg se een seun, Jesse, ook ’n musikant, het Woensdag op sosiale media hulde aan sy pa gebring.

“Dankie vir die betowerende geskenke wat jy vir ons gegee het en dat jy ’n spesiale plek in jou lewe vir jou familie geskep het. Jy het my as ’n musikant én as ’n man geïnspireer en jy het vir my die gereedskap gegee om ’n sinvolle lewe te leef.”

Jesse skryf dat hy sy pa gaan mis en dat hy sukkel om homself ’n wêreld sonder hom in te dink.

“Maar ek voel gerusgestel om te weet dat jou wysheid en deernis in ons almal leef. Hamba kahle, Pa, rus in vrede.”

Beauty Dlulane, voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor sport en ontspanning, sê die musiekbedryf is armer gelaat sonder Clegg.

“Nie baie mense sou die standpunt inneem wat Johnny tydens die hoogtepunt van rasseverdeling in die land ingeneem het nie. Hy het hom met die stryd vir die bevryding van swart mense en met die waardes van ’n vrye samelewing geïdentifiseer.”

Dlulane sê Clegg het ’n onmeetlike bydrae tot die kunste gelewer.

Johnny was ’n geleerde van menslike kulture, veral van die Zoeloe-kultuur wat hy passievol liefgehad het. Hy het Zoeloe met die vlotheid, liefde en respek van ’n digter gepraat.

Die rocksangeres Karen Zoid skryf in ’n huldeblyk dat Clegg ’n leidende lig was.

“Vir my was hy ’n nederige musikant, ’n vriend wat my by my huis besoek het en saam met my op die promenade fietsgery het.”

Sy skryf dat Clegg tot die einde ’n vreeslose avonturier was.

“Om dapper te wees moet jy aanvaar dat jy altyd ’n bietjie bang gaan wees. Dankie dat jy dit bewys het deur hoe jy jou lewe oor en oor geleef het.”

Die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) sê in ’n verklaring dat Clegg, ’n alumnus en voormalige dosent aan dié universiteit, se lewe en werk die multikulturalisme en maatskaplike integrasie belig het soos verwoord in die Grondwet.

Luidens die verklaring het Clegg, wat ’n honneursgraad aan dié universiteit verwerf het, oor die jare verskeie vakkundige bydraes oor Zoeloe-musiek en -danse gelewer.

Die Nelson Mandela-stigting sê in ’n verklaring Clegg was ’n uitsonderlike Suid-Afrikaner en dat oudpres. Nelson Mandela hom as ’n ware landgenoot sou beskryf.

“Johnny was ’n geleerde van menslike kulture, veral van die Zoeloe-kultuur wat hy passievol liefgehad het. Hy het Zoeloe met die vlotheid, liefde en respek van ’n digter gepraat.”

Clegg se familie het op sy Facebook-blad mense bedank vir die ondersteuning gedurende hierdie moeilike tyd.

Hulle vra dat mense eerder skenkings aan die Click Foundation maak as om blomme te stuur of neer te lê.

Skenkings kan by dié skakel gemaak word: friendsofjohnnyclegg.com/donate.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Johnny Clegg  |  Huldeblyke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.