Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Coenie so suiwer soos op 17
Coenie de Villiers Foto: Via

Met die akteur John Kani wat voorlees en ’n liedjie wat klink of die ontslape sanger Lucas Maree dit self vir sy kleindogter geskryf het, wou Coenie de Villiers so eerlik as moontlik te werk gaan met sy nuwe album Pure Coenie.

Dit word op 14 en 15 Junie in die Atterbury-teater in Pretoria bekend gestel.

“Dit is ’n baie introspektiewe album,” sê De Villiers nadat hy saam met Netwerk24 die eerste keer na die opnames van die musiek geluister het.

“Ek wou nie ’n resepmatige album maak nie. Soms weet ’n mens mos hoe die album gaan klink nog voordat jy daarna geluister het. Ek wou weer gaan skryf soos ek op 17 geskryf het. Hierdie album wou ek outentiek aanbied.

“Ek is net ouer, ek wil niks veins nie. Ek skryf so eerlik as wat ek kan.”

Die musikant Mauritz Lotz, vervaardiger van die album, tree saam met De Villiers in die Atterbury-teater op, waar die sanger Leon Gropp hom ook by hulle aansluit.

Op die KKNK vanjaar het De Villiers en Lotz van die musiek op die album vir die eerste keer in die openbaar uitgevoer.

Coenie de Villiers en Francois van Coke

Hy sing oor ’n boer wat op reën wag, ’n bejaarde man wat in die ouetehuis na sy vrou verlang en saans sy grammofoon speel en sy oorlede vrou vra om te dans.

Saam met Vicky Sampson sing hulle oor mure tussen mense – letterlik en figuurlik.

Die snit “Liedjie vir Luca” gaan oor wyle Lucas Maree se kleindogter wat hy nooit ontmoet het nie.

Maree en De Villiers was goeie vriende en hy het die liedjie geskryf asof Maree met sy kleindogter praat.

Gropp, Joshua na die reën en Brandon October sing ook ’n snit saam met hom op die album, en in ’n ander snit sing hy saam met Francois van Coke.

De Villiers loof Lotz vir sy bydrae.

“Jy het iemand nodig wat nie vir jou skrik nie. Daar moet daai ooreenkoms, vertroue en integriteit wees. Iemand moet vir jou sê of iets werk, al dan nie.”

Leon Gropp

Mense moet maar self luister na “The Dinner”, die snit waarop Kani voorlees, sê De Villiers. Dit handel oor groot name in die geskiedenis van musiek, politiek en die letterkunde.

Kani het dit in die Markteater in Johannesburg opgeneem.

Die Odeion-strykkwartet lewer die musiek met Peter McLea as dirigent.

Vertonings is op 14 en 15 Junie om 20:00. Kaartjies kos R200 tot R250. Bespreek by Computicket.

Meer oor:  Francois Van Coke  |  Coenie De Villiers  |  Musiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.