Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Cohen se wonderlike toegif uit hiernamaals
Die omslag van Leonard Cohen se laaste album ‘Thanks for the Dance’.

Leonard Cohen se allerlaaste album, Thanks for the Dance, daal soos musiekmanna uit die hemel kort voor Kersfees op ons neer. Danie Marais het daarna geluister.

Leonard Cohen – Thanks for the Dance (* * * *)

“The Cohen Boys! They’ll never get us!” het Cohen glo met kenmerkende ironie gejubel teenoor sy seun, Adam. Dit was dae voor sy dood op 7 November 2016 nadat hy gelees het hoe goed sy ontsagwekkende swanesang, “You Want it Darker”, ontvang word. Hy was so geïnspireerd dat hy dadelik nog ’n plaat wou maak – al het hy leukemie en frakture in sy rugstring gehad. Maar die tyd het hom ingehaal en sy laaste opdrag aan Adam, wat ook die musiekregie van You Want It Darker behartig het, was om asseblief daardie album waaraan hulle begin werk het te voltooi.

Drie jaar later daal Thanks for the Dance soos musiekmanna kort voor Kersfees op ons neer. In nege snitte fluister Cohen nogmaals digterlike woorde in jou oor wat net hy só kon spreek-mymer-sing; waarin net hy sulke gloeikole kon blaas. En aan hierdie woorde het hy, volgens Adam, tot met sy dood gewerk “soos ’n terriër kou aan ’n been”.

In ’n onderhoud met Sylvie Simmons, wat die uitstekende Cohen-biografie I’m Your Man geskryf het, het Adam gesê: “My pa wou nie pas in enige genre nie. Hy wou ’n genre wees.” En daarin het Cohen geslaag. Thanks for the Dance is ’n laaste Coheneske triomf, “a cold and broken hallelujah” waarin die minister van middernagtelike hartsake tegelyk onsterflik sjarmant en geweldig broos klink.

Alle eer dus ook aan Adam wat hom nie beter van sy liefdestaak kon gekwyt het nie. Hy het sy pa se poësie en laaste opnames tot nuwe lewe verwek en laat wieg op melodieë en klanke wat sy pa sweerlik self só sou gekies het.

Jy hoor die eggo’s van soveel ikoniese Cohen-liedere hier. Die hartseerwals van die titelsnit, met agtergrondsang deur een van sy oudste sangmaats Jennifer Warnes, het iets van “Dance Me to the End of Love” en “Take this Waltz”. In die akkoorde van “Torn” galm die duister “Avalanche” van 1971 se Songs of Love and Hate. Die sardoniese slot van “The Hills” op die maat van elektroniese klawerbordklanke klink na die finale oorgawe van “First We Take Manhattan” se terroris-verteller: “

And I can’t make the hills

The system is shot

I’m living on pills

For which I thank God

En dan is daar die roerende vaarwel aan Marianne Ihlen, vir wie hy reeds op sy 1967-debuut met “So Long, Marianne” onvergeetlik gegroet het. Die wete dat “Moving On” opgeneem is kort nadat sy dood is, vervul jou met heilige hartseer:

And now you’re gone, now you’re gone

As if there ever was a you

Who broke the heart and made it new?

Who’s moving on, who’s kiddin’ who?

Die inspirasie vir die Mediterreense geure op die plaat was Cohen se ou Spaanse kitaar. Adam het Javier Mas, wat tussen 2008 en 2013 saam met sy pa getoer het, uit Barcelona ontbied om daardie kitaar in sy Los Angeles-agterplaas-ateljee op te tel. En Mas het daardie kitaar, wat jy onder meer hoor in die flamenco van “Night of Santiago” en in die uitstaande “Happens to the Heart”, kom speel tot die trane oor sy wange geloop het.

Die meeste van hierdie inkantasies is nader aan gedigte as liedjies, maar Adam se musiekregie laat al die woorde sing en die album na een organiese geheel klink. Dis nie ’n Cohen-plaat vir beginners of oningewydes nie, maar vir ou aanhangers is hierdie ’n wonderlike toegif – donkersjokolade en konjak uit die hiernamaals.

Listen to the hummingbird

Whose wings you cannot see

Listen to the hummingbird

Don’t listen to me

Só eindig Thanks for the Dance met “Listen to the Hummingbird” – ’n gedig wat Cohen voorgelees het op die laaste mediakonferensie voor sy dood. Gepaste, ontglippende groetwoorde vir ’n teësinnige profeet wat op onsigbare vlerke ontsnap het, maar sy volgelinge nooit om die bos gelei en steeds nie versaak het nie.

Topsnitte:

“What Happens to the Heart”

“Thanks for the Dance”

“Night of Santiago”

“The Goal”

“The Hills”

Meer oor:  Musiek  |  Leonard Cohen
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.