Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Collison onthou vir sy ‘ruim hart’ vir jong kunstenaars en gehore
Alvon Collison

“Hy het sy lig op almal laat skyn en het so baie omgegee vir sy gemeenskap.”

So het die sanger Amanda Strydom vir Alvon Collison gehuldig. Strydom voeg haar eerbetoon by dié van tientalle in die kunstebedryf, wat die afgelope naweek met leedwese gereageer het op die dood van die geliefde Kaapse vermaaklikheidskunstenaar.

Collison is Vrydagaand by sy huis in Milnerton naby Kaapstad oorlede. Hy sou in April vanjaar 80 word. Hy was ’n diabeet wat gereeld dialisebehandeling moes ondergaan.

“Hy het ’n groot ruim hart en het my met liefde en aanmoediging in my loopbaan ondersteun. Tientalle jong kunstenaars is deur hom gementor en onderskraag. Hy het vir so baie die pad aangewys en gehelp. Dan was hy Mr. Showbiz par excellence, hy het gesprankel. Hy het etlike jare lank gratis Kersvertonings in die Kaapse stadsaal aangebied. Hy laat so ’n groot leemte, hy was groter as die lewe self. Hy was so ikonies soos Dawn Lindberg.”

Elton John Duffy, hoof van die Lilliput Children’s Theatre Company beskryf hom as “ ’n legende en ikoon”. Hy het Collison in November 1993 by die V&A Waterfront ontmoet, waar Collison een van sy Kersvertonings aangebied het in die amfiteater.

“Dit was ’n reuseproduksie met ’n koor, orkes en Kersspel. Ek was stomgeslaan hoe hy al die mense kon beheer en nog die gehoor ook vermaak.” Duffy vertel dat hy elke aand hoendervel gehad het as “Collison met sy engelstem, almal gelei het om die Kersliedere te sing, mense kon die liedere van vér hoor”.

Duffy het Josef gespeel in dié Kersspel en hy onthou Collison se humorsin. Hy het met my geskerts dat hulle nie vir Maria ’n donkie kon kry nie “so jy sal haar moet abba!”.

Duffy het daarna gereeld saam met hom gewerk aan sy musikale huldeblykvertonings, Morning Melodies, in die Baxterteater in Rondebosch. “Hy kon die gehoor se aandag wen met sy pragtige glimlag en daardie engelstem. Hy was altyd mooi aangetrek vir die geleentheid in sy skitterblink onderbaadjies en mooi pakke. Ná die vertonings sou hy met die gehoor kuier en hulle bedank dat hulle kom kyk het en hom ondersteun het.”

Die sanger Alistair Izobell, ’n vriend van Collison, het op Facebook geskryf dat hy so dankbaar is dat Collison sy vriend was. “My hart sal altyd glimlag vir al die lesse, lagbuie, liefde, drukkies en stories van ons kuiers. You did it your way.” Collison, bekend as King of Cabaret en Mr. Showbiz, het gereeld vertonings vir Valentynsdag, Moeders- en Vadersdag aangebied en het ook dikwels vir liefdadighede opgetree. Sy jaarlikse, gratis Kersvertonings in die Kaapse stadsaal en Seepuntse gemeenskapsentrum het groot aftrek gekry.

Dit was in Muizenberg se gemeenskapsaal waar die teaterskepper en kunsjoernalis Rafiek Mammon die eerste keer vir Collison sien optree het.

“Kyk as daar ’n mikrofoon en ’n kollig was dan het hy perform. Dit was nie ’n ding van kyk na my of ’n aandagsoekery nie, hy wou gee van sy mensheid en hy kon mense so goed laat voel.”

Hierdie betrokke vertoning was vir Moedersdag en daar was ’n klompie bejaardes in die gehoor. “Dit was seker een van die beste shows wat ek nog bygewoon het, dit was die glimlagte op die mense se gesigte wat na Alvon gekyk het wat my aangegryp het. Hulle was so gelukkig en het die musiek en hom ooglopend geniet.”

Collison is in 2016 vir sy lewenswerk vereer met ’n Naledi, in 2017 met ’n Fiësta en in 2018 met ’n Fleur du Cap. Hy het vir meer as vyf dekades opgetree.

Hy word oorleef deur sy lewensmaat Faried Swartz en ’n suster, Novla, asook nefies en niggies.

Meer oor:  Musiek  |  Kaapstad  |  Alvon Collison
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.