Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Covid-19 eis ‘Noot vir Noot’-musikant (45)

Die baskitaar- en kontrabasspeler Jason Green, wat onder meer tussen 2003 en 2009 ’n lid van die Noot vir Noot-orkes, Die Musiekfabriek, was, is vroeg Saterdagoggend aan Covid-19 oorlede. Hy was 45.

Jason Green Foto: Facebook

Green se vrou, Bronwen, het die nuus in ’n Facebook-inskrywing bekend gemaak.

Sy het geskryf dat Green gesterf het in ’n hospitaal in Modderfontein, Johannesburg, net ’n klipgooi van die reservaat waar hy haar ’n paar jaar gelede die jawoord gevra het. Die paartjie is in 2016 getroud.

“Ek is so dankbaar dat ek my briljante man nog ’n laaste keer kon sien en aan hom kon vat, ook dat ek al sy (ander) naasbestaandes kon bel om hom ook te kom groet.”

Die begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.

Green het hom die afgelope kwarteeu gevestig as een van Suid-Afrika se voorste en mees veelsydige musikante en onderwysers.

Luidens ’n aanlyn profiel op marshallmusic.co.za het hy in 1995 ’n diploma in ligte musiek aan die destydse Technikon Pretoria verwerf.

Hy was van 1997 tot 2003 'n onderwyser aan die National School of the Arts in Johannesburg, en het ’n hand gehad in die stigting van die Campus of the Performing Arts (COPA) in Kensington, waar hy van 2004 tot 2011 lektor en later ook hoof was.

Hy het van 2012 tot 2016 aan die Academy of Sound Engineering gedoseer voordat hy ’n heeltydse loopbaan as musikant en eksaminator aan die Rockschool-musiekskool nagejaag het.

Green was as musikant ’n staatmaker in talle vertonings, soos Cabaret, Evita, Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat, Saturday Night Fever, Sister Act en The Rocky Horror Picture Show.

Hy was ook lid van orkeste wat musiek in TV-reekse soos The Voice SA (in 2016 en 2017), Dancing with the Stars South Africa (2018) en natuurlik ook Noot vir Noot gemaak het.

Johan Stemmet, skepper, vervaardiger en voormalige aanbieder van dié legendariese musiekreeks, sê hy sal Green altyd met die grootste deernis onthou.

“Hy’t ’n redelike lang skof in die reeks gehad – en hy was ’n fees, ook ’n briljante musikant!

“Hy’t ons verlaat omdat hy weens sy besige klasgee-program nie meer die opnames kon bybring nie.”

Stemmet sê benewens Green se talent sal sy “vreeslike humorsin” hom altyd bybly.

“In advertensiepouses het ons altyd ’n minuut of twee gehad om almal reg te kry vir die volgende sessie. Die orkes het mos alles lewend gespeel, en Jason was altyd gereed met ’n grappie waarmee ons die volgende skof kon begin.

“Ons het hom baie gemis toe hy ons verlaat het, en met dié ding wat nou gebeur het, sal ons hom soveel meer mis.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.