Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Covid-19: Optog! en Atterbury-teater stroom gratis konsert

Optog! en die Atterburyteater in Pretoria stroom Saterdag ’n gratis musiekkonsert op sosiale media ter ondersteuning van kunstenaars wat weens Covid-19 noustrop trek.

Die Atterburyteater in Pretoria.

Met sangers soos Coenie de Villiers, Amanda Strydom, Appel, Jak de Priester en Kevin Leo wil die Atterbury Trust en die Optog!-direksie ’n positiewe bydrae lewer met dit wat kunstenaars kan bied. 

“Verskeie kunstenaars sit nou sonder ’n inkomste,” sê Matthys Maree, wat in 2018 die Optog!-projek begin het wat musiek- en teaterproduksies na al die uithoeke van die land neem.

Coenie de Villiers

“Ons besef die druk waarin soveel verskillende bedrywe verkeer. Tweedens wil ons die begrip van ’n e-konsert bekendstel as ’n wonderlike tydelike alternatief tot tyd en wyl ons weer openbare vertonings mag aanbied. Niemand van ons weet hoe lank dit mag neem nie, maar dit beteken nie die bedryf hoef tot stilstand gedwing te word nie.”

Met die KKNK wat Saterdag aangekondig het dat die fees weens Covid-19 gekanselleer is en Optog! wat ook sy toere in Maart en April moes uitstel, het die direksie ’n groot verantwoordelikheid besef.

“Ons het die platform, die kundigheid en die kontakte om die kunstebedryf te ondersteun. Talle kunstenaars, tegnici, teaters en teatermakers het tans geen inkomste nie.”

Die Atterburyteater en Optog! moes baie vinnig rekenaarprogramme aankoop, asook voorsiening maak vir huur en vervoer.

Maree sê die rol van kunspraktisyns verval nie in uitdagende tye soos die ramptoestand wat die land in ’n wurggreep het nie.

Amanda Strydom

“Inteendeel, dit word belangriker. Die kunste moet ’n ligpunt kan bied en daarom kan ons nie ophou om oplossings te probeer vind nie. Ja, ons moes vinnig spring, maar dit is vir ons ’n voorreg om ons platforms te kan benut om hierdie projek te kan aanpak.”

Jak de Priester

Die konsert bestaan uit ’n keuse van elke kunstenaar se musiek.

“Dit is ’n gestroopte viering van ons taal en musiek en hoop om hierdie vreemde seisoen waarin ons ons bevind op te helder met ’n bietjie oorlewingsgees.”

Volgens Maree beraam baie mense planne om konserte te stroom.

“Dit is wel vir die publiek steeds ’n nuwe konsep en ons hoop om dit tydens hierdie e-konsert vir almal toeganklik te maak.

“Ons doen ’n beroep op die ondersteuning van die kunste in al sy vorme.”

Optog! en die Atterburyteater beplan verdere e-konserte op Saterdae.

Verdere inligting sal op hul sosiale media gedeel word.

“Ons wil dit duidelik stel dat hierdie nie ’n eksklusiewe of die enigste poging is wat die kunste ondersteun nie,” sê Maree.

“Talle kunstenaars en organiseerders werk aan soortgelyke inisiatiewe. Hierdie is bloot ons bydrae – ons is almal in dieselfde boot. Ons wil die publiek aanmoedig om projekte soos hierdie te ondersteun, hoe en waar dit ook al aangebied word.”

Die produksiespan wil eers mense gemaklik maak met die ervaring om konserte te stroom.

’n Fooi sal met latere konserte gehef word om die koste te dek, sowel as om die kunste en kunstenaars te ondersteun.

Die ander kunstenaars wat Saterdag optree is Coenraad Rall, Jannie Moolman, Appel en Ricus Nel.

* Die konsert begin om 19:00 en sal op Optog! en die Atterburyteater se onderskeie sosiale mediaplatforms beskikbaar wees.

Die skakels om te volg:

https://www.facebook.com/optogsa/

https://www.facebook.com/AtterburyTheatre/

Meer oor:  Optog!  |  Atterburyteater  |  Pretoria  |  Covid-19  |  Musiekkonsert  |  Stroomdiens  |  Korona-Virus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.