Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Covid-19 maak plaaslike deure vir opera-ster oop
Die Suid-Afrikaanse bariton William Berger is die solis in Mahler se ‘Rückertlieder’ uitgevoer deur die Kaapstadse Filharmoniese Orkes.

Die meetsnoere het op lieflike plekke geval vir die internasionale sensasie William Berger – oftewel ons eie Schalk Burger*.

Dié Suid-Afrikaanse bariton begeer al jare lank om Mahler se Rückert-Lieder met 'n orkes te sing nadat hy dit die afgelope tien jaar talle kere met klavierbegeleiding uitgevoer het.

Was dit nie vir die Covid-19-pandemie wat dié internasionale operasanger in Suid-Afrika vasgekeer het nie, sou hy nie die geleentheid gekry het om die Lieder saam met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes (KFO) te sing nie.

Berger is die solis in die eerste konsert van die KFO se Autumn Cyber Symphonies, wat vandeesweek gestroom kan word.

Dit is dieselfde “ongelukkige” pandemie wat hom selfs meer optreekanse bied, want, sê hy, as sy vlug terug Londen toe nie gekanselleer is nie, sou hy geen werk gehad het nie. Al die Britse teaters is nog gesluit.

Aangesien hy tans naby sy ouers in Kaapstad woon, is hy ook gerieflik naby om die rol van Zurga in Bizet se opera Les pêcheurs de perles (Die pêrelvissers) vir Kaapstad-opera in te studeer en was hy beskikbaar vir ’n kykNET-opname van die Vespro della Beata Vergine (Vespers vir die heilige maagd) van Monteverdi. Hy het ook sy eerste openbare optrede voor ’n gehoor op die Quoin Rock-wynlandgoed gegee.

Die dirigent Bernhard Gueller.

Onderhandelinge is aan die gang vir meer konserte en dié vooruitsig tesame met sy gevoel dat Covid-19 nog ’n geruime tyd met ons gaan wees, het Berger laat besluit om vir die afsienbare toekoms in Suid-Afrika te bly.

Terug by die Mahler-toonsettings.

Berger sê Friedrich Rückert se gedigte, getoonset deur Mahler, is nie ’n siklus nie. Dit is onafhanklike verse wat dus ook nie in ’n bepaalde volgorde uitgevoer moet word nie. Die sanger kan kies hoeveel van die liedere hy wil sing en in watter volgorde.

Berger begin met “Ich atmet’ einen linden Duft” gevolg deur “Blicke mir nicht in die Lieder”. “Ich bin der Welt abhanden gekommen” is volgens hom die hoogtepunt, daarom staan dit in die middel.

Hierna volg “Liebst du um Schönheit” en ter afsluiting het hy “Um Mitternacht” gekies, “omdat dit hoop verkondig”.

Bernhard Gueller is op die podium voor die KFO met ook Brahms se Simfonie nr. 4.

Op wêreldverhoë

Berger is meer bekend in Europa en die VSA as Suid-Afrika omdat hy net ná sy matriekeksamen aan die St. Andrew’s-seunskool in Bloemfontein Londen toe vertrek het om aan die Royal Academy of Music te studeer. Hy het nog nie eens sy voete daar mooi gevind nie, toe Europese operahuise en feeste hom reeds rolle begin aanbied het.

So druk was sy program dat hy nie eens sy eie gradeplegtigheid kon bywoon nie. Hy het in daardie stadium in die Aix-en-Provence-fees in die suide van Frankryk opgetree.

Berger het min twyfel gehad oor ’n loopbaankeuse. Hy was maar 11 jaar oud toe hy sy buiging in die Mozart-opera Die Zauberflöte in Pretoria gemaak het. In 1990 het hy by die Drakensbergse Seunskoor aangesluit en toe hy op 17 jaar die Deon van der Walt-beurs wen en ’n volle beurs van die RAM ontvang, was sy pad vorentoe vir hom geplavei.

Hy het in die afgelope sowat 20 jaar al die baritonrolle vir ’n jong stem in Europese operahuise gesing.

“Ek het baie geflankeer en baie vroue op die verhoog gesoen, maar noudat ek 40 geword het en my stem meer volwasse klink, kry ek die statiger rolle soos dié van konings.”

Berger sê 2019 was sy beste jaar tot nog toe.

“Ek het twee loopbaandoelwitte bereik – om as solis in die Kennedy Center in Washington saam met die National Symphony Orchestra op te tree en om my debuut in die Royal Opera House in Londen se Covent Garden te maak.”

In Februarie verlede jaar het hy nog Marcello in Puccini se opera La Bohème vir Kaapstad-opera gesing voordat hy teruggekeer het na sy tuiste in Londen.

“Ek moes vir twee nuwe produksies vir die Internasionale Handelfees in Göttingen in Duitsland voorberei, waar ek die afgelope 20 jaar die gaskunstenaar is en nuwe werke vir my jaarlikse VSA-toer instudeer,” vertel hy.

“Toe breek die pandemie uit, alle konserte word afgestel en my vol dagboek van die afgelope 30 jaar is eensklaps leeg. Soos die meeste kunstenaars moes ek ook ander planne maak. Ek het kos gemaak en gebak, ’n wynproeklub op Zoom gestig en aanlyn speletjiesaande gereël.”

Maar met die eerste vlug wat hy Suid-Afrika toe kon kry, in Oktober verlede jaar, het hy huis toe gekom om by sy familie te wees.

Dit is hier op tuisbodem dat die meetsnoere nou vir hom reg val en waar hy dalk net so ’n bekende naam soos in die buiteland kan word mits hier genoeg optreegeleenthede gebied word.

* 20 tot 24 Mei: KFO met William Berger (solis). Rückert-Lieder deur Mahler en Brahms se Simfonie nr. 2.

* 27 tot 31 Mei: Nina Schumann voer Rachmaninof se Klavierconcerto nr. 2 saam met die KFO uit; Simfonie nr. 2 van Tsjaikofski sluit die program af.

* 3 tot 7 Junie: Orkeskonsert met Brahms/Haydn se Variationen en Dvorak se Simfonie nr. 7.

Gueller dirigeer al drie konserte in die Autumn Cyber Symphonies-reeks.

Besprekings: quicket.co.za/events/135831-autumn-cyber-symphony/.

Volledige programme kan op die KFO-webwerf by www.cpo.org.za gelees word.

* Die naam Schalk Willem Burger was vir die Britte een te veel.

“Hulle het my Chalk genoem of Sulk en ek kon net dink hoe ’n opera-resensent op ’n dag skryf: ‘Mnr. Burger se optrede sou meer tuis gewees het in ’n McDonald’s as op een van die wêreld se operaverhoë.’ Ek wou nie daardie kans waag nie, so toe besluit ek op die verhoognaam William Berger."

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.