Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Crescendo sing aanlyn voort in ‘nuwe woning’
Só lyk die ATKV-Crescendo-projek se nuwe logo, wat ná ses jaar aangepas is.

Die bestuur van die ATKV-Crescendo-projek het ’n nuwe aanlyn tuiste, bekend as die Crescendo-woning, geskep om aspirantliedjieskrywers te ondersteun wat vanjaar vir die projek wil inskryf.

ATKV-Crescendo soek reeds sedert 1974 jaarliks na van die land se beste aspirantliedjieskrywers en bied aan hulle ’n platform waarmee hulle hul liedjieskryf- of sangloopbaan vlerke kan gee. Die sangers Anneli van Rooyen, Randall Wicomb, Anna Davel en Jak de Priester het onder andere almal aan die begin van hul loopbaan op die ATKV-Crescendo-verhoog koning gekraai en sedertdien van Suid-Afrika se blinkste sterre geword.

Volgens Morné van Staden, ATKV-Crescendo se organiseerder, duur dié soektog ondanks die Covid-19-pandemie vanjaar voort – en begin dit met hul nuwe aanlyn woning.

“Crescendo-woning is die tuiste wat ons skep vir mense wat aan die projek wil deelneem,” sê Van Staden.

“Dit is ’n plek waar ons belê in mense en hul menswees en dit is ’n veilige tuiste waar liedjieskrywers hulleself kan wees, hulleself kan vind en ’n plek waar ons na hulle en hul musiek luister – ook musiek wat nie noodwendig deur ander platforms verwelkom word of waar daar vir hulle ’n geleentheid gebied word nie.”

Die Crescendo-woning behels onder meer ’n reeks tutoriale wat weekliks vanaf 22 Mei op Facebook, Instagram en YouTube gestroom word om aspirantliedjieskrywers kundige hulp en praktiese raad te gee.

“Dit dien ook as platform waar ons die projek bemark en natuurlik graag soveel as moontlik liedjieskrywers wil aanmoedig om in te skryf,” sê hy.

“Ek moet ook noem dat ons glad nie meer na ’n ‘kompetisie’ verwys nie, want hierdie projek word aangebied om aan almal ’n geleentheid te bied – niemand kompeteer met mekaar nie. Ons is nie talente gegee om teen mekaar te kompeteer nie, maar om mekaar daardeur te verryk.”

Hy sê die huidige span sangers en liedjieskrywers wat Crescendo-woning se eerste reeks tutoriale aanbied, sluit in Herman Kleinhans, Deon Meiring (Glaskas/Dans Dans Lisa), Danie du Toit (Spoegwolf), Rumacques Gelderbloem (Oxijin) en Robin Fourie (Die Hooflig).

Inskrywings vir vanjaar se ATKV-Crescendo-projek open op 22 Junie. Hoewel daar weens die pandemie en die staat van inperking nie vanjaar soos in die verlede oudisies in verskillende stede sal wees nie, sê Van Staden dat hulle met ’n digitale formaat eintlik tot nog meer in staat is.

“Die pandemie se invloed (op die projek) is eintlik net positief, want ons kan meer mense deur opleiding bereik, meer mense kan inskryf en ons kan ook meer mense met musiek bereik wat ons in die volgende jaar gaan bekend stel,” sê hy.

“Inskrywings sal vanjaar op verskeie digitale platforms – selfs WhatsApp – ingedien kan word. Nadat dit beoordeel is, sal ’n groep deelnemers gekies word om aan ’n digitale mentorprogram deel te neem.”

Inskrywingsvorms en die spesifieke bepalings en voorwaardes sal teen 16 Junie op ATKV-Crescendo se Facebook-blad en op die ATKV se webwerf by atkv.org.za, beskikbaar wees. Vrae kan per e-pos na crescendo01@atkv.org.za gestuur word.

Meer oor:  Atkv  |  Musiek  |  Jak De Priester  |  Randall Wicomb
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.