Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
‘Daar is min neutrale liedere in Suid-Afrika’

Die nuus dat die 1838-Gelofte deur Johan Vorster en Christoph Kotzé getoonset is, het uiteenlopende reaksie by kommentators uitgelok.

Dit is nie ’n proteslied nie, maar ’n aangrypende lied wat wye aanklank onder Afrikaners gaan vind, meen dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK wat Vorster later vanjaar vereer vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek. Die FAK steun dié toonsetting Vorster het vroeër die lied vir Langner gespeel.

Dr. Danie Langner

“Dit is ’n verwerking van die oorspronklike woorde van die 1838-Gelofte. In die gees van die Gelofte sou dit selfs as ’n gewyde, of geestelike lied beskryf kan word.”

Langner meen daar is deesdae min dinge in Suid-Afrika wat nie omstrede is nie en wat nie “’n koor van anti-Afrikaner protes tot gevolg het nie”.

Voorts meen hy dat die 1838-Gelofte vir baie Afrikaners steeds kosbaar is.

“Dit moet ’n mens respekteer. Natuurlik het die 1838-Gelofte in ’n spesifieke historiese konteks ontstaan, maar in die 180 jaar sedertdien het die Gelofte in verskillende historiese kontekste verskillende betekenisse gehad.

“Die Gelofte is vir die meerderheid Afrikaners lankal nie meer ’n wit-swart saak of ’n politieke standpunt nie. Afrikaners herdenk deesdae die Gelofte as ’n belydenis van afhanklikheid, met ’n fokus op die vestiging van die kerk en verspreiding van die Evangelie.

“Op die meeste Geloftedagvieringe op 16 Desember word geen politieke toesprake eens toegelaat nie. Die Gelofte word herdenk met ’n erediens en ’n saamkuier van familie en gesinne.

Langner meen Suid-Afrikaners moet oor sake, soos die Gelofte begin ontspan en dat daar “met ’n gesindheid van wedersydse respek vir mekaar die ruimte gebied moet word om kultuur en diversiteit singend te vier”.

“Die Grondwet gee tog ruimte hiervoor.”

Dit is die opwarming van ’n primêre Afrikaner-nasionalistiese mite en is meer as net ’n deursigtige poging om geld uit nostalgie oor “vergange wit oppergesag te maak”, meen prof. Christi van der Westhuizen, skrywer van Sitting Pretty – White Afrikaans Women in Postapartheid South Africa.

Prof. Christi van der Westhuizen

“Dit is ’n kulturele vergestalting van die huidige stryd oor die inhoud van Afrikaner-identiteit. Om dié woorde in 21ste eeuse, demokratiese Suid-Afrika as ’n lied te probeer herpopulariseer, is ’n poging om ’n slag te slaan vir ’n spesifieke segment van Afrikaners. Hierdie is naamlik Afrikaners wat ’n patriargale witheid, gerugsteun deur ’n eng lees van die Bybel, probeer herstel in hul eie gemeenskappe, huishoudings en in daardie instellings (kerke, skole en universiteite) waar Afrikaners in beduidende getalle voorkom. Gelukkig verteenwoordig hierdie tendens slegs een van talle Afrikanerposisies vandag.”

Die akademikus Andries Bezuidenhout, wat hier in sy hoedanigheid as Afrikaanse digter en sanger kommentaar lewer, het gesê niemand het die reg om aan ander voor te skryf wat hulle mag toonset en sing nie.

Andries Bezuidenhout

“Niemand behoort die reg te hê om ander kunstenaars te sensureer nie. Aan die ander kant moet ’n mens seker dink aan die impak wat dit op ’n baie sensitiewe saak – grondbesit – in ons land kan hê. Gaan die lied bydra tot ’n oplossing, of petrol op die vuur gooi?”.

Daar is min liedere in Suid-Afrika wat neutraal is, meen dr. Leslie van Rooi, senior direkteur: sosiale impak en transformasie aan die Universiteit Stellenbosch.

“Daar is ook geen lied wat ons sing wat sonder konteks is nie. Gegewe ons geskiedenis beteken dit dat die liedere wat ons sing bepaald anders (kan) land by mede Suid-Afrikaners wat nie ons geskiedenis en dalk ook nie ons kultuuragtergrond deel nie.

“Moet ons hierdie liedere sing? Niks verhoed ons seker nie. Maar ons moet ook weet dat dit ’n effek kan hê anders as ons bedoeling en dalk anders as wat ons vermoed het.”

Van Rooi meen ook ’n mens moet nie kultuurgeskiedenis oorromantiseer nie.

Dr. Leslie van Rooi

“Ons moet juis die nuanses van die geskiedenis probeer uitwys in ons hedendaagse kommentaar. Dit geld veral liedere met ’n sterk Christelik-nasionale sous en liedere wat direk teenoor mede-Suid-Afrikaners gesing word. En ons land is daar vele voorbeelde vanuit verskillende groepe.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.