Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Dacus-album tref soos kortverhale
Lucy Dacus Foto: Ebru Yildiz

Die 26-jarige Lucy Dacus se jongste album, ‘Home Video’ – grootword-memoires in 11 akute snitte – is haar beste, skryf Danie Marais. Hy ken vier sterre aan die album toe.  

Lucy Dacus sê sy het op sewe obsessief begin dagboek hou – nie omdat sy geheime gehad het nie, maar omdat sy geheime wou hê. Sedertdien het sy geleer om liedjies te skryf wat so vertroulik soos dagboekgeheime voel.

Op haar eerste twee albums – No Burden (2016) en Historian (2018) – het sy beïndruk met skerp, self-ironiese karaktersketse en roerende ballades oor verpletterde liefde, soos die uitstaande “Night Shift”.

Die stof en inspirasie vir Home Video het sy gaan haal uit die joernale waarin sy tussen die ouderdomme van sewe en 17 koorsig haar ervarings in die voorstede van Richmond, Virginia, neergepen het.

Die eindresultaat is die beste album wat die 26-jarige Dacus nóg gemaak het – grootword-memoires in 11 akute snitte wat tref soos kortverhale en tweesnydende nostalgie.

Dacus het haar jongste reeds grotendeels in 2019 opgeneem, maar toe slaan Covid-19 toe en sy word so deur depressie en angs lamgelê dat sy nie kans gesien het om hierdie diep persoonlike liedjies verlede jaar uit te reik nie.

Haar huiwering is verstaanbaar. Van die liedjies op haar jongste verken intieme verleenthede waarin sy nie net haarself blootstel nie. Sy meen egter hierdie radikale eerlikheid was die enigste manier om vrede te maak met haar jeug as gelowige tiener in ’n charismatiese kerk wat geworstel het met ontluikende begeerte, haar selfbeeld en die gewaarwordinge dat sy ook tot haar eie geslag aangetrokke is.

Die omslag van Lucy Dacus se jongste album, ‘Home Video’.

In die sewe minuut lange slotsnit, “Triple Dog Dare”, sing sy subtiel oor ’n verliefdheid wat sy eers by terugskoue werklik aan haarself kon toegee: “Your mama read my palm / She wouldn’t tell me what it was she saw / But after that, you weren’t allowed to spend the night / I’m staring at my hands / Red ruddy skin, I don’t understand / How did they betray me? What did I do? / I never touched you how I wanted to.”

Ander ballades is romantiese tragikomedies met onthutsende gewaarwordinge.

In “VBS” (’n afkorting vir Vacation Bible School) vertel sy van die ou wat mal was oor Slayer, neutmuskaat gesnuif het en vir haar vrot poësie geskryf het. Sy het hom probeer bekeer en hy was versot op haar, maar ten slotte bely sy: “You said that I showed you the light / But all it did in the end / Was make the dark feel darker than before.

“Brando” gaan oor ’n neerbuigende mentor wat haar wou leer van klassieke ou flieks, maar haar nie as romantiese opsie beskou het nie: “You called me ‘cerebral’ / I didn’t know what you meant / But now I do / Would it have killed you / To call me pretty instead?

Daar is ook rouer snitte wat donkerder hartsnare roer. In “Thumbs” fantaseer die verteller oor moorddadige wraak op ’n vriendin se ellendige pa. “Going Going Gone” is ’n kampvuur-elegie gewy aan ’n Daniel wat van destyds se sagte, onbeholpe vryer in ’n nare vent verander het. “Please Stay” is ’n teer appèl aan ’n vriend om nie hand aan eie lewe te slaan nie.

In albei laasgenoemde liedjies word sy met sielvolle samesang ondersteun deur Phoebe Bridgers en Julien Baker saam met wie sy in 2018 as die trio Boygenius ’n hoogaangeskrewe kortalbum uitgereik het.

Van al hierdie stories maak Dacus hoogs aansteeklike indie-rock en folkpop wat sy begelei met ’n stem soos ’n sagte, skewe glimlag gerig op jou alleen. Die enigste growwe oordeelsfout op die album is die gebruik van AutoTune vir “Partner in Crime” wat klink soos ’n rekenaarvirus in die keel en ’n onnodige poging om meer kontemporêr te wees.

Home Video is uiteindelik ’n warm uitnodiging om jou jonger verwarde self te vergewe en daardie verlede te koester. Die toekoms is, soos sy in “Cartwheel” sing, niks meer as ’n welwillende swart gat in die sterre nie.

Sleutelsnitte:

“Hot & Heavy”

“Christine”

“VBS”

“Going Going Gone”

“Brando”

Meer oor:  Musiek  |  Danie Marais
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.