Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
Damrau bekoor in ‘La traviata’
Diana Damrau in die rol van Violetta in Verdi se La traviata vir die Metropolitan-operahuis in New York. Foto: Marty Sohl/Metropolitan Opera

Diana Damrau se Violetta is intens liries in dié weergawe van Verdi se La traviata skryf Paul Boekkooi. Hy ken vier sterre toe aan dié opera-rolprent wat in Cinema Nouveau-teaters vertoon word.

Konsepsioneel is hierdie jongste Met-Traviata binne ’n droom gehul, met oorgenoeg realisme onaangetas om nie kykers te verwar of te mislei nie.

Michael Mayer se regie- en ontwerpkonsep is totaal anders as byvoorbeeld Willy Decker se relatief onlangse, meer minimalistiese benadering vir dieselfde operahuis. Visuele simbolisme en metafore het by Decker van bedrewe oorspronklikheid getuig.

Christine Jones se vernuftige verhoogontwerp plaas hier Violetta se bed sentraal in al die tonele. Reeds in die eerste bedryf se Prelude is sy aan haar sterwensbed gekluister.

Myns insiens so ietwat oordadig realisties.

Mayer se relatief onlangse Rigoletto, wat in ’n 1960’s in Las Vegas geplaas was, het konserwatiewe gehore laat murmureer.

Sy Samson et Delila, vroeër dié seisoen, was ’n deels onbetrokke en deels melodramatiese deurmekaarspul wat as ’n epos moes deurgaan, maar skaars enige karakterbetrokkenheid kon uitstraal.

As iemand wat sy naam met Broadway-produksies gemaak het, bly sy operaproduksies so ietwat vreemd. Hier is sy karakterregie wél op ’n hoogs persoonlike en naturalistiese peil wat ’n verligting is, maar helaas deur ’n oordeelsfout bederf word.

Mayer voeg ’n jong “stil” aktrise by die reeds bestaande karakterlys by. Sy is die jonger suster van Violetta en maak haar spookverskynings in die tweede en derde bedrywe. Nie Verdi, sy librettoskrywer, Piave, of die verhoogstuk van Alexandre Dumas, La Dame aux Camélias waarop La traviata gegrond is, regverdig so ’n insluiting nie.

Gelukkig steun die sukses van ’n opera, al dan nie, altyd meer op die vakmanskap en kommunikasie tussen die dirigent, sy orkes, die sangers, koor en in dié geval ook die dansers in die tweede bedryf se besonder energieke balletinvoegsel, met erotiese ondertone.

Yannick Nézet-Sénguin het, as slegs die derde Met-musiekdirekteur, van meet af aan sy hele wese op die polsslag van hierdie oorwegend ligvoetige tragedie gefokus. Die immer veranderlike musikale stemmings wat so tipies die geaardheid van Verdi weerspieël, was altyd en bowendien hoogs genuanseerd in plek.

Damrau se tuberkuleuse Violetta Valéry is as karakter emosioneel diepgaande. Sy demonstreer dit dinamies met ’n intense vokale frasering en toonkleurvariasies. Vir haar, op 47, is blote akrobatiese stemgebruik iets van die verlede. In die plek daarvan is daar nou ’n intens liriese belewing.

As haar minnaar, Alfredo Germont, bied die Peruviaanse tenoor Juan Diego Flórez vir ons ’n afgeronde karakter, met veral ’n paar oortuigende dramatiese konfliktonele. Wat hy wel merendeels ontbreek, is die tipies Verdiaanse Italianità in temperament en stemkleur.

Die Amerikaanse Quinn Kelsey met sy rype baritonstem in die rol van Giorgio Germonttereg, klink tereg vaderlik. Kelsey ken sy vak deur en deur en is in ’n kragtige sin ook simpatiek teenoor Violetta.

Uiteindelik oorheers die dirigent se immer detailryke en intense uitstraling. Persoonlik beskou, is dit veral die intimiteit wat die sterkste uit sy interpretasie spreek en bewys hoe naby dié opera nog aan Rigoletto verwant is.

Met Diana Damrau, Juan Diego Flórez, Quinn Kelsey e.a. Regie: Michael Mayer. Dirigent: Yannick Nézet-Sénguin. Tydsduur: 212 minute (twee pouses ingesluit). Tot 23 Januarie.

Meer oor:  New York
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.