Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Musiek
‘Danger in Dark’ net nie woedend genoeg
Rushney Ferguson in Danger in the Dark. Foto: Jesse Kramer

Danger in the Dark

Musiekspel, Baxter-teater, Rondebosch

***

’n Mens skuif altyd met genoegdoening reg vir ’n nuwe musiekspel van David Kramer. Dink maar aan sy grotes, Kat and the Kings en District Six saam met Taliep Petersen – dit is vir seker topvermaak, jy beleef die wonder van nuwe talent, die musiek en dans voer jou voetkloppend mee terwyl die diep mensestorie met jou hart praat.

Dit geld ongelukkig nie heeltemal met sy jongste, Danger in the Dark, nie. Dit is ’n verwerking van hul Poison wat in 1992 opgevoer is – hier met ’n nuwe invalshoek. Dit speel op die Kaapse Vlakte af waar bendes en dwelmbase die hef in die hand het – dink maar aan enige sosiale euwel, dit ondergrawe die lewe se gang hier. Die uitskot en slagoffers is vroue en kinders.

Een van die karakters is verlam met ’n dwaalkoeël. Hierdie verskriklike gegewe staan daagliks in koerantopskrifte.

Die verhaallyn beeld die vriendskap tussen die maatskaplike werker Pamela en Juanita, die dwelmbaas Michael se vrou, uit en ook die dwelmverkoper Poison wat sy ding doen en ’n besorgde ma wat kloek om haar jong seun wat deur Poison bearbei word om ook met dwelms ’n lewe te maak. Dwelms word as die kaartjie na geld en ’n beter lewe verkoop. Daar is ook ’n bietjie van ’n liefdesverhaal en ’n skeutjie humor hier en daar.

In die langer eerste helfte leer ons die karakters ken; eers in die tweede helfte tel die storie werklik spoed op en word dan netso ontknoop voor jy weet wat gaan vir wat. Pamela, gespeel deur ’n vurige Alexis Petersen, probeer haar bes om Juanita (Rushney Ferguson) te oortuig om haar man, die dwelmbaas Michael, te los. Die lot van ’n vrou wat deur haar man mishandel word wat haar drome stuit, is die tweede sterk storielyn. Die aktrises se duet waar Pamela haar vriendin smeek om haar man te verlaat, het soos koue vingers oor ’n mens se ruggraat gestryk.

Die dialoog, liedjies en dansreekse kom mak voor en nie naastenby getrou aan die ware aktualiteit (dwelms en mishandeling van vroue en kinders) van dit wat uitgebeeld word nie. Ons lewe in ’n tyd van grootskaalse protes en verset – nie net hier in SA nie, maar ook oorsee. Teatergangers is vertroud met daardie beelde van ’n burgery wat skreeu: Genoeg!

Wat pla is dat die stuk net nie woedend genoeg is nie, gegewe die onderwerp. Die dialoog, liedjies en dansreekse kom mak voor en nie naastenby getrou aan die ware aktualiteit (dwelms en mishandeling van vroue en kinders) van dit wat uitgebeeld word nie. Ons lewe in ’n tyd van grootskaalse protes en verset – nie net hier in SA nie, maar ook oorsee. Teatergangers is vertroud met daardie beelde van ’n burgery wat skreeu: Genoeg!

Toe die ensemble in opstand kom met slagspreuke soos “Down with Drugs”, makeer daardie briesende woede. Gemeenskappe, families en lewens word daagliks tog daardeur verwoes? Waar is die juiste gevoelswaarde, ’n mens soek siedende slange. Ditto die latere omwenteling wat lig werp op vroue in gewelddadige verhoudings.

Die teaterganger weet net nie genoeg van die dwelmbaas Michael nie – hy dool rond verlore in sy agterdog en magswaan. Loukmaan Adams word dus nie kans gegun om meer as ’n stereotipe te wees terwyl hy die groot bedreiging is en eintlik nóg ’n slagoffer is in die siklus nie. Elton Andrew se Poison is in die kol, maar kon nog venyniger wees.

Danger in the Dark behoort aan die twee vroue Petersen en Ferguson – hul spel en sang is die sterkpunt van die musiekspel. So ook die stel, inkleding en kostuums, met bykomende heerlikheid die videokuns van Kristi Cummings.

Tot 2 November.

Meer oor:  David Kramer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.